Ek lees vanoggend weer die verhaal van ’n jong man van God uit Juda wat ’n opdrag van God gekry het om na Bet-El te gaan om koning Jerobeam aan te spreek oor die kalwerdiens wat hy ingestel het (1 Konings 13). Saam met die Here se opdrag was die uitdruklike voorskrif dat die man van God niks in Bet-El mag eet en nie daar water mag drink nie, en ook nie met dieselfde pad as waarmee hy gegaan het, mag terugkom nie.
Die man voer sy opdrag stiptelik uit. Jerobeam was nog besig by die altaar toe die man van God daar aankom en sy boodskap afgee, en sy oordeelswoord oor die altaar gaan in vervulling terwyl hy nog daar is. Toe Jerobeam met sy hand wys na die man sodat sy lyfwag hom moet gryp, het sy hand styf geword, en eers nadat die man vir die koning gebid het, herstel die hand. Die koning nooi hom vir ete, maar die man wys dit van die hand. Dit was immers teen God se uitdruklike opdrag.
Intussen verneem ’n ou profeet van die omgewing wat gebeur het. Hy saal ’n donkie op en gaan soek die jong man van God, en nooi hom om by hom te kom eet. Weer wys die man die uitnodiging van die hand, maar die ou profeet oorreed hom: “Ek is ook ’n profeet net soos jy, en ’n engel het op bevel van die Here vir my gesê: Bring hom terug na jou huis toe en laat hy iets eet en sy dors les!”
Die jong man van God laat hom hierdeur ompraat. Dit was immers God Self wat ’n nuwe opdrag by wyse van die ou profeet gegee het, dan nie? Ongelukkig is die antwoord nie so voor-die-hand-liggend nie. Dit blyk uit die res van die verhaal dat dit nie so was nie; die ou profeet het vir hom gelieg, en ’n leeu verskeur die jong man later op pad Juda toe omdat hy hom teen die Here verset het.
’n Bisarre, ontstellende verhaal. Wat moet ’n mens hiermee maak? Hoe moes die jong man van God geweet het die ou profeet lieg vir hom? Hy was immers, volgens sy eie woorde, óók ’n profeet, en boonop nog baie ouer ook.
Dis mos ons dilemma ook dikwels: hoe weet jy wat is God se plan en wat nie? Dié een sê dít, daardie een weer dát, en jy is op die ou end totaal verward. Wie se stem is God s’n?
Ek dink ons kan minstens dít na aanleiding van hierdie jong man se verkeerde besluit sê: As jy oortuig is dat jy God goed gehoor het, moet jy daarby bly en jou nie deur ander stemme laat verwar nie, al kom dié stemme met groot stelligheid. Bly by wat jy by God gehoor het totdat Hy jou Self ’n ander ding sê.
Natuurlik praat God op verskillende maniere met ons, ook deur ander mense. Maar dit mag nie die eie luister na God en na sy Woord verdring nie. Ons glo immers dat God ons lei deur sy Woord en deur sy Gees. Dáárna moet jy luister en daarby moet jy hou as ander stemme ’n ander storie vertel. Soek daarom in tye van onsekerheid bevestiging by God in jou binnekamer. Totdat Hy jou anders lei, bly by wat jy weet God gesê het.