Ons praat die anderdag oor daardie ongemaklike situasies waarin ’n mens soms kom, waar die gesprek of gebeure jou as gelowige erg ongemaklik maak, en jy dan onseker is wat die regte ding is om te doen. Sê jy iets, gaan jy aanstoot gee, en dalk ook aanstoot kry. Sê jy niks, is jy ontrou aan jou roeping om tydig en ontydig die woord te verkondig, soos Paulus in 2 Timoteus 4:2 skryf: “… verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee …” Petrus skryf in dieselfde trant in 1 Petrus 3:15b: “Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.”
Die gesprek het toe uitgekom by die sieklike politieke korrektheid wat tans heers en maak dat ’n mens te bang is om jou mond oop te maak. Ek glo ons as gelowiges moet heelwat meer moed aan die dag lê om presies te doen wat Paulus en Petrus ons aanraai. Party goed móét gesê word, hoe sleg dit ook al mag wees.
Maar dis nie altyd beter om te praat nie. Ongelukkig is dit so dat ’n mens ewe goedbedoelend soms meer kwaad as goed kan doen deur wat jy sê. Jy beland dalk by ’n bachelorette partytjie waar dit heelwat anders gaan as wat jy verwag het; die drank vloei, die stories is onder die belt, en dan daag ’n ontkleedanser ook nog op. Wat nou? Sê jy iets, gaan jy waarskynlik die mense wat die geleentheid gereël het, in die gesig vat, ’n klomp mense kwaad maak, en verder niks bereik nie. ’n Beter roete sal waarskynlik wees om op te staan en bloot te sê jy voel nie gemaklik met wat aan die gebeur is nie en jouself verskoon. Sonder om veel te sê het jy dan heeltemal genoeg gesê, sou ek dink.
Daar was ’n tyd toe ek op Facebook deelgeneem het aan al wat ’n debat was oor Jesus en oor geloof. Ek het uiteindelik, ná vele beledigings wat my kant toe geslinger is, tot die gevolgtrekking gekom dat ’n mens nie juis ’n wesenlike bydrae op só ’n manier kan lewer oor geloofskwessies nie. Jy oortuig niemand nie en dit rafel meestal uit en ontaard in ’n moddergooiery. ’n Uitspraak van Jesus wat my destyds finaal laat besluit het om my aan sulke debatte te onttrek, is dat ’n mens nie jou pêrels voor die varke moet gooi nie, want hulle sal dit met hulle pote vertrap (Matteus 7:6). Dis is presies hoe Jesus self gemaak het. Hy het nie gehuiwer om te sê wat gesê moes word nie, maar toe Hy onskuldig verhoor is, het Hy stilgebly (Markus 14:61). Veral treffend is sy swye toe Pilatus Hom na Herodes gestuur het. Herodes het net belang gestel om te sien hoe Jesus ’n wonderwerk of twee verrig, maar Jesus het hom niks geantwoord nie (Lukas 23:8-9).
Die Prediker skryf dat daar ’n tyd is vir alles; “’n tyd om stil te bly, ’n tyd om te praat” (3:7). Insiggewend dat hy eerste noem stilbly, en dán praat. Te veel woorde word goedkoop woorde. En daarvan het ons oorgenoeg. Daarom moet ons Paulus se raad in Kolossense 4:6 ter harte neem: “Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.” En laat ons bid om die wysheid van Bo om te weet wanneer om stil te bly en wanneer om te praat. En as ons praat, ons dit só sal doen dat dit in goeie smaak en tot seën sal wees. Ons is immers die draers van hoop in hierdie stukkende en verwarde wêreld.
Hierdie laat my dink aan wat met my buurvrou in die oord gebeur het. Sy is as kind gruwelik deur haar ma mishandel. Nie net is sy met spantoue en ‘n sambok geslaan nie, maar haar ma het haar haar pa se “teelsel” genoem en haar eintlik nooit as kind aanvaar nie. Nou, oor die 80 jaar oud, kan sy steeds nie hierdie trauma agter haar laat nie. Toe kom ‘n vroom tannie haar teregwys en sê as sy nie haar ma vergewe nie, sal sy hel toe gaan. Die gevolg was net groter woede. Jy sal dalk nie met my saamstem nie, Jaco, maar ek dink nie eers sy het nodig om haar ma te vergewe nie. Haar ma het haar tot die einde van haar lewe geterroriseer en haar naam orals sleg gemaak. Sy het nooit erken dat sy gefouteer het nie en nooit om verskoning gevra nie. Na haar dood het my buurvrou van alle plekke in haar Bybel nog ‘n onvoltooide brief aan ‘n niggie gevind waarin sy vertel hoe sleg haar dogter is. Ek dink nie eers die Here vergewe in so ‘n geval nie. “As julle julle sondes bely, God is getrou en regverdig om julle die sondes te vergewe en julle van alle ongeregtigheid te reinig.” (My aanhaling is miskien nie heeltemal korrek nie, dalk uit ‘n verouderde vertaling.) Wat hierdie episode na my mening bewys, is dat ‘n mens in jou vroomheid baie meer kwaad as goed kan doen. Ek probeer maar gedurig by haar tuisbring dat dit nie die Here is wat vir haar pyn verantwoordelik is nie. Hy het nooit belowe dat Hy alle pyn van ons sal weghou nie, (“Op die aarde sal julle verdrukking hê.”) maar dat hy wel na sy kinders omsien en alles tot ons beswil laat dien. Sy moet die wraak aan die Here oorlaat en daarin vrede probeer vind. Ek dink nie ek slaag baie goed nie, maar sy word minstens nie vir my kwaad nie en kom telkens na my toe met haar hartseer. Miskien is dit ook maar terapie om iewers oor haar seer te praat. Ek vind jou Bybeldagboek en preke van groot waarde. Groete en liefde aan jou en Elmien.
Ja, jou buurvrou se verhaal is hartverskeurend. In so ‘n situasie sou ek nie dink dis die regte ding om vir haar te preek of aan te praat oor vergifnis nie. Sy het eerder net ‘n oor nodig, en iemand wat omgee en probeer verstaan en ondersteun. Gelukkig kan ons ons seer by die Here los, dat Hý daarmee handel. Dit bring op ‘n vreemde manier troos dat ‘n mens die mense wat jou seergemaak het, by die Here kan verkla en die saak dan in sý hande oorgee.
Ek stem heelhartig met jou saam, Anna. Dankie dat jy daar is vir haar.