Ek het ’n tyd gelede ’n konsert bygewoon met die naam “East meets West”. Dit was ’n konsert waarin die gehoor aan Indiese musiek bekendgestel is. Alles aan die konsert was vir my vreemd. Dit was vreemde instrumente, vreemde musiekgenres, vreemde kleredrag. Ek het later ’n resensie oor so ’n konsert gelees waarin die resensent gesê het as hy ooit in sy lewe weer ’n sitar moet hoor, sal dit te gou wees. Jy kry die idee.
Wat my bybly van die konsert, was die karakter van die musiek, want dit was kenmerkend van al die verskillende items op die program. Die Indiese musiek het nie ’n begin of einde gehad nie, of so het dit in elk geval vir my oningeligte oor geklink. Daar was nie ’n progressie wat na ’n klimaks toe opwerk, soos ons in die Westerse kunsmusiektradisie so goed ken nie. Vir my was dit nogal ’n aardige ervaring.
Ná die konsert gesels ek met iemand daaroor. Dié maak toe die opmerking dat die musiek hulle lewensfilosofie en godsdiens weerspieël. Hulle glo in reïnkarnasie; die ewigdurende herhaling van die lewe, waarin jy elke keer weer voor kan begin en ’n kans kry om te verbeter. Amper soos in die fliek Groundhog day. Daarom is daar min voortskryding in die musiek, want dis hoe hulle oor die lewe dink.
Daar gaan ’n einde kom
Ek weet nie wat eerste was nie, die godsdiens of die kultuur nie, maar in ons Westerse denke werk dit heeltemal anders. Ons glo ons is op pad. Ons musiek weerspieël dit. Daar is ’n begin, ’n ontwikkeling, ’n einde. Daar is progressie. Dinge stuur af op ’n doel. In ons geloof is dit ook die geval: ons glo ons is op pad na die ewigheid. Alles is nie deel van die eindelose sirkel van die lewe nie. Daar gaan ’n einde aan alles kom met die groot finale, die Dag van die Here, soos die Ou Testamentiese profete dit genoem het; die wederkoms, soos ons vanuit die Nuwe Testament praat.
Jesus kom weer! Hy het ons dit belowe met sy hemelvaart. Ons is op pad. Dít is wat hoop beteken. Dit gee ons moed om aan te hou, want ons weet alles sal nie maar net altyd weer bly soos dit nou is nie.
Nie nog ‘n kans nie
Natuurlik is daar nog ’n verskil tussen ons en die reïnkarnasie-denke. Vir mense wat in reïnkarnasie glo, is daar altyd nog ’n geleentheid om beter te vaar. As jy nie in hierdie lewe dit regkry nie, kan jy in ’n volgende lewe daarop verbeter. Maar ons glo daar is nie nog ’n kans nie. Hierdie lewe is jou enigste kans; jy gaan nie nog een kry nie. Daarom moet jy in hierdie lewe alles in die stryd werp om naby die Here te leef, geestelik te groei en meer en meer soos Jesus te word, soos Petrus in 2 Petrus 1:5-11 skryf: “En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense … As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie. En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.”