Hier in die Pase, die Opstandingstyd, word ’n mens noodwendig weer gekonfronteer met die vraag: Hoe dink jy oor die opstanding van Jesus?
Ek is nie ’n Nuwe Hervormer nie. Ek is ook nie iemand wat die feitelikheid van Jesus se opstanding hoegenaamd wil verwater of enige vraagtekens daaroor wil hang (soos skynbaar mode geword het by sommige moderne teoloë) nie. Ek glo dat Jesus leef, nie net in gees nie, en dat Hy ná sy opstanding ’n liggaam gehad het (en steeds het) waaraan mense kan vat. Hy het immers vir Tomas genooi om sy vingers in sy wonde te kom druk, en vis geëet om vir sy dissipels te wys dat Hy nie ’n gees of blote verskyning is nie. Hy het ook vir Maria Magdalena gesê sy moet Hom nie vashou nie, toe sy voor sy voete neergeval het op daardie heel eerste Paasmôre.
Tog dink het die Nuwe Hervormers druk ons om meer genuanseerd as in die ou dae oor Jesus se opstanding te dink. Ek het dit die afgelope tyd weer goed besef toe ek ’n stukkie gelees het waar iemand Jesus se ontwaking uit die dood probeer beskryf het; hoe die bloed weer in sy are begin pomp het, die naalde en spelde-sensasie in sy vingers, ensovoorts. Aangrypend geskryf, maar terselfdertyd ook heeltemal te veel gesê. Ek wil vandag met baie groter huiwering praat oor wat ek van Jesus se opstanding weet. Nie oor die dát van die opstanding nie (daaroor twyfel ek nie) maar oor die hóé daarvan. Ek meen ons was in die verlede heeltemal te stellig oor sake wat die Bybel self in misterie hul. Jesus se opstanding is iets totaal anders as bv dié van Lasarus of Jaïrus se dogter. Sy liggaam was nie meer ’n gewone aardse liggaam nie; daarom kon Hy verskyn en verdwyn, en het selfs sy naaste aardse vriende Hom nie noodwendig onmiddellik herken nie. Paulus maak ook heelwat daarvan dat die vlees van die opstandingsliggaam anders is as dié van ons aardse liggame (1 Korintiërs 15:35-53).
Daarom juig ek vandag oor die opstanding, maar trap ek suutjies as ek dit verwoord, want dit is ’n gebeurtenis wat ons verstand te bowe gaan. Maar dis tog wat geloof is, nie waar nie? Om jou lewe oor te gee, en jou denke, aan Hom wat soveel meer is as wat ons ooit sal begryp.
Jesus het opgestaan! Hy leef! Halleluja!