Timothy Keller skryf in sy boek “Prayer” iets wat my diep getref het. Hy sê ons gebede word gevorm deur die beeld wat ons van God het. Eers as ’n mens God ken, kan jy regtig sinvol bid. En dan sê hy dit wat ons van God weet, word gevorm deur die Bybel, want die Bybel is die middel waardeur God Homself aan ons bekend maak.

As ons ons nie verdiep in God se Woord nie, bly ons gebede vlak en beperk, en ook uit voeling met die werklikheid, skryf hy. Want – en dit was vir my ontstellend – dit kan dan gebeur dat jy nie met die ware God besig is in jou gebede nie, maar met hoe jy wens God en die lewe was. As jy in jou denke oor God nie in die Bybel ingebed is en daardeur gevorm word nie, is jou hart geneig om ’n God te skep wat jou pas, maar wat nie bestaan nie. Keller gaan voort met die opmerking dat mense van Westerse kulture ’n God wil hê wat liefdevol en vergewend is, maar nie heilig, verhewe en bonatuurlik nie. Navorsing oor die geestelike lewens van jong volwassenes in Westerse lande het bevind dat hulle gebede daarom dikwels sonder ’n sondebesef en berou is, en dat die vreugde van ’n wete dat hulle vergewe is ook ontbreek. Sonder gebed wat met die God van die Bybel besig is, praat ons net met onsself.

Tot sover Timothy Keller. Dit het my laat nadink oor die vraag hoe ons geloof gevorm word. Keller is baie beslis daaroor: deur die Bybel. Sonder die Bybel is ons geloof sonder inhoud en is dit wensdenkery, sê hy. Die digter van Psalm 1 is dit met hom roerend eens: Dit gaan goed met die mens wat in die Woord van die Here sy vreugde vind en dit dag en nag oordink. Hy is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is en waarvan die blare nie verwelk nie … Dis ook wat die Heidelbergse Kategismus ons oor geloof leer: dit bestaan uit kennis en vertroue wat veranker is in die Bybel. Vraag 21 sê:

’n Ware geloof is nie alleen ’n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het, vir waar aanvaar nie, maar ook ’n vaste vertroue, wat die Heilige Gees deur die Evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie maar ook aan my uit louter genade slegs op grond van die verdienste van Christus vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid, geskenk het.

Geloof is deurdrenk met die Woord van God. Gaan tel gerus die Bybel van ’n geestelik volwasse gelowige op. Jy sal merk dat dit ’n geleesde Bybel is. Dikwels is die blaaie verrimpel en aan die loskom van baie gebruik, en die buiteblad verslete. Dan weet jy waaruit die persoon se geloofsdiepte gevoed word. G’n wonder nie dat die Gereformeerde vaders die slagspreuk gehad het van Sola Scriptura, die Bybel alleen, want dít is die bron waaruit ons leef.

Die bekende prediker Charles Spurgeon het gesê jy kan maar oplet na iemand wie se Bybel uitmekaar val. So ’n persoon se se lewe val nie uitmekaar nie.

Ja, ons geloof word ook gevoed deur ons kontak met ander gelowiges, deur ons goeie werke en uitreik na ander. Daarsonder, skryf Jakobus, is ons geloof dood (Jakobus 2:14 e.v.). Maar dit begin nie daar nie, en kan nie net daaruit groei nie. Dit begin in ons binnekamer, waar ons die Woord eet soos ’n Esegiël van ouds (Esegiël 3) sodat dit deel van ons kan word; waar ons die Woord in ons hart bêre, soos Psalm 119:11 (1953-vertaling) sê.

O, dat ons almal mense van die Woord sal wees!
image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.