Nuwe regeringstelsel vir die Israeliete aangekondig

Van ons Ou Testament redaksie

REFIDIM. – Die Israelitiese leier Moses het op ’n volksvergadering hier bekend gemaak dat hy die hele regeringstelsel gaan hervorm.

Dié aankondiging kom ná indringende samesprekings wat Moses met sy skoonpa, die priester Jetro van Midian, gevoer het. Jetro het hom onlangs by die Israelitiese laer aangesluit vir ’n kort besoek. Hy het ook Moses se vrou, Sippora, en hulle twee seuns Gersom en Eliëser saamgebring uit Midian, waar hulle agtergebly het toe Moses destyds na Egipte terug is om die volk uit slawerny te verlos.

Moses het gesê hy beoog om bekwame manne uit Israel te kies as hoofde oor die volk. Hy het gesê hy gaan leiers oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien aanstel om die huishoudelike sake van die volk te reël. Hierdie sake is tot dusver deur hom alleen behartig. Dit was nie ’n baie bevredigende situasie nie en het dikwels tot vertragings gelei. Hy het egter benadruk dat hy hom nie van die regering onttrek nie. Die belangrikste sake sal steeds deur hom behartig word.

Moses se aankondiging het oral byval gevind, te oordeel na die entoesiasme waarmee die volk op sy toespraak gereageer het. Dit behoort ook die onmenslike las wat op Moses se skouers gerus het sedert die uittog uit Egipte, te verlig.

 

HISTORIESE OORWINNING VIR JONG VOLK

REFIDIM. – In die eerste geveg waarin die Israeliete betrokke geraak het sedert hulle wonderbaarlike ontkoming van die Egiptenare by die Rietsee, het hulle gister die Amalekiete heeltemal verslaan. Die Israelitiese magte is aangevoer deur Josua seun van Nun. Die geveg het die hele dag lank wipplank gery. Eers teen sononder het Josua daarin geslaag om die oorhand te kry.

 

Paulus neem afskeid van sy geliefde gemeente

Van ons Nuwe Testament redaksie

MILETE. – Die bekende evangelis en sendeling Paulus van Tarsus het gister hier onder trane afskeid geneem van die ouderlinge van Efese, een van sy geliefde gemeentes in Klein-Asië.

Paulus, wat die hawe hier onderweg na Jerusalem aangedoen het, het die ouderlinge ontbied sodat hy hulle vir oulaas kan sien. Hy het gesê hy verwag om in Jerusalem, waar hy die pinksterfees gaan bywoon, deur die Jode gevange geneem te word. Hy sal hulle daarom waarskynlik nie weer sien nie.

In sy afskeidsrede het hy hulle dringend vermaan om hulleself en die hele gemeente wat die Heilige Gees onder hulle sorg gestel het op te pas. Hy het die gemeente met ’n kudde vergelyk, en gesê die ouderlinge is soos herders wat die kudde moet versorg. Soos daar in ’n gewone kudde voortdurend die gevaar bestaan dat wolwe die kudde kan verskeur, só moet die ouderlinge waak teen mense wat met leuens die gemeente sal probeer verlei.

Die gemeente in Efese het onder Paulus se arbeid tot stand gekom. Hy is onlangs, na ’n verblyf van meer as drie jaar, daar weg toe die silwersmede onder aanvoering van Demetrius die stad teen hom opgesweep het.

  • Lees hiervan in Hand. 20:16-38, asook oor die ontstaan van die gemeente in Hand. 19.

 


Nie op jou eie nie

Die Bybel is vol daarvan dat God soms baie groot dinge van enkelinge verwag: Abram moet van sy mense wegtrek om ’n nuwe volk tot stand te bring; Moses moet sy volk lei na die beloofde land; Paulus dra die evangelie uit tot aan die uithoeke van die destydse wêreld.

Tog, as ons hierdie mense se lewe volg, sien ons dat God nie verwag dat hulle hierdie groot dinge man-alleen moet uitvoer nie. Dit was die rede vir Jetro se besoek aan Moses, want Moses het probeer om alles self te doen, en dit het op chaos afgestuur. Jetro het Moses se oë daarvoor oopgemaak dat God ook ander bekwame mense voorsien wat sy vrag ligter maak – Aäron en Hur wat sy arms omhoog hou, en ander leiers wat saam met hom die volk kan bestuur. “Dit sal vir jou makliker wees as hulle die verantwoordelikheid saam met jou dra. (Dan) sal jy met die werk kan aanhou,” is Jetro se wyse raad (Eks. 18:22,23).

Paulus het dít goed begryp. Daarom het hy nooit ’n “dominee-kerk” gestig wat na sy pype moes dans nie. Hy het van die begin af mense in die gemeentes gehad om saam met hom die versorging van die gemeente te behartig. Daarom kon die gemeentes later ook sonder hom die mas opkom. Dit was immers nie sy kerk nie, maar Christus s’n.

Die Here het ook vir jou ’n taak in sy koninkryk. Nie op jou eie nie, maar saam met ander. Wat ’n voorreg!

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings