Dis vandag Drie-eenheidsondag: die dag waarop ons fokus op God as die Drie-enige God – Vader, Seun en Gees. Waar in die Bybel kry ons die woord of begrip Drie-eenheid?
Nêrens! Die begrip Drie-eenheid (Engels: Holy Trinity) staan nie in die Bybel nie. Dis ’n begrip wat die kerk ontwikkel het omdat ons ’n manier nodig het om oor God te dink wat vir ons sin maak. Want ons lees in die Bybel onmisverstaanbaar dat daar net een God is (Deut 6:4 – letterlik staan daar, soos die NLV vertaal: Die Here is ons God. Die Here is een). Tog maak God Sigself aan ons bekend as God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees, soos dit o.a. ook in ons Skrifgedeelte van vanoggend staan. Jesus praat hier van Homself, van die Gees wat gaan kom as Hy hemel toe gaan, en van die Vader. En dan is God die Vader nie net ’n gedeelte van God nie, of die Seun net ’n ander stukkie nie. Jesus is volledig God, soos die Vader volledig God is, en soos die Gees volledig God is.
Dalk moes ek nie gesê het die woord Drie-eenheid is geskep om sin te gee aan die Skrif-openbaring oor God nie, want ek moet eerlik sê, dit maak vir ons mense nie goed sin nie. Ons dink aan een mens as een persoon. As een mens meer as een persoon huisves, sê ons daar is groot fout. Maar dis min of meer wat ons van God bely as ons sê Hy is een God, maar tog ook drie Persone, nie drie Gode nie. Of soos die kerkvaders dit uitgedruk het: Een Wese, drie Persone.
In die Geloofsbelydenis van Athanasius (een van ons 3 algemene belydenisse) bely ons (§ 3,4,10,11): Die algemene geloof is dat ons die één God in die drievuldigheid en die drievuldigheid in die eenheid eer, sonder om die persone te vermeng of die substansie te deel; […] die Vader is ewig, die Seun is ewig en die Heilige Gees is ewig; nogtans is dit nie drie Ewiges nie, maar één Ewige …
So, die term Drie-eenheid is geskep sodat ons oor God kan praat, maar dit hef nie die misterie wat God omhul, op nie. Hy blý meer en anders as ons.
Vir die vroeë kerk was dit nogal ’n worsteling om te weet hoe om oor God te dink. Veral, so lyk dit my, het hulle aanvanklik gewonder oor die status, of die wese, van Jesus. Ons kan dit ook sekerlik begryp. Om aan God die Vader as God te dink, is relatief maklik. Hy is die Skepper en Onderhouer. En om aan die Heilige Gees as God te dink, is óók relatief maklik, want ons lees al in Genesis 1 van die Gees van God wat oor die waters gesweef het. (Natuurlik was dat ’n vraag of die Gees ’n Persoon is, soos ons bely, en of Hy net ’n krag of invloed is, soos party gedink het.)
Maar met Jesus was dit nie so eenvoudig nie. Hy het soos alle ander mense in ’n gesin grootgeword. Hy het saam met die dissipels op die stofpaaie van Palestina geloop. Hy het honger geword. Hy het moeg geword. Hy het vuil geword. Hy was in alle opsigte ’n mens soos hulle. Hulle kon met Hom praat, met Hom redeneer, aan Hom vat, langs Hom slaap … Daarom was dit vir hulle vreemd om aan Hom te dink as God. Soos Jesus in ons gelese gedeelte vir hulle sê: daar was baie dinge wat hulle nie op daardie stadium kon begryp nie (vers 12).
Dis eers ná sy opstanding dat iets daarvan by hulle begin insink het. En, so lyk dit my, het hulle aanvanklik steeds meer aan Jesus se menslikheid as aan sy goddelikheid gedink as hulle oor Hom gedink het. Ons hoor dit in Petrus se toespraak op Pinksterdag wanneer hy sê: “Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!” (Hand 2:36). So asof Jesus voor sy opstanding dit nie eintlik was nie.
Ek dink, in die lig van wat ons vanoggend uit die Bybel gelees het, kan ons Petrus se woorde verstaan dat God Jesus vir ons Here laat word het, in ons gedagtes, in ons harte. In ’n sin hét Jesus dus eers ná sy opstanding vir Petrus-hulle regtig God geword, want dit was toe eers dat hulle verstaan het Wie Hy regtig is. En dis die werk van die Gees. Jesus sê: Hy (die Gees) sal My verheerlik … Die Gees het gekom om Jesus te verheerlik, om Hom ons Here te maak, om ons daartoe te bring dat ons Hom bely as ons Heer, ons Verlosser, ons God.
