Hier in Lydenstyd dink ‘n mens onwillekeurig aan Judas en sy verraad (Matt 26:14-25), en dit tref my opnuut dat Jesus Judas oor sy verraad gewaarsku het, en daarby gesê het dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie (vers 24). En tog gaan Judas voort met sy plan. Hy wéét Jesus weet. Hy hóór Jesus se dringende waarskuwing. ’n Mens voel lus om uit te roep: Hoe kón jy, Judas? Wat het jou besiel?

Maar terwyl ek daaroor wonder, besef ek dat presies dít die misterie van die sonde is, daardie vreemde, onverklaarbare houvas wat dit op ons het, dat ons dit doen, al weet ons so goed dis verkeerd; dat ons voortgaan, al besef ons daar kan niks goeds van kom nie. ’n Getroude wat ’n skelm verhouding aanknoop, iemand wat ’n leuen versprei, of iemand anders in die rug steek, of met dwelms eksperimenteer. Dwaasheid, en tog doen mense dit. Verstommend.

Wat net so ontstellend is as ’n mens die Judas-verhaal lees, is dat daar vir Judas nie meer vergifnis was nie. Iewers, so lyk dit my, kan jy jou kans op die ewigheid weggooi as jy hardnekkig bly weier om ag te slaan op Jesus se vriendelike maar dringende waarskuwings. Dít is wat Jesus met sonde teen die Heilige Gees bedoel het: die konsekwente weiering om die Gees toe te laat om jou tot ander insigte oor Jesus te bring.

Dis een van die dae weer Goeie Vrydag. Enige iemand wat dink sonde is nie so erg nie, moet weer ’n slag voor die kruis op Golgota gaan staan. Jesus het gesterf oor ons sonde. Só erg is dit.

Ek weet. Dis nie meer in om oor sonde te praat nie. Dis in om te praat oor selfverwesenliking en goedvoel. Maar soms is dit tog nodig dat ons stil word voor die realiteit van dié formidabele vyand wat iewers in elkeen van ons skuil en sy kans afwag om ons te vang. Om dié realiteit weg te wens of te ignoreer, kan dodelik wees.

Daar aan die kruis het Jesus gebid: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Maar vir Judas het dié gebed van Jesus nie gegeld nie. Hy het die punt van geen omdraai verbygesteek.

Mag ek en jy onsself elke dag opnuut oopstel vir die oortuigingswerk van die Gees, dat ons sal hoor en reageer as ons Jesus se stem hoor.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.