Waar is God as ek Hom nodig het? Hoekom sien ek Hom dan nie? Johannes sal vir jou sê: Omdat jy op die verkeerde plek, of op die verkeerde manier, na God soek. Want al is dit so dat ons God nie kan sien in hierdie wêreld nie, is Hy nie afwesig nie, en kan Hy nie vermy of afgeskakel word nie. Want, sê Johannes, Hy word sigbaar en hoorbaar deur óns, sy kinders, as ons liefhet (1 Joh 4:12).
Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.
Dít is ons roeping in hierdie wêreld: om God sigbaar te maak vir hulle wat Hom andersins nie kan sien nie. Want God wíl gesien kan word. Hy wíl geken word. Hy wíl hê die hele wêreld moet weet hoe lief Hy ons het, hoe betrokke Hy by ons is, hoe Hy vir die wêreld sorg.
Het jy al gewonder hoekom daar ’n wêreld is? Hoekom ons hier is? God het mos nie nodig gehad om alles te maak nie! Hy kon mos lekker daar in die hemel gebly het sonder al die moeite van ’n skepping wat Hy moet onderhou, en (veral!) mense met wie Hy moet sukkel. Die antwoord is: God is liefde. Dit is in sy wese om lief te hê, en daarom móés Hy die wêreld maak, sodat ons daarop kan wees, sodat Hy ons kan liefhê. En toe die mens die rug op Hom gedraai het, het Hy nie gerus nie, totdat Hy ons teruggewen het en die mens weer met Homself versoen het. Daarom het die Seun van God mens geword. God se liefde het Hom aarde toe gedrywe, om ons te kom red. God het die wêreld so lief gehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Joh 3:16).
Jy en ek is hier, omdat God liefde is, omdat Hy liefhet. Omdat die lewe sonder ons vir Hom ondenkbaar is. Daarom het Hy ons gemaak, en kom red. En daarom het die Seun van God mens geword en onder ons kom woon; omdat God se liefde Hom uitdryf na ons toe, omdat Hy by ons, sy geliefdes, wil wees, in ons wil woon, elke dag.
Natuurlik, as jy God se kind is en God deur sy Gees in jou woon, kan jy nie dieselfde bly nie. Dan begin jy hoe langer hoe meer soos Jesus lyk, soos God lyk, soos Hy dink, soos Hy optree – dan begin jy hoe langer hoe meer ook, soos Hy, liefhê. Begin sy liefde jou ook uitdryf na ander toe.
Paulus het in 2 Korintiërs 3:18 só daaroor geskryf:
Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.
En só word God sigbaar in hierdie wêreld. In jou en my lewe, en in ons liefde, sien mense vir God. So word jy en ek God se stem, God se hande, God se omgee, God se liefde in ander mense se lewens.
Views: 27