Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam. (Eksodus 20:4-6)

Die Israeliete het hierdie gebod baie letterlik nagekom. Tot vandag toe kon argeoloë nie een enkele beeldjie vind waardeur die Here afgebeeld is nie. Maar ongelukkig het hulle nie daarmee aan die Tweede Gebod getrou gebly nie. Jy ken mos die geskiedenis van die goue kalf wat hulle gemaak het en aanbid het in die woestyn (Eksodus 32). Die goue kalf was nie ’n afbeelding van die Here nie. Hulle het geredeneer dat die Here ’n ryding nodig het om saam met hulle deur die woestyn te reis. As hulle nou vir Hom ’n kalf gee om op te ry, sal Hy oral waar hulle die kalf heen trek, noodgedwonge moet saamgaan. So kan hulle verseker dat die Here altyd by hulle is.

Dís wat die tweede gebod verbied: dat jy God op een of ander manier probeer vasvang en manipuleer of voorskryf hoe Hy God moet wees.

’n Ander voorbeeld van hierdie selfde soort manipulasie kry ons in 1 Samuel 4. Daar het oorlog teen die Filistyne uitgebreek, en in die eerste veldslag ly die Israeliete ’n groot nederlaag. Toe gaan haal hulle die verbondsark van God in Silo.

Die verbondsark was die goue kis wat in die allerheiligste deel van die tabernakel gestaan het, en waarin die kliptafels met die Wet van God bewaar is. Bo-oor die verbondsark was ’n goue plaat, die versoendeksel, waarop die hoëpriester elke jaar met die groot versoendag die offerbloed moes drup om versoening vir hulle sondes te doen. Die verbondsark van God was dus dié heiligste voorwerp wat die Israeliete gehad het.

Toe hulle die ark in die Israelitiese gevegslaer inbring, gaan daar ’n gejuig in die kamp op, want, so het hulle geglo, God het in die kamp ingekom. Jy sien, hulle het geglo dat hulle God kan dwing om aan hulle die oorwinning te gee as hulle die ark by hulle het, want Hy sal nie toelaat dat die ark in heidene se hande val nie.

Maar God laat Hom nie rondstoot of manipuleer nie. Daarom eindig Eksodus 32 én 1 Samuel 4 met ’n ramp. By die goue kalf sterf duisende Israeliete toe die Here hulle straf, en in die geveg teen die Filistyne is die nederlaag nóg groter en word die einste verbondsark deur die Filistyne gebuit. (Jy kan gerus 1 Samuel 5 lees om te sien hoe die Here Homself in die land van die Filistyne laat geld. Dis ’n kostelike verhaal.)

Moderne goue kalwers

Ons het nie meer goue kalwers of verbondsarke nie. Maar ons kan in dieselfde slaggat trap as die Israeliete as ons vir God probeer voorskryf hoe Hy behoort te wees of op te tree.

Ek kom as jong dominee in Bloemfontein aan huis van ’n gesin waar die man nooit saam met sy vrou en sy twee dierbare rooikop-dogtertjies kerk toe gekom het nie. Ek het probeer uitvind wat sy redes is, maar hy wou nie met my daaroor praat nie. Toe, ’n rukkie later, word hulle jongste dogtertjie siek. Maar sommer erg, soos in amper dood. Sy is in die Universitas-hospitaal opgeneem, en ná intensiewe toetse kon hulle die oorsaak van haar siekte diagnoseer en behandel. Dit was die een of ander oorerflike siekte wat haar aangetas het. Terwyl ek saam met die pa en ma langs die hospitaalbed by hulle dogtertjie staan, vertel hy my dat hulle eintlik drie dogters gehad het. Hulle oudste kind – ook ’n dogtertjie – het ’n paar jaar tevore, toe hulle nog in Welkom gewoon het, presies dieselfde siekte gekry. Maar die dokters in Welkom het nie die siekte reg gediagnoseer nie, en sy is dood. Hulle het dit destyds maar aanvaar want hulle het gedink daar was medies gesproke niks aan die kind se siekte te doen nie, maar ná hierdie ander kind van hulle deurgehaal is, besef hy nou sy oudste meisiekind kon geleef het as sy betyds reg gediagnoseer is. Hy was baie bitter.

