DIE LEWE IS LEKKER

Ek het die verhaal gehoor van Jan wat graag per passasierskip Europa toe wou gaan. Maar soos jy sal weet, kos die vaart ’n aardige bedraggie. Toe Jan al sy spaargeld bymekaarskraap, het hy net-net genoeg geld om sy bootreis te betaal. Ekstra geld was daar nie. Toe maak hy ’n plan. Gelukkig is hy baie lief vir kaas, en dit kan ’n ruk hou. Die vaart sou tien dae duur, en hy werk toe uit hoeveel kaas hy nodig sal hê om hom deur te sien op die boot. Die eerste paar dae op die boot het dit goed gegaan en was die kaas lekker, maar hoe langer die reis, hoe teësinniger eet Jan aan sy kaas. Veral as die heerlikste kosgeure uit die eetsaal na hom toe aangewaai kom, het die kaas hom gewurg. Toe hulle ná tien dae Rotterdam se hawe in Nederland nader, kon hy dit nie meer vat nie. Hy gaan toe na die hoofkelner en soebat dat hy hom net die één ete, die laaste ete van die vaart, in die eetsaal sal toelaat. Hy sal enige iets doen – skottelgoed was, tafel afdek, enige iets, solank hy net ’n ordentlike bord kos op die boot kan kry. Die kelner het hom ietwat oorbluf aangekyk. “Maar Meneer,” wou hy weet, “het jy dan nie geweet dat die etes by jou kaartjie ingesluit is nie?”
Jesus sê Hy het gekom dat ons die lewe kan hê, en dit in oorvloed (Johannes 10:10), maar so dikwels leef ons soos Jan. Ons wurg aan die droë, muwwe stuk kaas terwyl God se oorvloed vir ons beskikbaar is! Deel van hierdie oorvloed lê opgesluit in die Tien Gebooie. As jy verstaan dat die Tien Gebooie nie ’n klomp wette is wat God uitgedink het om die lewe vir ons te bederf nie, maar ’n stuk genade waarmee Hy ons wil help om die lewe te geniet, kan jy elke dag by ’n feesmaal aansit. Koning Dawid bely dit in soveel woorde in Psalm 23:5.
So: jy kan self kies. Hou aan wurg, of maak jou kop oop vir die oorvloed wat Jesus vir jou wil gee.

 

DIE TIEN GEBOOIE

Ek is die Here jou God wat jou uit die greep van Satan en sondedood bevry het.

1
Jy moet My alleen aanbid en dien. Onthou dat niks of niemand anders jou kan red nie: nie jou geld of jou werk of jou sport of jou vriende nie. Ek het jou deur die bloed van Jesus Christus Myne gemaak, en Ek wil jou vir My alleen hê.

2
Moenie self besluit hoe jy wil hê Ek God moet wees nie, want Ek is groter as wat jy jou ooit kan voorstel. Jy moet my vereer en liefhê soos Ek jou in die Bybel leer.

3
Moenie ligtelik my Naam op jou lippe neem om krag aan jou woorde te gee of as jy skrik nie. My Naam is heilig, en jy moet dit net gebruik as jy My aanroep in gebed, of as jy oor My getuig. Onthou ook dat jy as Christen die Naam van my Seun Jesus Christus dra. Leef só dat sy Naam in jou lewe geëer word.

4
Sondag is die dag waarop Jesus opgestaan het uit die dood. Op dié dag wil Ek hê jy moet die opstanding vier. Rus van alles wat jou so besig hou in die week, sodat jy tyd het vir My en vir jouself en jou mense.

5
Eer jou ouers, en sien na hulle om as hulle oud geword het.

6
Mense is vir My kosbaar, en hulle moet vir jou ook kosbaar wees. Moenie iets doen wat ander se lewens in gevaar stel nie, en moenie hulle te na kom deur jou woorde of jou dade of gedagtes nie.

7
Die huwelik is heilig, en jy moet alles in jou vermoë doen om jou eie huwelik in stand te hou en ander s’n te eer.

8
Elke mens het die reg om dinge te besit, en jy moet dié reg respekteer.

9
Praat altyd die waarheid. Moenie leuens oor ander versprei nie; nie openlik nie, en ook nie agteraf nie.

10
Moenie só op jouself ingestel wees dat jy nie ruimte in jou hart het vir ander nie. Gun ander mense hulle vreugdes en suksesse en wees saam met hulle daaroor bly, want dit is Ek wat dit vir hulle gegee het.

 

’N RESEP VIR DIE LEWE

Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.

