Miskien was jy ook al daar waar Elia in ons Skrifgedeelte is: terneergedruk, moeg, moedeloos. Al wat jy wil doen, is om jou kop toe te trek en te wens almal wil jou uitlos. Of nog erger: jy wens jy was dood.
Dit kan met enige iemand gebeur, en dit kom oor jou op ’n tyd dat jy dit die heel minste verwag. As ons net twee hoofstukke terugblaai, sal ons ’n heel ander Elia daar aantref. In hoofstuk 17 sê hy vir die goddelose koning Agab dat dit nie weer sal reën nie, behalwe as hy so sê. Dan gaan kruip hy weg by die Kritspruit, waar die Here vir hom gesorg het en die kraaie vir hom kos gebring het. En toe die spruit ook opdroog vanweë die droogte, gaan hy na Sarfat en gaan bly by ’n weduwee, en op sy woord het haar olie en meel nie opgeraak nie. En toe, in hoofstuk 18, vat hy man-alleen al Isebel se 450 Baälpriesters en 400 Asjera-priesters aan, en kom hy teen hulle te staan op die berg Karmel. Julle ken sekerlik die verhaal van die offer wat die Here met vuur verteer het op sy gebed, en dan roep die hele volk uit: “Die Here is God! Die Here is God!” Daardie dag is al die afgodspriesters gedood, en toe het Elia gebid, en die Here het reën gestuur. Ons lees in die laaste vers van hoofstuk 18: “Die mag van die Here het vir Elia in besit geneem, en hy het sy mantel opgebind en voor Agab se wa uit gehardloop tot waar die pad uitdraai na Jisreël toe.”
Hoofstuk 19 begin waar koning Isebel vir Elia laat weet dat sy doodsvonnis klaar gevel is. En dan is dit asof Elia net nie meer krag het om aan te gaan nie. Hy vlug ver suid, tot anderkant Berseba, en gaan sit onder ’n besembos en wens hy was dood. Hy sê vir die Here (19:4): “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.”
Maar die Here is nog nie klaar met Elia nie, en stuur ’n engel om Elia wakker te maak en kos te gee. Toe het Elia verder suid geloop, tot by die berg Horeb in die Sinaï-woestyn, waar die Here aan Moses ook verskyn het.
Ons lees nie hoekom Elia juis soontoe gegaan het nie. Dalk het die Here hom soontoe gestuur, of dalk het Elia soontoe gegaan in die hoop dat hy ook, soos Moses, vir God kan sien (vgl Eks 33), want ons lees in vs 9 dat hy in die grot ingegaan het, klaarblyklik ’n verwysing na die grot waarin Moses was toe God aan hom verskyn het.
En daar, by die grot, vra die Here hom wat hy daar maak. Hoekom is hy daar, ver weg van Israel, waar die Here hom wil gebruik? Elia se antwoord (19:10) is nogal insiggewend. “Ek het my met hart en siel gewy aan u Saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek … Net ek alleen het oorgebly …” Eintlik kom dit daarop neer dat hy homself sit en jammer kry.
Hoe antwoord die Here hierdie lewensmoeë profeet van Hom? Hy antwoord hom met ’n verskyning. Hy sê (19:11): “Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here. Ek wil verbygaan.”
Die Here wil vir Elia nuwe moed en krag gee. Hoe lyk die God wat vir Elia uit die diepste dale van ellende optel?
• Terwyl Elia daar staan, kom daar ’n baie sterk wind wat die berg stukkend ruk en die rotse voor die Here breek. Elia het sekerlik gedink, ja, dís wat ek nodig het: die krag van God se Gees wat soos ’n wind deur my lewe waai! Maar in die wind was die Here nie.
• Toe kom daar ’n aardbewing, soos destyds toe God aan die volk by Sinaï verskyn het. Elia het dalk gehoop God laat die aarde ruk en bewe sodat die mense tot geloof geskud kan word, maar in die aardbewing was die Here ook nie.
• Toe kom daar ’n vuur wat brand en alles voor hom verteer. Elia het sekerlik gehoop God se vuur sal sy vyande verbrand soos destyds met Sodom en Gomorra gebeur het. Maar in die vuur was die Here ook nie.
• Dit was eers in die fluistering van die windstilte wat Elia iets van God se teenwoordigheid aangevoel het. Nie in die opspraakwekkende, die ontsagwekkende, die vreesaanjaende dinge nie. In die ligte aandbriesie.
Ons het almal ’n behoefte daaraan om God te beleef; iets van sy heilige teenwoordigheid te ervaar. Elia was nie anders as ons nie. En tog was dit nie in die buitengewone wat hy God se teenwoordigheid aangevoel het nie. Dit was eintlik eers toe daar niks buitengewoon was nie, dat Elia iets van God beleef het.
Ek wonder of ons nie dikwels ’n ervaring van godverlatenheid het omdat ons op verkeerde tekens wag nie; omdat ons God se stem op verkeerde plekke soek, in die buitengewone, in die opspraakwekkende. God kán natuurlik op sulke maniere ook praat, maar dikwels klink Hy heeltemal anders as wat ons dink, sien ons Hom nie in wondergenesings en massa-bekerings nie, maar daar waar twee of drie in sy Naam saam is; sien ons Hom in die glimlag van ’n kind; sien ons Hom in die skoonheid van ’n sonsondergang; hoor ons Hom in die trooswoorde van iemand wat omgee; hoor ons Hom in sy Woord.
Natuurlik moet ons dit ook nie miskyk nie, dat Elia God eers gehoor het toe dit stil geword het: ’n fluistering in die windstilte. In die geharwar van ons besige lewens gaan ons God moeilik hoor, want ons besigwees maak dat daar te veel geraas is. Jy móét tyd maak om stil te word in God se teenwoordigheid as jy Hom goed wil hoor.
God klink anders as wat ons dikwels dink. Ook in sy spreke klink Hy anders as wat ons sou verwag. Want as die Here met sy lewensmoeë profeet praat, wat sê Hy vir hom? “Toemaar, arme Elia! Ek verstaan jou depressie. Hier is vir jou ’n gawe aftreepakket, jy kan maar gaan rus.” Dís sekerlik wat Elia wou hoor, maar dis nie wat God vir hom sê nie. Hoor wat sê Hy: “Draai in jou spore om …!”
As ek en jy verwag om God se stem in een of ander magtige verskyning te hoor, sal ons heel waarskynlik baie lank wag, want dis nie hoe God met ons maak nie. Sy stem klink veral op waar ons dit nie verwag nie. Daar waar jy stil voor Hom is, of met gespitste ore deur die lewe gaan; waar jy in biddende afhanklikheid voor Hom leef.
Mag jy die stem van die Here op baie maniere hoor, daar waar jy besig is om vir Hom te lewe!
Amen.
Views: 281