Om hom te troos, haal ek toe my beste Kweekskool-geleerdheid uit. Ons proffie, so het ek gesê, het vir ons geleer dat dit die swaarste ding is om te sê die Here is in beheer, want hoekom het Hy dan nie gekeer dat die kind dood is nie? Maar, so het die proffie vir ons gesê, dis tog ook die grootste troos om te kan sê die Here is in beheer, want dit beteken dit was nie sommer net ’n blinde noodlot of – erger nog! – die duiwel wat die kind van hulle weggegryp het nie. Want as dít waar was, sou ons darem baie weerloos en uitgelewer gewees het in hierdie wêreld. Nee; God weet van hulle kind se siekte en dood, en Hy het dit nie gekeer nie. Hoekom Hy dit toegelaat het dat sy dood is, weet ek nie, maar God weet wel. En Hy wat alles weet, sal hulle deur hulle swaar en seer help. Dis wat ons moet glo, en as ons dit glo, kan dit ons troos.

Die man het my so aangekyk en seker gedink ek weet nie waarvan ek praat nie. En vandag moet ek sê, ek wás te vinnig met my “oplossings” en troos. In die aangesig van die dood moet ’n mens nie te slim probeer wees nie. Maar om na die verhaal terug te keer: die man het niks van my storie gehou nie. Hy het gesê God het niks met sy kind se siekte en dood te make nie. Siekte en dood is deel van die lewe, sê hy, net soos oorstromings en droogtes en dinge. God bemoei Hom nie met sulke doodgewone dinge nie. Hy is in die hemel en het baie belangriker dinge om Hom mee besig te hou. (Ek wonder nog altyd wat kan belangriker wees as ’n klein rooikopdogtertjie se stryd met die dood, en ’n pa en ma se seer om hulle kind só te sien.)

Wat het hierdie man gedoen? Hy kon nie die feit dat sy kind dood is, rym met die beeld van ’n liefdevolle God wat hy in sy hart gehad het nie. Om dié teenstrydigheid op te los, het Hy gesê God het niks met sy kind se dood (of enige iets anders op die aarde) te doen nie. Hy het só wel die teenstrydigheid in sy gemoed opgelos, maar teen ’n verskriklike prys: Hy het God uit sy lewe weggejaag; teruggejaag hemel toe. G’n wonder hy het geen behoefte gehad om kerk toe te kom nie!

Wat dié man gedoen het, is presies wat die Tweede Gebod verbied: hy het ’n beeld van God in sy gedagtes geskep; ’n God van liefde, ’n goeie, vriendelike God wat nooit sal toelaat dat ’n klein onskuldige dogtertjie doodgaan nie. Ek het ’n idee baie van ons loop met só ’n beeld van God in ons harte rond. Die probleem is net: dié eenvoudige, ongekompliseerde beeld rym nie so mooi met die beeld van God wat die Bybel vir ons teken nie. God is baie groter as dit. Hy ís ’n God wat hierdie wêreld en vir ons hartstogtelik liefhet – lees maar Johannes 3:16! – maar sy liefde lyk dikwels anders as wat ons dink – lees wéér Johannes 3:16! Hy is ’n God wat die wêreld ánders bestuur as wat ons met ons beperkte kennis en insig dit sou doen. Die feit dat dinge op aarde nie altyd reg en vlot verloop nie, beteken nie dat Hy afwesig is nie.

