SINAIBERG. – Die Israelitiese leier Aäron het vanoggend hier aangekondig dat daar môre ’n fees vir die Here gehou sal word. Hy het dié aankondiging gedoen by die onthulling van ’n beeld van ’n bulkalf wat hy op versoek van die volk gemaak het.
Die beeld van suiwer goud is ’n meesterstuk van vakmanskap. Die goud kom van duisende goue oorringe wat die volk gegee het sodat Aäron dit kon opsmelt om die kalf mee te maak. By die onthulling van die beeld het Aäron sy volksgenote bedank vir die ruimhartige wyse waarop almal bygedra het om die kalf ’n werklikheid te maak.
Die gedagte aan die beeld het ’n tyd gelede ontstaan toe die volk onrustig begin word het omdat hulle leier Moses, ’n jonger broer van Aäron, spoorloos verdwyn het. Hy het bykans sewe weke gelede die berg Sinai uitgeklim en in die wolke wat oor die berg gehang het, ingestap om hulle God te ontmoet. Sedertdien is hy nog nie weer gesien nie, en die vermoede bestaan dat hy in die berg omgekom het. Daar was juis in die tyd dat hy verdwyn het ’n hewige aardbewing en swaar donderweer op die berg.
Moses was die man deur wie God die volk uit Egipte gelei het. Met sy verdwyning is hulle nou herderloos, en die volk het aangedring op iets om hulle te verseker dat die God van Moses nog steeds by hulle is. Dit het Aäron laat besluit om die bulkalf te maak. Die kalf, het hy ons korrespondent verseker, is nie ’n nuwe god nie. Dit is net ’n rydier vir hulle God Jahwe wat hulle uit Egipte verlos het. “As ons die beeld sien, weet ons God is by ons, want Hy ry op die kalf saam met ons deur die woestyn. Daarom gaan ons more feesvier ter ere van die Here.”
Oor sy kunstige vakmanskap is die man agter die beeld baie beskeie. Hy het sy prestasie afgemaak as ’n nietigheid. “Ek het maar net die goud in die vuur gegooi, en toe het die bulkalf as ‘t ware vanself daaruit gekom,” het Aäron gesê.
Lees hiervan in Eks. 32.
FILISTYNE VERPLETTER ISRAEL BY AFEK
Militêre verslaggewer
AFEK. – Die Filistynse leërmagte het gister hier ’n slagting onder die Israeliete aangerig toe hulle nie minder nie as dertig duisend Israelitiese voetsoldate afgemaai het. Hierdie klinkende oorwinning kom slegs enkele dae na ’n skermutseling tussen dié twee leërs waarin vier duisend man van Israel gesneuwel het.
Om sake vir die Israeliete te vererger, is die verbondsark van die Here ook deur die Filistyne gebuit. Die verbondsark is die enkele mees kosbare godsdienstige besitting van die Israeliete, en dateer uit die dae van hulle omswerwinge in die Sinaiwoestyn. Destyds het hulle groot leier Moses die ark laat maak om die twee kliptafels waarop die Tien Gebooie gegraveer is, in te bêre. Volgens oorlewering het hulle God self sy groot wet op dié klippe geskryf.
Die ark is na die eerste nederlaag ’n paar dae gelede uit Silo laat haal, omdat die Israeliete geglo het dat dit sal verseker dat hulle God hulle in die geveg sal help. Die besluit het egter lelik op hulle geboemerang, aangesien dit die Filistyne aangespoor het om nóg harder te veg.
Ons korrespondent in Silo, waar die ark die afgelope veertig jaar in die sorg van die priester Eli was, berig dat die gryse priester gisteraand van skok agteroor van sy stoel geval het toe hy die tyding gekry het dat die ark gebuit is. Hy het sy nek in die val gebreek en is op slag dood.
Lees hiervan in 1 Sam. 4:1-11.
Ons kan God nooit besit nie
Het die Israeliete hier ’n nuwe, ander god ingevoer? Dit lyk tog nie so nie. Die kalf moes dien as teken van God – dié God wat hulle uit Egipte verlos het – se teenwoordigheid. Daarom kondig Aäron “’n fees vir die Here” af (Eks. 32:5).
Hulle motief is duidelik: solank die kalf by hulle is, weet hulle God is by hulle. Hy ry immers op die kalf met hulle saam. Só, het hulle gemeen, kan hulle ’n houvas op God kry.
Hoe futiel dit is om op so ’n manier God te probeer manipuleer, het hulle kort daarna agtergekom toe Moses die beeld tot poeier gemaal het. Dit moes die Israeliete jare later by Afek nogeens leer toe hulle gemeen het hulle kan God met die verbondsark in hulle laer inlok.
Die versoeking is vandag nog net so groot om vir God op een of ander wyse voor te skryf: hoe Hy behoort op te tree, wat Hy moet en nie moet doen nie, hoe Hy ons lewe en wêreld moet regeer. God laat Hom egter nie rondstoot nie – nie toe nie, en ook nie nou nie. Hy is immers die soewereine God van hemel en aarde.
Ons kan Hom nooit besit nie. Hy moet óns besit. Ook vandag.