Dalk het jy ook al hierdie teks in Spreuke 13:3 gelees: “Wie sy mond in bedwang hou, behou sy lewe; wie sy mond nie kan hou nie, gaan sy ondergang tegemoet.”
Dit het my laat nadink oor die vraag: Hoe praat ons met mekaar? En wat sê die manier hoe ons met en oor ander praat, van onsself?
Ek mis soms ’n stuk deernis en respek in die manier waarop ons met mekaar en oor mekaar praat. Wanneer ons in ander die beeld van God sien, moet dit tog ’n invloed hê op hoe ons praat en wat ons vir mekaar en van mekaar sê. Maar meer as dit: as Jesus in ons leef, moet die vrug van die Gees (liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing) tog ook blyk uit die manier waarop ons praat.
Jakobus skryf ook oor hierdie saak. Hy sê ons woorde kwets nie net ander nie, dit besoedel onsself ook. In Jak 3:5-6 sê hy:
“5So is die tong ook maar ’n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag.
’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek. 6Die tong is ook ’n vuur, ’n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek.”
Daarom help die perspektief wat iemand al vir my gegee het oor ’n belediging, my baie: dit sê meer van die een wat die belediging gegee het, as van die een vir wie dit gesê is. In die woorde van die Spreuke-digter: As ons nie ons mond in bedwang hou nie, besmet ons onsself en doen ons onsself skade aan.
In Psalm 15:1-3 lees ek hierdie treffende woorde:
“Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here? Wie mag op u heilige berg vertoef? Hy wat onberispelik wandel en doen wat reg is, wat met sy hele hart die waarheid praat, nie kwaad praat nie, sy medemens nie kwaad aandoen nie en niemand beledig nie …”
En Paulus se raad in Kol 4:6 (OAV) is ook van toepassing:
“Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord.”
Dís hoe ek wil praat!