Nou het ons verlede week Pinksterfees gevier; die fees dat God sy Gees aan ons, sy kerk, geskenk het. Wat verwag jy as jy dink en bid oor die werk van die Gees in jou lewe? Verwag jy dat jy hierdie hoër geestelike bestaan sal begin voer, sodat jou voete amper nie grond raak nie? Dat jy die Gees in stemme met jou sal hoor praat as Hy jou lei? Dis nie wat Jesus sê nie. Jesus sê die Gees kom om ons in die hele waarheid te lei deurdat hy dít wat Hy van Jesus en die Vader ontvang, aan ons meedeel, en ons daaraan herinner en dit vir ons verduidelik. En dan, dat Hy Jesus juis daarin verheerlik. So wat die Gees van God in ons lewens doen, is om ons oë, ons gedagtes, ons harte te fokus op Jesus en op wat Hy gesê en gedoen het, om ons te help om dit te verstaan, om Jesus as ons Heer en Heiland te bely, sodat Hy waarlik Here van ons lewens sal wees.
So wat gebeur as jy bid dat die Gees in jou lewe vaardig sal word en sal oorneem? Jy word aan Jesus vasgebind. Jy word ’n Jesus-dissipel. Jesus word jou Here en Hy word in jou en deur jou verheerlik.
Ek dink ons moet hierdie punt goed hoor, want, soos die eerste dissipels, is dit vandag nog moeilik om reg oor Jesus te dink. Die Gees kom om Jesus te verheerlik. Die Gees het nie gekom sodat Jesus ons buddy kan wees, ons pêl nie. Ek onthou, lank terug, het iemand my verkwalik omdat ek gesê het Jesus is nie cool nie. En ek sê dit vanoggend weer. Jesus is nie ons pêl nie. Hy is nie cool nie. Hy is só nie cool nie, toe Hy hemel toe is, was daar maar omtrent 120 mense wat Hom gevolg het. Die res het die rug op Hom gedraai en Hom gekruisig. As Hy cool was, sou die skare nie geskreeu het: “Vat hom weg! Kruisig hom!” nie (Joh 19:15).
Ons moet oppas dat ons nie Jesus aftrek na ons vlak omdat ons Hom by ons en soos ons wil hê nie. Ons moet opstyg na sý vlak deurdat ons onsself verloën, ons kruis opneem en Hom volg (Matt 16:24; vgl Heb 12:1-3) sodat ons by Hom kan wees en soos Hy kan word.
Die Gees het gekom om Jesus Here in ons lewens te maak. Kom ons volg Hom dan met oorgawe!
Amen.
Views: 118
Middag Jaco,
Ons moet teen volgende kwartaal met ‘n nuwe “Bybelstudie-boekie”begin.
Ons is 8 dames en het reeds al baie boeke in die bybel gedoen soos bv, Daniel, Esegieel,
Openbaring, Al die konings ens. Ons doen huidig een van Stephan Houbert se boeke.
Ons wil egter nie ‘n boek doen wat baie ingewikkeld is nie. Liewer met kort stukkies daagliks met ‘n oorsig oor die week as ons bymekaar kom. Iets waar ons nie teveel in die Bybel rondspring nie. Ons doen by die Plaaslike Predikant ook Bybelstudie oor Geloof. “Wat dink ek is geloof” en wat is “geloof”. Ek kom agter dat daar soveel mense daar is…. soveel sienings oor geloof is. Ons wil graag iets doen waar daar nie baie vraagtekens oor is nie, maar dat ons slegs kan groei in begrip en liefde. Dit is tog wat belangrik is.
Lastige, Veronica Groete
Hallo Veronica
Ek het, toe ek nog gemeente-predikant was, ‘n hele paar Bybelstudie-boekies geskryf vir die gemeente se kleingroepe. Baie daarvan is nog by Bybelmedia beskikbaar. Jy kan gaan kyk by https://eshop.bybelmedia.org.za/?s=jaco+thom&post_type=product&x=5&y=7
Dié studies het nie leesstukke vir die ander dae van die week ook nie; dis slegs die betrokke Bybelstudie self. Dalk kan jy daar kyk of iets vir jou kan werk.
Seën met julle Bybelstudie!