Jy mag naas My geen ander gode hê nie. (Eksodus 20:3)
’n Vriend van my het in die Verre Ooste gaan toer. As aandenking het hy onder andere ’n Boeddha-beeldjie saamgebring. Jy weet mos: die vet Chinese mannetjie wat so kruisbeen sit. Dié beeldjie het ’n plekkie in hulle sitkamer op die kaggelrak gekry. Toe die diaken op sy volgende rondte by my vriend se huis kom, val sy oog op die klein Boeddha wat daar op die kaggelrak sit. Hy het net daar in die deur vasgesteek en omgedraai. Hy was baie beslis oor die aangeleentheid. Hy kom nie in ’n huis waarin daar ’n afgodsbeeldjie staan nie; en dit nogal op ’n ereplek in die huis! My vriend was nogal ontsteld oor die voorval, want hy is ’n baie toegewyde kind van die Here. Hy het nooit eers aan die moontlikheid gedínk dat hy die Eerste Gebod oortree met dié beeld nie. Vir hom was dit bloot ’n aandenking van sy toer.
As jy van ander gode hoor, waaraan dink jy? Dalk regtig ’n ander god, soos Boeddha, of die duisende gode van die Hindoes, of dalk Allah? Want dís wat die Israeliete in die gebod gehoor het: die gode van die nasies om hulle. Baäl en Astarte en Dagon, om maar ’n paar te noem.
Ek dink nie die diaken was reg om my vriend te verkwalik nie. Vir min van ons is die gode van ander godsdienste ’n probleem soos dit vir Israel ’n probleem was. Maar dit beteken nie dat hierdie gebod nie juis meer iets vir ons vandag te sê het nie; inteendeel.
Moderne voorbeeld
Ek het iewers die verhaal gehoor van ’n vrou wie se lewensideaal dit was om in die VSA te gaan toer. Sy het dit nie breed gehad nie, maar sy het haar droom nooit vergeet nie. Lank het sy elke sent wat sy kon afknyp, gespaar vir haar toer na Amerika. En toe, uiteindelik, ná jare se spaar, kon sy die reis bekostig. Sy het brosjures by die reisburo gaan haal, haar reis sorgvuldig beplan, en haar vliegkaartjie bespreek. Toe tref die ramp haar: sy word siek, só siek dat sy van haar toer moes afsien en die kaartjie moes kanselleer. Om die waarheid te sê, die dokter het haar meegedeel dat sy nie meer lank tyd gehad het om te lewe nie. Die vrou was verpletter deur die nuus. Nie net omdat sy sterwend was nie, maar ook omdat sy nou nooit haar lewensideaal sou kon verwesenlik nie. Weke lank het sy getreur oor haar verlies. Die dominee het probeer troos, maar tevergeefs. Die teleurstelling was net te groot. Hoeveel het sy nie opgeoffer om Amerika toe te gaan nie, en dit alles puur verniet! “Maar Sarie,” het die dominee probeer troos, “jy ís bespreek vir ’n reis. Jou bestemming het net verander. Jy gaan nie meer Amerika toe nie. Maar waar jy heengaan, is daar nie meer pyn en siekte en hartseer nie, en wat meer is, ons Here Jesus wag daar op jou. Jy sal by Hom wees!” Toe antwoord die sterwende vrou: “Ja, dominee, maar jy verstaan nie. Ek sou liewer graag Amerika toe wou gaan.”
Amerika – of dan die reis daarheen – het vir hierdie vrou ’n ander god geword. Want jy sien, ’n ander god kan enige iets of iemand wees, goed óf sleg, wat in jou lewe só belangrik word dat dit uit die ruimte groei waar dit, soos God dit bedoel het, sinvol ’n plek in jou lewe kan inneem. Uiteindelik kan só ’n afgod die plek wat God in jou lewe behoort te kry, ook begin verdring. Dit kan selfs jou ou of jou meisie wees! Dit kan kos wees, of jou rekenaar, of jou stokperdjie, of sport, of geld, of jou liggaam, of jou volk. Drank hoort ook in die lysie. Vir party mense is politiek en die ekonomie ’n afgod, vir ander is dit seks, en vir nog ander hulle werk. Jou verstand, of jou ego is ook twee kandidate wat ’n mens maklik laat struikel. Onthou, dit hoef nie iets slegs te wees nie! Meestal is dit nie iets slegs nie. Dis net: in jou lewe, jou gedagtes, jou prioriteite, neem dit die plek van God in, sodat God uitgeskuif word. Soos die vrou wat Amerika uiteindelik bokant God gestel het in haar ideale.