Die groot koning Dawid is volgens God se eie uitspraak ’n man so na sy hart (Hand. 13:22). En in Psalm 23:5 sê hy die Here behandel hom soos ’n eregas. Dit wil nogal gedoen wees! Dink ’n bietjie: God se eie witbroodjie wat spesiale voorkeurbehandeling kry. Wie sal nou nie graag dié onderskeiding wil hê nie? Maar jy kan dit ook wees! Dawid se resep is in die Bybel vir ons opgeteken, en dis boonop ’n redelik eenvoudige resep is.
Maar wag, voordat jy té opgewonde raak, moet ek eers iets verduidelik oor resepte. My vrou is ’n wonderlike kok. Sy kan die lekkerste kos maak, en dis nie sommer net stories nie. Baiekeer vra mense of hulle die resep kan kry, en as sy dit dan vir hulle gee en hulle dit gaan maak, smaak dit nie soos hare nie. Party vriendinne van haar was al selfs vies en het geskimp dat sy nie vir hulle die hele resep gegee het nie, en daarom het hulle poging nie so lekker gekom nie. Maar dit was nie die rede nie. Jy sien, ’n resep is maar net ’n paar woorde op ’n stukkie papier. Daarmee alleen is jy nog nie ’n bobaas kok nie. Jy moet weet hóé, en dit verg oefening, en aanvoeling voordat jy dit regkry.
Om terug te keer tot Dawid se resep – dis ’n eenvoudige resep: Hy het van die wet van die Here gehou. Hy het ’n hele elle-lange psalm geskryf oor die wet: psalm 119, die langste psalm in die Bybel. En in dié psalm verwys hy in elke enkele versreël na die wet. Hy noem dit verskillende name – gebooie, weë, verordeninge, woord, belofte, bepalinge, insettinge en so aan – maar die hele tyd is hy besig met die Here se wil vir sy lewe. En dis vir hom lekker. Op ’n plek (119:97) roep hy uit: “Hoe lief het ek u wet!”
Sien jy hoekom sê ek dié eenvoudige resep is dalk nie so maklik nie? Dit vra oefening, en geduld, en genade, om dit reg te kry om die wet van God lief te hê en daarvolgens te lewe.
Jy is heel moontlik nou nie meer so lus vir Dawid se resep nie. Jy brom dalk binnensmonds en is selfs lus om dié simpel ou boek neer te sit. Die wet liefhê? G’n wonder Dawid was God se witbroodjie nie, dink jy miskien. Is die wet dan nie ’n pretbederwer nie? ’n Klomp reëls wat sê jy mag nie dít nie en jy mag nie dát nie? Dit voel dalk vir jou ’n mens sal jou nog met die wet kan versoen en dit gelate aanvaar as deel van die lewe voor die Here. Maar liéfhê! Dit klink ’n bietjie dik vir ’n daalder.
Maar wag, voordat jy daaroor klaar besluit, dink eers ’n bietjie aan ’n rugbywedstryd. Sê nou maar net daar was nie iets soos ’n kantlyn nie. Hoe dink jy sou die wedstryd verloop het as ’n speler enige plek kon hardloop, tot selfs tussen die toeskouers in, en hy is nooit uit nie? Of hy kon die bal oor die draad skop, en steeds gaan die spel aan? Ek het ’n idee só ’n wedstryd sal redelik chaoties verloop, om die minste daarvan te sê. Om sinvol rugby te kan speel, is ’n rugbyveld met kantlyne nodig. Die kantlyne baken die speelveld af waarbinne die wedstryd beslis word. As die bal – of ’n speler met die bal – oor die kantlyn beweeg, steek die grensregter sy vlag op en blaas die skeidsregter sy fluitjie. Die bal is uit die veld, en die spel stop.
’n Speler sou seker kon besluit om die kantlyn te ignoreer en met die bal te bly hardloop al het hy ook uitgetrap. Hy sou kon aangaan en selfs die bal agter die pale gaan druk, maar dit sal hom niks help nie. Die drie sal nie toegeken word nie, want hy het uitgetrap.
Dís (onder andere) wat God se wet is: kantlyne. Dit baken vir ons die veld af waarbinne ons die spel van die lewe kan speel. Solank jy op die speelveld is, kan jy met oorgawe die spel van die lewe geniet. Dis natuurlik nie die enigste manier om te lewe nie. Buitekant dié lyne kan jy ook aangaan met die lewe. Jy kan jou selfs verbeel dis lekker om jou nie aan die kantlyne te steur nie; dat dit net die sissies en die koeke is wat hulle aan God se reëls steur. Maar wees gewaarsku: buite die speelveld is jy op jou eie. Daar is nie ’n grensregter wat sy vlag sal opsteek om jou weer op die veld te kry nie.
Jesus vertel mos vir ons die gelykenis van die ou wat besluit het hy is moeg vir die vervelige lewe op die speelveld. Sy pa se wakende oog en sy broer sy alewige pligsbesef kon hy nie ’n oomblik langer verduur nie. Hy wou sy eie reëls maak, sy eie baas wees. Hy wou die lewe geniet. En toe hy sy oë uitvee, sit hy in ’n varkhok, besig om varke op te pas, en is hy so honger dat selfs die varkkos lekker begin lyk het. Dan moet ’n man darem baie honger wees! Lees gerus Luk. 15:11-32. Dis ’n wonderlike verhaal.
Die wet van God is natuurlik baie meer as net die kantlyne wat vir ons vertel waar die speelveld is. Dit is ook die reëls vir die spel self. En as jy nou jou sport ken, sal jy weet spelreëls se doel is nie om die spel sleg te maak nie. Die hele idee met reëls is om die spel te laat vloei, om die spel te laat wérk, sodat die spelers (en toeskouers) dit kan geniet. Hoe sou ’n netbalwedstryd wees as jou opponent met die bal onder die arm begin hardloop? Of as sy jou arms vasgryp as jy wil doel? So is God se wet ook: reëls om ons te help om die spel van die lewe só te speel dat ons, en ander saam met ons, dit kan geniet.
Ek dink ons is baiekeer nie lus vir die wet nie, omdat ons dit as ’n lat sien waarmee ons geslaan word. Dawid het anders na die wet gekyk, en dit liefgekry. Want hy het raakgesien dat die wet hom wil help om die lewe voluit te leef binne die ruimte wat God bedoel het, en soos wat God dit bedoel het. Daarom sê hy in die einste Ps. 119:9: “Hoe kan ’n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord!”

