Deel van my daaglikse stiltetyd-roetine is om die “Daily Prayer”-program van die Church of England te doen. Dié program begin elke oggend met ’n Skriflesing uit Psalm 51; ’n skuldbelydenis, dus. By die nadink oor dié gebruik tref dit my hoe ’n groot deel van die Bybelse boodskap gaan oor sonde en skuld. Die hele Ou Testamentiese erediens het om die bevryding van skuld gegaan; vandaar die uitvoerige beskrywing van die offers en die priesterdiens. En – Jesus se sterwe op Golgota was presies hieroor: oor ons skuld en oor die verlossing uit ons sonde.
Martin Luther se groot vraag wat hom uiteindelik tot die stig van ’n nuwe kerk gebring het, was: “Hoe vind ek ’n genadige God?” Sy skuld en sy soeke na verlossing uit sy skuld het hom gedryf. Die vraag oor wat sonde is en hoe ons daarvan verlos kan word, is ook twee van die drie groot bene waarop die ganse Gereformeerde leer gebou is (die derde been is dankbaarheid). Skuldbelydenis vorm daarom ook ’n integrale deel van die liturgie van ’n tradisionele Gereformeerde erediens.
Vandag het mense al minder erg aan die sonde-vraag. Dikwels word skuldbelydenis nie meer in die erediens ingepas nie. En, so sê die verligte teoloë van ons tyd, sonde is nie eintlik so ’n kwessie nie. Dis maar net die kerk wat daarop hamer om ’n houvas op sy lidmate te kan hê. Eintlik gaan dit nie in die Bybel oor sonde en vergifnis en verlossing nie, maar om liefde tot God en die naaste.
Niks nuuts onder die son
Dis natuurlik nie ’n nuwe gedagte nie. Eeue lank reeds is daar stemme wat ons probeer wysmaak dat sonde nie eintlik so erg is nie. Die Franse filosoof Voltaire het al gesê: “God sal vergewe, dis sy werk.” Wat intussen verander het, is dat daar eintlik nie meer sprake van vergifnis is nie. Ons maak almal foute, ja, en dis in ons aard, maar van sonde en (nog erger!) erfsonde wil hulle niks weet nie. Jesus het ook nie gekom om vir ons sonde te kom betaal nie. Hy het ons net kom leer hoe ons God en ons naaste moet liefhê.
Het die mense van ouds wat so bewus was van hulle sonde, dit dan mis gehad? Het Jesus verniet gesterf? Nee, ’n duisend maal nee! Saam met Paulus (Rom. 3:23-24) bely ek met my hele hart: “Almal het gesondig en is ver van God af, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.”
Dít is die evangelie.
Dit is hartseer dat predikante sonde in mooi papier toe draai en nie daaroor praat in gemeentes nie. Ons het n ds Genis in Bellville riebeeck gehad wat gepreek het dat hy In trane was… Oor mense hul nie be keer van sonde.