Lukas 24:50-53

Wat moet ons maak met hemelvaart? Hoe moet ons daaroor dink? Hoe dink jý daaroor? Maak die feit dat Jesus opgevaar het hemel toe, ’n verskil in hoe jy oor Hom dink, hoe jy aanbid, hoe jy leef?

Vir die eerste dissipels was dit so. As ons na ons Skrifgedeelte kyk, sien ons dit dadelik. Hier staan: Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. Hoekom was hulle bly? Wat is daar om oor te juig as jou geliefde Meester vir altyd van jou af weggaan? Is dit nie eerder iets om oor te treur nie? Maar nie hulle nie. Hulle gaan met groot blydskap na Jerusalem.

Hoekom was hulle bly? Omdat hulle beter as ons verstaan het wat Jesus se hemelvaart beteken. Hulle het beter as ons verstaan wat Jesus in die hemel gaan maak het. Vir hulle was Jesus se hemelvaart nie ’n weggaan van hulle af nie, maar die opneem van ’n nuwe posisie, die aanvaarding van ’n nuwe taak en rol in die gelowige se lewe.

Hemelvaart is die troonsbestyging van Jesus. Hemelvaart is die dag waarop ons dit vier dat Hy ons Koning is. Dat Hy nou in die hemel aan die regterhand van die Vader sit, vir ons.

Terloops, hierdie belydenis is die enigste een van die belydenisse in die Twaalf Artikels (Apostoliese Geloofsbelydenis) wat in die teenwoordige tyd is. Die ander is almal óf in die verlede tyd (Jesus se geboorte, lewe, sterwe en opstanding), óf in die toekomstige tyd (wederkoms, opstanding en laaste oordeel). So die ander dinge wat ons aangaande Christus bely, is almal dinge wat óf al verby is, óf wat nog moet gebeur. Maar as ons van Jesus se hemelvaart en sy rol as ons Koning praat, is dit oor wat Hy nóú doen. Paulus sê hieroor in Efes 4:10: Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul. Die Here Jesus is dus nie weg sedert sy hemelvaart nie, Hy is nou éérs by ons teenwoordig. Hy vul elke stukkie ruimte van ons lewe met sy teenwoordigheid!

Maar daar lê nog meer in. In Efes 2:6 skryf Paulus: Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee Ons is as ’t ware reeds in die hemel, want Christus is daar. Ons het inspraak by God die Vader in die hemel, want Christus is daar om namens ons en vir ons te praat. Hy is dag vir dag voor God ter wille van ons.

Dis baie interessant dat die gelowiges van die vroeë kerk, die mense van die eerste 4 eeue nC, nie soos ons gebid het nie. Hulle het nie tot Jesus gebid soos ons dikwels doen nie. Hulle het tot die Vader gebid, deur Jesus, en in die Gees. As hulle in hulle gedagtes ’n prentjie van die hemel gehad het, was dit nie God die Vader en Jesus op die troon langs Hom tot wie hulle gebid het nie. In hulle denke was Jesus aan hulle kant, het Hy by hulle gestaan om hulle gebede na die Vader te neem. Daarom het die krag van hulle gebede nie gelê in hulleself en hulle woorde of offers nie, maar in Christus, in sý Woord en sý offer. Hý was die Een wat hulle gebede, hulle sugte, hulle nood, hulle verwagtings na die troon geneem het.

Iewers, dink ek, het ons dié wonderlike troos verleer. Daarom weet ons nie so mooi wat om met hemelvaart te maak nie; is Christus nie vir ons elke dag ’n lewende realiteit in ons gebedslewe nie; het Hy as ’t ware die rol van God die Vader in ons denke verdring. Ons dink nie aan Christus as die Een wat vir ons intree en bid, die Een wat aan óns kant van die troon staan as ons bid nie.

Dis dalk hoekom hemelvaart nie juis vir ons ’n saak van vreugde is nie; hoekom dit vir ons vreemd klink as Lukas vir ons vertel dat die eerste dissipels met groot blydskap terug is Jerusalem toe. Want ons verskraal Jesus se rol as iets wat Hy gedoen het (Hy het gekom om vir ons sondes te sterf) en iets wat Hy nog gáán doen (Hy gaan eendag weer kom om ons te kom haal). Maar Jesus wil vandag jou lewe met sy teenwoordigheid vul. Hy wil vandag jou Koning wees. Hy wil vandag vir jou intree by die Vader; jou nood voor God bring. Hy wil vandag vir jou ’n stem in die hemel gee!

Dis seker daarom dat Lukas in hierdie paar verse nie minder nie as 3 keer die woord seën gebruik as hy oor die hemelvaart skryf. Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys (= geseën). Lukas wil hê dat ons verstaan dat hierdie ’n geseënde dag is. Jesus is nie weg nie. Hy is ons Koning, Hy is in die hemel om ons tot seën te wees.

Kom ons leef dan vanuit die hemelvaart. Jesus is gekroon in die hemel! Kom ons leef soos mense wie se hele bestaan met sy teenwoordigheid gevul is; mense wat verstaan dat Jesus ons gebede, ons behoeftes, ons versugtinge Sýne maak, sodat Hy waarlik vir ons ’n plek saam met Hom in die hemel kan gee.

Mag sy hemelvaart ook vir jou ’n geseënde dag wees!

Amen.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.