***

Die wet van die Here wil ons help om die spel van die lewe met oorgawe te kan speel op só ’n manier dat ons dit sal geniet. Die wet is nie daar om ons lewe aan bande te lê nie; dis daar om ons vry te maak om die lewe te geniet. Maar daarby sal ons later weer terugkom.
Die wet is daar om ons te help om sinvol op die speelveld besig te wees. Die spel van die lewe is natuurlik niks anders nie as om só te lewe dat ons hemelse Vader in ons lewens geëer sal word. Ons kan dit ook anders stel: om te lewe soos kinders van God. Om Hom bo alles lief te hê, en ook die ander mense wat deur Hom gemaak is. Daar is mense wat dit nie verstaan nie. Hulle maak van die wet ’n doel op sigself. Vir hulle gaan die onderhouding van die wet presies net daarom: om die wet te onderhou. Hulle dink hulle sal God tevrede kan stel en tevrede kan hou as hulle al die gebooie nakom, of liewer: as hulle nie een van die gebooie oortree nie. Maar dís nie hoe ons God dien nie. Ons diens aan God is nie bloot die nakom van wette, of die nie-oortree van wette nie. Diens aan God is in die eerste plek geleë ’n verhouding met Hom, nie ’n klomp reëls nie.
Dis hoekom die Here Jesus glad nie tevrede was met die Fariseërs nie. Hy het hulle by geleentheid (Matt. 23:13-36) uitgeskel vir witgepleisterde grafte, en hulle blinde dwase en huigelaars genoem, en slange, addergeslag – nie juis vleiende beskrywings nie! Vir hulle was dit bo alles belangrik om nie die wet van God te oortree nie. Daarom, om die beeld van die rugbywedstryd verder te rek, het hulle nooit op die veld gedraf nie. Of liewer, hulle ís op die veld, maar hulle skop nooit af nie. Hulle sit met gekruisde arms in die middel van die veld, te bang hulle kom naby die kantlyn en trap dalk uit, of hulle gaan onkant. As jy nie die spel speel nie, so het hulle geredeneer, kan jy ook nie die reëls oortree nie! Nouja, hulle het sekerlik selde uitgetrap, maar hulle het ook nooit die spel gespeel nie. En almal wat dit durf waag het om die bal op te tel om te begin speel, het hulle gekeer. Jy kan dalk net iewers per ongeluk oor die kantlyn gaan, en dit mag nie. Gaan dadelik na die middel van die veld en sit stil op jou plek!
Dit laat my nou dink aan iets wat my een dogter op ’n keer opgemerk het. Ek het gesit en ’n rugbywedstryd op die TV gevolg. Sy het die hele affêre so sit en betrag; hoe die ouens op die veld in die losgemaal spook om besit van die bal en so. Toe sê sy sy kan nie verstaan hoekom hulle nie vir elke span ’n bal gee nie. Dan hoef hulle nie so te baklei om die bal in die hande te kry nie.
Die Fariseërs wou dít nie doen nie. Hulle plan was eerder om die bal heeltemal af te vat, en die spel só dood te druk. Jy kan vir jouself indink watter saai affêre dit afgegee het. Die hele lewe is met ekstra reëls en wette volgestop; wette wat hulle gemaak het om te keer dat jy die eintlike groot wet, die Tien Gebooie, oortree. Party van dié wette wat hulle gemaak het, was nogal lagwekkend. ’n Vrou mag byvoorbeeld nie op die sabbat in ’n spieël gekyk het nie, want as sy dalk ’n grys haar sien, sal sy nie die versoeking kan weerstaan nie. Sy sal hom uittrek, en dit kom neer op oes. En oes is werk. Almal weet tog jy mag nie werk op die sabbat nie. Dus, om ’n vrou te help om die sabbatswet (die vierde gebod) te onderhou, maak hulle nóg ’n wet: jy mag nie op die sabbat in die spieël kyk nie.
