Iemand vra my nou die anderdag wat presies gebeur met ’n mens as jy doodgaan. My eerste reaksie was dat die woord “presies” nie in die vraag pas nie, want ons weet gewoon nie presies nie. Maar daar is darem ook heelwat wat ons wel weet. Ek noem ’n paar (en daar sal sekerlik nog ander dinge ook wees):
- Die eerste wat ons weet, is dat ons in die sterwensoomblik nie alleen is nie. Jesus belowe in Johannes 14:3 dat Hy Self vir ons kom haal. Hy, nie sy engele nie. Want Hy het mos belowe dat Hy by ons is, al die dae, tot die voleinding van die wêreld (Matteus 28:20).
- Die tweede wat ons weet, is dat ons by God sal wees. Jesus praat daarvan as “die huis van my Vader” (Johannes 14:2), waar Hy vir ons gaan plek berei. Dit is nogal ’n merkwaardige manier om oor die hiernamaals te praat: ’n ouerhuis.
- Die derde wat ons weet, is dat ons God in die hiernamaals van aangesig tot aangesig sal sien (1 Johannes 3:2); dat ons deel sal wees van die skare verlostes wat Hom op sy troon aanbid en loof (Openbaring 5).
- Die vierde wat ons weet, is dat ons nie ná die dood engeltjies word nie, of geeste nie. Ons gaan steeds menslike liggame hê, hoewel dit gaan verskil van die een wat ons nou het. Paulus maak in 1 Korintiërs 15 ’n hele argument daaroor dat ons opstandingsliggaam soos dié van die Here Jesus se opstandingsliggaam sal wees, en Johannes sê in soveel woord dat ons “soos Jesus” sal wees (1 Johannes 3:2). Ons weet dat Jesus nie ná sy opstanding ’n gees was nie. Hy het ’n liggaam gehad waaraan sy dissipels kon vat, wat steeds die merktekens van sy kruisdood gedra het (Johannes 20:27). Hy het saam met hulle geëet, en hulle het Hom herken (hoewel nie dadelik nie, maar dalk was dit omdat hulle nie verwag het om Hom weer te sien nie). Ons gaan ook so ’n verheerlikte liggaam ontvang ná die dood.
- Die vyfde wat ons weet, is dat daar fees gaan wees. Openbaring 19:7 praat daarvan as die “bruilof van die Lam.” Geen trane of hartseer of lyding nie (Openbaring 21). Wat ons gaan eet, weet ek nie, maar ek weet daar is vrugtebome in die hemel wat die hele jaar deur dra.
- Die sesde wat ons kan weet, is dat daar nie ’n doodslaap-periode tussen ons sterwe en die wederkoms sal wees nie. Johannes sien immers in die boek Openbaring mense in die hemel (Openbaring 7:9-10), en dit was vóór die wederkoms. Maar dit lyk my daar gaan twee fases wees: ná ons dood gaan ons hemel toe, waar ons sal bly tot met die wederkoms, wanneer ons saam met Christus gaan terugkom aarde toe om die nuwe hemel en die nuwe aarde te beërwe.
- Die sewende wat ons weet, is dat ons nie bloot indiwidue in die hiernamaals gaan wees nie. In Openbaring 14:13 staan: “Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, hulle sal rus van hulle arbeid, want alles wat hulle gedoen het, volg hulle.” Dus: jy bly die mens wat jy hier op aarde is. Jy gaan nie in die hemel aankom sonder ’n verlede nie. Die verhoudings waarin jy staan, die mense vir wie jy liefhet, is almal deel van die mens wat jy is. Daarom gaan jy in die hiernamaals steeds omring wees deur geliefdes.
- Die agste wat ons kan weet, is dat daar nie ’n oordeel op ons wag nie (Romeine 8:1). Ons oordeel en straf is reeds in Jesus op Golgota voltrek. Ons sal dus nie voor die Regterstoel moet verskyn waar ons hele lewe soos ’n rolprent voor ons afspeel en ons moet verantwoording doen oor alles wat ons verkeerd gedoen het nie. Wat ons gaan hoor, is: “Mooi so!” (Matteus 25:21) en (Matteus 25:34): “Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit.”
Dis seker eers genoeg. Ek raak nou sommer haastig om daar te kom! Daarom bid ek saam met die kerk oor die eeue heen (vgl. Openbaring 22:20): “Kom, Here Jesus, ja, kom gou!”
AS JY DIE DAG DOODGAAN:
Ai, baie baie dankie Jaco!!
Dit is sulke wonderlike nuus en inligting…… nou weet ek my liefste seun “bestaan” nog. Nie dat ek eintlik getwyfel het daaroor nie, maar al die menings maak mens maar partykeer lekker deurmekaar en onseker.
Mag ek asseblief hierdie met my plaaslike Compassionate Friends-familie deel? Dit sal soveel bemoediging en berusting bring vir diegene wat hul kinders aan die dood afgestaan het.
Nogmaals dankie.
Christusgroete
Jy is baie welkom! 😊