Een van die ontstellendste voorbeelde van hoe afgode werk, het ek in ’n tante van my se lewe gesien. Sy was ’n predikantsvrou en die gemeente se orrelis. Op ’n stadium het sy besluit om weer te begin orrellesse neem, sodat sy haar tegniek kan verbeter. Sy het die lesse verskriklik geniet, en as sy ’n tydjie gehad het, is sy kerk toe om te gaan oefen. Orrelspeel, het sy vir my gesê, was vir haar die lekkerste ding wat sy nog ooit gedoen het. Toe, op ’n dag, begin haar orrelspelery haar pla. Sy spandeer só baie tyd voor die orrel dat sy nie meer genoeg aandag aan haar gemeentewerk gee nie. Net daar het sy haar orrelpos bedank en opgehou orrelspeel.
Jy sal seker dink sy het heeltemal oorreageer. Dis tog nie ’n sonde om orrel te speel nie, en met haar spel het sy iets vir die gemeente beteken. Maar vir haar het die orrel-besigheid handuit geruk. Dis die moeilikheid met afgode. Ongemerk neem hulle ’n al groter deel van jou lewe in, totdat dit ’n monster word waaroor jy nie meer beheer het nie.
My tante se oplossing was redelik drasties. Kon sy nie net die orrel so ’n bietjie afgeskaal het nie?
Die moeilikheid is, as ’n ding eers ’n afgod in jou lewe geword het, kan jy nie meer afskaal nie. Hoe skaal jy ’n afgod af? Dien jy hom net ’n bietjie minder, of net met minder oorgawe? Dis baie soos die dilemma van ’n alkoholis: hy kan nooit weer “normaal” met alkohol omgaan nie. En dis hoe my tante oor die orrel gedink het.
Miskien dink jy nou my tante was verspot. Maar die punt is: Afgode is nie kinderspeletjies nie. As een van hulle jou eers beet het … As ’n mens boonop die woorde van die groot hervormer Johannes Calvyn in gedagte hou, maak dit my nogal benoud. Calvyn het gesê ’n mens is ’n afgodsfabriek. Alles, letterlik alles kan in sy hande ’n afgod word, dwing om ’n afgod te word. Alles waarop jy jou hart sit, kan só buite verhouding in jou gedagtes en hart groei dat dit jou lewe oorspoel. Dis nou as jy dit toelaat.
Ander soort afgode
Maar daar is natuurlik ander soort afgode ook, waaroor mense nie hardop praat nie. Party van hulle het direk met die ryk van die Bose te make. Alles lyk miskien vir jou veilig of selfs na onskuldige pret, soos fortuinvertellers, of glasie-glasie speel, of dalk die horoskope wat in die tydskrifte staan. Ander dinge in dié rigting is minder onskuldig, soos die Sataniste, towery en goëlery. Kurt Koch, ’n gesaghebbende op die terrein van die okkulte, het gesê dat Satan agter al dié soort goed, hoe onskuldig dit ook al mag lyk, sit en gryns, want as jy by hierdie dinge betrokke raak, kry hy ’n handvatsel waaraan hy jou kan vasgryp. En ’n ander groot Duitse teoloog, Karl Barth, het weer gesê dit het niemand nog goed gedoen om te lank en te diep in die ryk van die Bose in te kyk nie. Bly liewer weg van alles wat net lýk na donker dinge. Paulus waarsku ons nie verniet in Ef. 6:12 nie: “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie maar teen die bose magte van hierdie sondige wêreld, teen die bose geeste in die lug.”
***
Hopelik het ek jou nou banggepraat, want daar ís magte en kragte aan die werk in ons wêreld wat ek en jy nie kan sien nie; magte wat die lewe vir jou baie onhanteerbaar kan maak.
Daarom die eerste gebod. Laat God die enigste God in jou lewe wees. Laat Hy jou hart en lewe beheer, want Hy is nie ’n monster wat jou lewe kan verwoes nie. By Hom is jy veilig en geborge. Sy juk is immers sag en sy las is lig (Matt. 11:30).
Jy moet My alleen aanbid en dien. Onthou dat niks of niemand anders jou kan red nie: nie jou geld of jou werk of jou sport of jou vriende nie. Ek het jou deur die bloed van Jesus Christus Myne gemaak, en Ek wil jou vir My alleen hê.
Teksverse om aan vas te hou:
Deuteronomium 6:4,5
Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.1 Samuel 12:21
Moenie agter afgode aan wegdraai nie. Hulle kan nie help of red nie, want hulle is niks.Psalm 16:3
Die afgode in die land, so aantreklik vir baie – met hulle wil ek niks te doen hê nie.
Views: 144