Iewers, diep binne-in elke mens, skuil daar die wete dat die lewe méér is as dit wat ons elke dag sien en beleef. Dat daar Iemand groter is as onsself: God. En dat daar iets met ons moet gebeur as ons by Hom wil uitkom. Dat ons nie maar net rustig kan lewe soos ons wil en dink ons sal by God kan uitkom nie. Nee, ons voel almal aan dat ons moet verander. Dat ons nie is wat ons behoort te wees nie. Want ons lewe in ‘n wêreld, ons is deel van ‘n bestel wat nie is wat dit veronderstel is om te wees nie. En baie gou al verduidelik die Bybel vir ons wat verkeerd is. Gen 1-3 leer vir ons dat God alles – ons ook – baie goed gemaak het, maar dat die sonde hierdie wonderlike wêreld, en ons daarmee saam, verwoes het. En ons kan maar net om ons kyk elke dag om te sien dat die wêreld gaandeweg al boser word. En ons ontdek telkens in onsself ook iets van hierdie boosheid sit.

Die groot vraag is nou: Wat moet ons daaraan doen? Hoe kan ons loskom uit hierdie boosheid? Ons sien deesdae op TV verskillende hoe antwoorde op hierdie vraag gegee word: Daar is die Moslems, die Hindoe’s, die Jode, die tradisionele Afrika-godsdienste – almal gee ‘n antwoord, of liewer, almal probeer ‘n antwoord gee op die vraag: hoe kom ek los uit hierdie bose wêreld.

Die evangelie van Jesus Christus gee hierin vir ons ’n antwoord; dié antwoord. Maar van die begin af was mense wat ’n ander antwoord as die evangelie wil gee. Daar is mense wat die evangelie verskraal tot: You must be nice to people, en daarmee die verlossingswerk van Jesus ignoreer. Maar daar word ook na die ander kant toe bygevoeg by die evangelie. In Paulus se dae in Galasië was daar ook mense in die kerk wat ‘n ander antwoord gegee het as wat Paulus geleer het.

En nou sê Paulus hier vir ons: ons moenie dink as jy so ietsie hier en daar aanlas by die evangelie, dat jy nog met die evangelie van Jesus Christus besig is nie. Dít is wat die mense in Galasië probeer het: hulle het gesê Christus se verlossing is nie genoeg nie, jy moet jou ook nog besny en die Joodse wette nakom. Vandag is daar weer mense in die kerk wat sê: Christus is genoeg, ja, mits jy jou ook nog groot laat doop. En jy moet in tale kan spreek. En jy moet ‘n wedergebore Christen wees wat ‘n datum het waarop jy tot bekering gekom het. Paulus sê kort en klaar: daarmee is jy weg van die evangelie, weg van die goeie boodskap dat Christus, en Hy alleen, vir ons verlos het.

Nee, daar is net één manier: Jesus Christus het Homself vir ons sondes gegee om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld (vs 4). Ons kan hierdie vers ook só vertaal: Jesus Christus het Homself vir ons sondigheid gegee om ons te verlos uit hierdie sondige wêreld. Hy het nie net gesterf om ons te verlos van ons sondeskuld nie, maar ook van ons geneigdheid om sonde te doen! Hy het ons nuwe mense gemaak! Hy het ons verander, nuutgemaak, oorgemaak. Daarvoor het Hy Homself gegee, het Hy kom sterf op Golgota. Om ons nuut te maak.

Dit is die versugting van die hele mensdom – om anders te word, omdat die mens ontdek hy is nie wat hy behoort te wees nie. Die heerlike evangelie is: daar is werklik ‘n uitweg! Ons kán verander. Nie deur allerhande dinge wat ons moet doen nie. Nie deur harde inspanning nie. Deur aan Jesus Christus vas te hou!

Kom ek sê dit nog ‘n keer:

Die oorwinning oor die bose en die boosheid in ons eie lewens lê nie by meer inspanning nie. Dit lê by Jesus Christus, by sy kruis op Golgota. Hy het Homself vir ons sondigheid gegee om ons te verlos …

Die kruis van Jesus Christus verlos ons nie net, sodat ons ‘n plek in die hemel kan hê nie. Sy verlossing maak ons lewens anders. Dit vernuwe my mens-wees. Na die mate wat ek aan Christus vasklou, na dié mate word ek nuut, word my lewe verander.

Iets daarvan wil Paulus vir ons illustreer met sy eie lewensverhaal. Hoe hard het hy nie probeer om God te dien nie! Hoe hard het hy nie geywer om los te kom uit sy sondigheid nie! Meer as ons almal hier. Hy skryf self in vs 14: “In die Joodse leer het ek onder my volksgenote bo baie van my leeftyd uitgestyg, want ek was ‘n fanatieke yweraar vir die oorgelewerde leer van my voorvaders.” En dan ontmoet hy Jesus Christus op die Damaskuspad, en sy hele lewe verander, sodat die gerug versprei (vs 23): “Die man deur wie ons vroeër vervolg is, verkondig nou die geloof wat hy destyds probeer uitroei het.” Paulus wat hard probeer het om te verander? Nee. Jesus Christus het hom verander, ‘n nuwe mens van hom gemaak.

Broer en suster, liewe jongmens: Is u al verlos van u sondigheid? Ek vra nie of u al u sondes bely het en om vergifnis gevra het nie. Ek vra of u Christus al omhels het as Verlosser, nie net van u sondes nie, maar van u sondigheid. Van u sondige geneigdheid, u sondige gerigtheid. Hoe nader ons aan Christus leef, hoe stywer ons aan Hom vashou, hoe inniger ons aan Hom verbonde lewe, hoe meer en meer word ons verlos van onsself, word ons verander, word ons nuut, word dit Pinkster in ons lewe. Want hiervoor het die Heilige Gees tog gekom: Dat Christus verheerlik word in ons lewens!

Kom ons hierdie Pinkster, kom ons bid elke dag dat die Heilige Gees ons al vaster en vaster aan Christus mag bind, sodat ons al meer verlos kan word van ons sondigheid, sodat Hy ons nuut kan maak, Jesus-mense kan maak!

Amen.

image_pdfimage_print

Views: 117

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.