Raad ontken dat hulle die Paasfees onnodig ontsier het

JERUSALEM. – Die rabbi Jesus van Nasaret, wat twee weke gelede tydens die Paasfees saam met twee ander misdadigers op die heuwel Golgota gekruisig is, het sy dood dubbel en dwars verdien. Dit is die strekking van die persverklaring wat die Joodse Raad gister uitgereik het omdat die stof oor die teregstelling net nie wil gaan lê nie. Die Raad het die hoop uitgespreek dat die teregstelling uiteindelik ’n einde aan ’n lang en onverkwiklike stryd tussen Jesus en die Joodse godsdiensleiers sal bring.

In die verklaring gee die Raad ook agtergrond vir die gebeure wat uiteindelik tot Jesus se kruisiging gelei het. Luidens die verklaring was die Raad al vir ’n geruime tyd lank verontrus oor Jesus se optrede, maar hulle wou nie die Paasfees ontsier met ’n hofgeding en teregstelling nie. Sake is egter op die spits gedryf toe een van Jesus se eie dissipels, Judas Iskariot, na vore gekom het met ’n plan om hom in hegtenis te neem op ’n plek buite die openbare oog. Met Judas se hulp is Jesus toe die aand laat in hegtenis geneem in Getsemane, waar hy en sy dissipels ná die Paasfeesmaaltyd was.

’n Noodsitting van die Joodse Raad is in die middernagtelike ure gehou. Hulle het Jesus aan godslastering skuldig bevind, en hom die doodsvonnis opgelê. Daarna het hulle hom vroeg die volgende oggend na goewerneur Pilatus gestuur op ’n aanklag van hoogverraad. Nadat die goewerneur die saak ondersoek en ook koning Herodes geraadpleeg het, het hy die vonnis bekragtig.

Om nege-uur daardie selfde oggend is hy saam met twee rowers gekruisig.

Lees ook die berigte elders op dié bladsy.

 

Jesus se verhoor ’n klug, sê regsgeleerde

JERUSALEM. – ’n Prominente regsgeleerde van die stad het sy misnoeë uitgespreek oor die wyse waarop Jesus se verhoor hanteer is.

Die man, wat in hierdie stadium nie sy naam bekend gemaak wil hê nie, het gesê die hele verhoor is ’n klug. “Dit is duidelik dat die Joodse Raad sake só hanteer het dat die beskuldigde geen billike verhoor kon kry nie. Dit druis lynreg in teen die gees én die letter van die Joodse en Romeinse regspraak.”

Enkele van die ongerymdhede waarop hy gewys het, is:

  • die skielike verandering in die klagstaat van godslastering na hoogverraad;
  • die feit dat die hofsaak in die nag afgehandel is;
  • geen geleentheid is aan getuies vir die verdediging gegee nie;
  • die verskillende getuies se getuienis oor die sogenaamde misdaad het nie ooreengestem nie;
  • die feit dat die doodsvonnis onmiddellik na die verhoor uitgespreek én voltrek is (volgens die Joodse reg moet daar minstens ’n dag na die verhoor verloop voordat ’n doodsvonnis gevel mag word);
  • en, les bes, die feit dat Pilatus toegelaat het dat Jesus gekruisig word ten spyte daarvan dat hyself Jesus drie maal gedurende die verhoor onskuldig verklaar het.

 

GODSLASTERING OF HOOGVERRAAD?

JERUSALEM. – Onsekerheid bestaan oor presies wat die misdaad is waarvoor die rabbi Jesus van Nasaret gekruisig is.

Die aanvanklike aanklag teen hom voor die Joodse Raad was een van godslastering. Toe hy egter voor Pilatus verskyn, is die aanklag na hoogverraad verander. Om sake verder te kompliseer, het Pilatus Jesus op hierdie aanklag drie maal onskuldig bevind. Desnieteenstaande is Jesus tog gekruisig, met die misdaad bokant sy kop vasgespyker: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.”

Intussen het dit aan die lig gekom dit dat die Joodse priesterhoofde op die oggend van die teregstelling in ’n dringende aansoek by Pilatus beswaar gemaak het oor hierdie opskrif aan die kruis. Volgens hulle het die opskrif nie die feite rondom Jesus se misdaad korrek weergegee nie. Hulle wou dit verander hê na: “Hy het gesê: Ek is die Koning van die Jode.” Harde woorde het glo geval toe hulle die goewerneur oor die saak gaan spreek het. Pilatus het egter voet by stuk gehou en geweier om aan hulle versoek te voldoen.

 


’n Mens kan amper nie glo dat dinge só skeef kon loop met Jesus se verhoor nie. Van regspraak was daar geen sprake nie. Dit was van begin tot end ’n bekookte hofsaak waarvan die vonnis lank voordat dit begin het, reeds gevel is.

Die duiwel het daardie oggend waarskynlik sy hande in genoegdoening gevryf. ’n Klinkende oorwinning vir die duisternis, of hoe?

Néé! Dan het ons sleg gelees wat die Bybel ons leer! Dit is wel so dat Jesus se verhoor ’n skreiende verkragting van die reg was. Dit is so dat die duiwel die Jode gebruik het om die Seun van God te vermoor. Maar dit is ook so dat God die hele tyd in beheer was. Jesus het self vir Pilatus gesê: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie” (Joh. 19:11).

Jesus se sterwe was Gód se plan, nie die duiwel s’n nie. Hier was immers ’n ánder hofsaak aan die gang waarin God die Regter is, en óns die skuldiges. Net, ons is nie gestraf nie. Jesus is. Dit is die Evangelie!