Die meeste van ons ken dit: daardie gevoel van moedeloosheid en selfs hooploosheid, tye wanneer dit vir ons lyk die Here gee nie om wat van ons word nie. Die dissipels het by geleentheid, toe hulle bang was hulle skuit gaan in ’n storm vergaan, die Here Jesus verwyt (Markus 4:38): “Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?”
Jy bid en pleit en soebat, maar dit voel vir jou die Here slaap, of stel nie belang nie, of hoor jou eenvoudig nie, want niks verander nie; die krisis bly deel van jou lewe.
Paulus is die enigste skrywer in die Nuwe Testament wat vir ons iets van sy persoonlike lewe vertel. In 2 Korintiërs 12:1-10 skryf hy dat hy nie iemand is wat te koop loop met sy prestasies of geestelike ervarings nie, al het hy baie rede gehad om te spog. Hy wil liewer oor sy swakhede praat, skryf hy in vers 5. En dan, in vers 7, sê hy: “Daarom, om te keer dat ek opgeblase word, en sodat ek nie hoogmoedig mag word nie, is daar vir my ’n doring in die vlees gegee, ’n engel van Satan, om my met die vuis te slaan.”
Ons weet gelukkig nie wat dié doring was waarvan Paulus skryf nie. Gelukkig, want nou kan ons elkeen ons eie persoonlike doring(s) in hierdie vers inskryf; dit wat ons pynig en kortwiek en moedeloos maak, of radeloos en stukkend. En dan kan ons ook die antwoord wat die Here in vers 9 vir Paulus gegee het, ons eie maak: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.” Paulus se gevolgtrekking was (vers 10): “Ter wille van Christus verheug ek my in swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede; want wanneer ek swak is, juis dan is ek sterk.” God laat toe dat hierdie goed met ons gebeur sodat ons as ’t ware uit die pad van sy werk kan staan en Hy sy werk deur ons kan doen, soos Paulus in 4:7 skryf: “Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.”
Johannes die Doper het iets hiervan verstaan toe hy van Jesus gesê het: “Hy moet meer word, maar ek minder” (Johannes 3:30). Dis eg menslik om belangrik in jou eie oë te wil wees; om die aandag op jouself te wil vestig, of minstens te verwag dat jy so ’n bietjie gepamperlang moet word. Maar só is ons nie so erg bruikbaar in die Koninkryk nie. Dis nie óns wat belangrik moet wees nie, maar die Here Jesus; dit gaan om Hóm. Die stampe en stote en storms en (skynbaar) onbeantwoorde gebede is alles deel van die snoeiwerk waarmee die hemelse Wynboer besig is om ons te snoei sodat sy krag deur ons kan vloei en ons meer vrug kan dra (Johannes 15:2).
Nee, God slaap nie en Hy het nie van jou vergeet nie! Op ’n manier wat ons nie verstaan nie, is Hy juis midde-in die doring in jou vlees teenwoordig om jou te vorm. Daarom kan ons saam met Paulus (Romeine 8:28) uitroep: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”
Views: 9