Ons wil graag vir God voorskryf. Daarom bid mense dikwels gebede soos: “Here, U móét hom net gesond maak.” Of:”U móét vir ons reën gee.” Die Tweede Gebod vra van ons: laat God toe om God te wees soos Hy wil. Moenie aan Hom voorskryf wat Hy moet en nie mag doen nie, hoe Hy moet optree of wees nie. Moenie klinkklaar antwoorde en té helder prentjies van God in jou kop maak asof jy Hom presies uitgepluis het nie, want jy sal dit nooit kan regkry nie. Laat ruimte daarvoor dat Hy, omdat Hy God is, jou dikwels kan verras. Want as jy dít doen, sal jy ook – meer dikwels as wat jy dink – saam met Paulus in Romeine 11:33-36 dit wil uitjubel:

O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ’n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen? Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.

***

God gee sélf ‘n beeld

God weet ons mense sukkel om sonder ’n beeld te werk. In sy groot genade het Hy toe self vir ons ’n beeld van Hom gegee: Jesus Christus. Jesus het self in Johannes 14:9 gesê: “Wie My sien, sien die Vader.” As ons na Jesus kyk, sien ons hoe God lyk. Sien ons dat God omgee vir mense, en na hulle toe uitreik. Die beeld van God is partykeer verrassend anders as wat ons sou verwag. Nie opgesmuk en spoggerig nie – Jesus is immers in ’n stal gebore as die seun van ’n eenvoudige skrynwerker. En Hy doen dinge wat ’n mens verbyster, soos om op ’n bruilof water in wyn te verander om ’n bruidegom uit ’n groot verleentheid te help. Hy vat vyf broodjies en twee vissies en gee duisende mense daarmee kos omdat Hy hulle nie honger huis toe wil stuur nie. Hy gaan sit by ’n verstote Samaritaanse vrou by die put van Sigar, want vroue en uitgeworpenes is vir Hom ook mense. Hy raak aan ’n melaatse; Hy sien die verlatenheid van die kreupele by die bad van Betesda raak; Hy huil by die graf van ’n vriend; Hy gaan staan by die blinde Bartimeus terwyl almal haastig verbybeur; Hy gaan eet by ’n tollenaar. Hoekom doen Hy dit alles? Omdat mense en hulle behoeftes – groot behoeftes én klein behoeftes – vir God saak maak.

Die verbysterendste is natuurlik dat Hy Homself gewillig aan ’n kruis laat vasspyker het vir jou en my. Hoekom Hy kies om die sonde só uit te delg, sal ons nooit kan begryp nie. My kop sê vir my daar móés ’n makliker manier gewees het.

Jy sien, God is anders as ons. Hy is die Gans Andere, het Karl Barth gesê. En ek en jy moet voor Hom erken dat ons te klein is, en dat ons verstand te beperk is om sy Raad te deurgrond. Al wat ons hoef te weet en te glo, is dat Hy weet wat Hy doen, en dat Hy ons liefhet, en Hom dan met sy keuses vir ons te vertrou. Die man met die rooikopdogtertjies het dit uiteindelik óók ingesien en toe weer begin glo. Toe het daar uiteindelik vrede, en vreugde, in sy hart gekom. En hy kon weer met nuwe oorgawe vir God leef.

Wys jou net. As God met jou besig raak, los Hy jou nooit weer uit nie. Gelukkig nie.

Moenie self besluit hoe jy wil hê Ek God moet wees nie, want Ek is groter as wat jy jou ooit kan voorstel. Jy moet my vereer en liefhê soos Ek jou in die Bybel leer.

 

Teksverse om aan vas te hou:

Job 5:9
Wat God doen, is groot en ondeurgrondelik, wonder op wonder.

Psalm 92:6,7
Groots is alles wat U doen, Here, ondeurgrondelik u gedagtes. Wie dit nie besef nie, is ’n dom mens, wie dit nie insien nie, is sonder verstand.

Prediker 5:2b
Hy is in die hemel en jy op die aarde. Laat jou woorde daarom min wees.

Kolossense 1:15a
Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.