“Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug,” skryf Paulus in Efes 6:12. Hierdie stryd is natuurlik nie ’n nuwe een nie; dit is so oud soos die wêreld self. En in hierdie stryd het Satan ’n hele paar keer rede gehad om te grynslag. Soos toe Eva daardie fatale hap van die verbode vrug gevat het in die Tuin van Eden. Of toe Kain vir Abel vermoor het. Of toe Abram daar in Egipte leuens loop en vertel het dat Sarai sy suster is, en sy, die een wat bestem was om die moeder van die Godsvolk te word, in die farao se harem beland het.

Maar die lekkerste het hy seker gegryns toe die Seun van God op daardie verskriklike Vrydag aan die vloekhout op Golgota vasgekap is. Ek sien in my geestesoog hoe hy sy hande van genoegdoening gevryf het en met sy kop geknik het. “Uiteindelik het ek Hom!” het hy uitgeroep, en van pure plesier ’n paar bokspronge gegee terwyl die Seun van God daar op Golgota sy laaste asem uitblaas.

Satan se grynslag het skaars twee dae later in ’n kreun verander toe die steen voor die graf weggerol het, en die Seun van God in al sy heerlikheid uit die dood opgestaan het. Paasfees, die leë graf, Jesus se opstanding uit die dood – dít is die een gebeurtenis in die geskiedenis van hierdie wêreld waarby alles staan en val. Sonder die opstanding beteken ook Jesus se kruisdood niks. Sonder die opstanding sou ons niks anders wees as ander godsdienste nie. Want dan het Jesus se offer aan die kruis nie vir ons die lewe gebring nie; dan was die dood die einde en was daar geen hemel moontlik nie; dan het ons geen uitsig en geen hoop gehad nie; dan sou ons nie kon sing van die toekoms saam met Jesus nie! Paulus skryf in vers 17-19: “En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.”

Daarom is Paasfees een van dié groot feeste vir die Christendom. Paasfees is die fees van die oorwinning oor Satan, sonde en dood. Paasfees is die fees waarop ons dit vier dat daar ’n pad uit hierdie aardse bestaan oopgebreek is: ’n pad tot in die hemel, ’n pad na die ewigheid. Dit is wat Paulus vir ons wil vertel as hy sê dat Christus die “eersteling” is. Deur sy opstanding het Hy ’n nuwe begin gemaak: ’n begin waardeur almal wat in Hom glo, Hom sal volg tot in die hemel.

Daarom vertel Paasfees nie net van Christus se oorwinning oor die dood 2000 jaar gelede nie. Dit vertel veral vir ons van die heerlikheid wat op ons wag, van die toekoms wat Jesus vir ons oopgemaak het. En dit maak natuurlik dat ’n mens nuwe moed skep.

Kom ek gebruik ’n beeld. As jy in die middel van die oseaan in ’n roeibootjie is, kan jy natuurlik roei met die hoop dat jy iewers sal uitkom. Maar as jou kragte gedaan is en daar is steeds geen land in sig nie, kan ’n mens moed verloor en begin wonder: wat help dit tog? Ek roei en roei, maar ek weet nie eens of ek in die regte rigting roei nie en of ek ooit by land sal uitkom nie. Jy kan net sowel ophou, want dit sal tog nie ’n verskil maak nie. Maar as jy land gewaar, skep jy nuwe moed: jy is in die regte rigting, en as jy aanhou, sal jy daar kom en gered word!

Dit is wat Jesus se opstanding vir ons doen: dit gee ons hoop. Ons gaan nie maar net aan van dag tot dag en van jaar tot jaar nie! Ons is op pad na die ewigheid. Ons het ’n toekoms saam met Jesus in die hemel! Hy het opgestaan uit die dood, en ons sal ook!

Liewe gemeente, partykeer voel dit vir ons of die duiwel besig is om die stryd te wen. Ons roei en stoei teen die versoekings en die verval van die wêreld en die sondige natuur hier binnekant ons, maar dit voel so al of ons ’n verlore stryd voer, en dan kan ’n mens jou maklik verbeel Satan staan handevrywend en lag vir ons, omdat ons hulpelose slagoffers is. Paasfees roep vanoggend opnuut uit: Hemel in sig! Ons redding is seker! Hou moed en byt vas!

Daarom kan Paulus hierdie hoofstuk oor Christus se opstanding afsluit met ’n oproep (vers 58): “Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.”

Die Heer het opgestaan! Die Heer het waarlik opgestaan! Halleluja!
Amen.

image_pdfimage_print

Views: 24

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.