Hulle het darem toegewings ook hier en daar gemaak, soos byvoorbeeld vir iemand wat dringend op die sabbat ’n reis moes onderneem. Só ’n persoon was natuurlik in die moeilikheid, want op die sabbat mag jy nie verder as ’n sabbatsreis afgelê het nie, en dit was nie baie ver nie; net omtrent nege honderd meter. Hoe nou gemaak? Die antwoord is eintlik baie eenvoudig. Kyk, wanneer jy ter see is, geld die beperking van die sabbatsreis natuurlik nie. Jy kan tog nie in die middel van die oseaan anker gooi en ’n dag lank op een plek bly nie. Dus: as jy op die water is, kan jy so ver reis soos wat nodig is. So al wat jy nou doen as jy dringend op die sabbat verder as nege honderd meter wil aflê, is die volgende: Jy laai ’n balie vol water op ’n wa, en dan sit jy bo-op dié balie water, en siedaar! Jy is op die water; jy kan nou na hartelus jou reis aanpak en so ver reis soos wat jy moet, sonder om die wet te oortree.
Die Fariseërs het geglo as hulle al die wette noukeurig kan nakom, of liewer, as hulle geen wet oortree nie, is hulle saak met God reg. Jesus verwyt hulle en sê hulle is so bang hulle oortree die wet, dat hulle nooit aan die spel van die lewe deelneem nie. Vir hulle was die wet nie riglyne oor hoe om die lewenspel te speel nie; vir hulle was die wet ’n klomp “magnies” en “moenies” waarvan jy moes wegbly om vir God aanvaarbaar te wees. Só kom hulle nooit daarby uit om vir God lief te hê, en hulle naaste nie. En dít is in God se oë nie goed genoeg nie. Om Jesus se woorde te gebruik (Matt. 5:20): “As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”
Daarmee het ons by die hele punt van die wet gekom: die wet van God wil ons nie ’n klomp goed verbied en daarmee is dit klaar nie. Die wet vra ons eerder om ’n klomp goed te dóén. Jy het dus nog nie geleef volgens die wet as jy niks gedoen het (en dus streng gesproke ook nie een van die gebooie oortree het) nie. Want om God lief te hê, en jou naaste, is ’n positiewe ding. Met niksdoen sal jy nooit as te nimmer daaraan gehoorsaam kan wees nie.

***

Daar is nog ’n ding wat jy oor die wet van God moet verstaan voordat ons een vir een na hulle kan kyk. Ek het eenkeer gehoor iemand sê die wet is soos tien goue trappies na God se hart. As jy in God se hart wil inkruip en vir jou ’n plek in die hemel wil verseker, gehoorsaam die Tien Gebooie!
Nee, nee, ’n duisend maal nee! Die Tien Gebooie is nie ’n goue pad waarlangs ’n mens God se kind word nie. God het die Tien Gebooie gegee aan sy volk Israel, nie aan ’n klomp ongeredde heidene nie. Daarom begin die wet nie met die woorde: “Ek is die Here God. Volg hierdie reëls as jy aan My wil behoort” nie. Nee, dit begin met die aankondiging dat die wet bedoel is vir mense wat klaar God s’n is; mense wat klaar verlos is: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het,” lui die eerste reël in Eksodus 20:2.
Die Tien Gebooie is vir die mense wat klaar vir God se span gekies is en reeds opgedraf het. Die fluitjie het geblaas, en al wat ek en jy moet doen, is om die wedstryd voluit te speel op God se speelveld, en volgens sý reëls. En wat ’n opwindende wedstryd is dit nie!

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.