Iemand het, na aanleiding van my blog “Sondig” van verlede week, opgemerk dat God in die Ou Testament baie streng was oor sonde. Mense het selfs gesterf as straf op sonde. Hy gaan verder en vra of dit dan nie vir ons ’n aanduiding behoort te wees dat ons baie ernstiger na die sonde moet kyk nie. Het die Nuwe Testament (Jesus se versoeningsterwe) nie veroorsaak dat ons God nou te ligtelik opneem nie?
Laat ek begin met ’n opmerking: Dit sal ’n baie groot fout wees om God te ligtelik op te neem, of om te meen dat ander reëls vandag geld as destyds. Jy maak ook ’n fout as jy dink dat God in die Ou Testament sommer links en regs sonde met die dood gestraf het.
Die waarde van die lewe in Bybelse tye
Ek dink ons kan ons moeilik terug verplaas in die Bybelse tye. Tóé het die samelewing anders gedink oor straf as wat tans die geval is. Lewens was goedkoop. Mense is maklik doodgemaak vir ’n verskillende klomp oortredings. Die talle oorloë het ook nie gehelp dat mense respek vir die lewe gehad het nie.
Interessant dat God teen dié traak-my-nie-agtigheid oor die lewe protesteer, selfs in die Ou Testament. In Gen. 4 beskerm Hy Kain teen bloedwraak, en later weier Hy dat Dawid ’n tempel bou, omdat Dawid te veel bloed vergiet het (1 Kron. 22:8).
Vir God was die lewe van die begin af heilig; vandaar die sesde gebod: “Jy mag nie moord pleeg nie.” Ons moet egter aanvaar dat dit lank geneem het voordat die mense begin verstaan het dat menselewens in God se oë kosbaar is en nie sommer net beëindig mag word nie.
Oorgangstye
Dan is dit ook so dat Israel se geloof in hierdie klimaat gevestig moes word. Die straf wat God vir oortredings toegelaat en selfs beveel het, was in ooreenstemming met die tyd waarin hulle geleef het, en dus baie strenger as wat ons sou verwag. Dit was egter noodsaaklik, omdat Israel moes leer dat God algehele gehoorsaamheid eis. Dit is hoe ’n mens Akan se dood (Jos. 7) moet verstaan: God het van Israel in hulle nuwe land algehele gehoorsaamheid geëis. Dieselfde geld vir Ananias en Safira se dood (Hand. 5). Die jong kerk moes onmisverstaanbaar leer dat integriteit en eerlikheid nie onderhandelbaar is nie.
Hier kom egter nog iets by, en dit is dat ons ’n onderskeid moet tref tussen die doodstraf as ’n staatkundige instrument om wet en orde te handhaaf (Rom. 13:4), en die dood as straf op sonde. Onthou dat Dawid die koning was. As hy in 2 Sam. 4 beveel dat die deugniete wat Is-Boset vermoor het, summier tereggestel word, was dit in die eerste plek as staatsman en regter.
Jesus
’n Verdere oorweging wat ons in gedagte moet hou, is wat Jesus ons geleer het. Sy boodskap was een van liefde en vergifnis, en ek dink nie ons siening vandag oor die kosbaarheid van menselewens kan van Jesus se leringe losgemaak word nie.
Dit is natuurlik ’n heel ander saak as dit oor sonde gaan. As ons vandag na sonde kyk, moet ons dit in die eerste plek doen as mense wat anderkant Golgota leef. Dáár het Jesus immers beslissend en eenmalig God se straf vir sonde betaal; ook my en jou sonde. Die kruis wys vir ons, meer as enige iets anders, hoe God oor sonde dink. Jesus se leringe van vergifnis en versoening en die ander wang draai verander niks aan die feit dat God die sonde haat nie.
Sonde vs. sondaar
Maar dan moet ons bysê: God haat die sonde, nie die sondaar nie.
Die Ou Testament help ons om iets daarvan te verstaan, maar uiteindelik is dit in Jesus se kruisdood wat ons dit die beste begryp. Sonde is ’n gruwel in God se oë. Ek en jy moet ook só oor sonde dink. Maar God het ons, mense, oneindig lief, en ek en jy moet ook.
In die lig van Jesus se offer behoort ons ernstiger oor sonde te dink, nie ligter nie.
Views: 2