Here Jesus
In hierdie dae word ons weer in verbystering stil voor u liefde: dat U gekom het na die wêreld toe om te sterf. Ons is verbysterd daaroor, Here, want dis nie soos ons is nie. Dankie dat U nie soos ons is nie, Here. Dankie dat U Uself gegee het tot in die dood. Dankie dat U ons Verlosser geword het.
Ons aanbid U, Here Jesus, Koning van die kerk en van ons lewens. Wil U tog in hierdie dae opnuut Uself aan ons verbind; wil U ons asseblief deur u Heilige Gees verander dat ons soos U kan word, U kan navolg, onsself kan aflê. Word U tog meer in ons, Here Jesus, sodat dit nie meer ons sal wees wat lewe nie, maar U in ons!
O Seun van God wat gekom het om u lewe vir ons af te lê, hoor ons gebed!Skenk ons die visie, o Vader, om soos U na die wêreld te kyk. Om nie die wêreld te sien as ’n probleem nie, maar as mense wat u liefde en u genade nodig het, mense wat iewers langs die pad die spoor byster geraak het, sodat U in Christus Jesus hulle weer kom soek het. Vergewe ons dat ons net dié liefhet wat vir ons liefhet, dat ons net vir hulle bid wat naby ons staan, dat ons tevrede is om met ons eie klein kringetjie gelowiges voort te gaan.
O Vader wat nie behae het in die dood van die sondaar nie, maar daarin dat hy hom bekeer en kan lewe, hoor ons gebed!En nou, o Gees van God, bid ons dat U in ons sal werk, sodat Christus in ons lewens verheerlik sal word. Verander ons, dat ons hoe langer hoe meer soos Jesus sal word. Bly met ons besig, o Gees, totdat die dag kom waarop elke knie voor Christus sal buig en elke tong sal bely: Jesus is Here!
Dit vra ons alles met die gebed dat U verheerlik sal word in ons.
Amen.