NT Wright vertel die aangrypende verhaal van ’n aartsbiskop van die Katolieke Kerk: Drie ondeunde seuns het op ’n dag afgespreek om die priester in die bieg ’n poets te bak. Hulle het die mees ongelooflike sondes uitgedink wat hulle vir hom gaan bieg het. Die priester het gou agter die kap van die byl gekom. Die eerste twee seuns is proesend by die kerk uit, maar die derde seun het nie so maklik daarvan afgekom nie. “Goed, jy het nou jou sonde bely,” het die priester vir die seun gesê. “As boetedoening wil ek hê jy moet na die voorkant in die kerk loop, waar daar ’n prent van Jesus is wat aan die kruis hang. Ek wil hê jy moet in sy gesig opkyk en sê: ‘U het dit alles vir my gedoen, en ek gee nie juis om nie.’ En ek wil hê jy moet dit die keer doen.”
Die seun is toe na die voorkant van die kerk. Hy het opgekyk na die prent van Jesus en gesê: “U het dit alles vir my gedoen, en ek gee nie juis om nie.” ’n Tweede keer het hy dit gesê, maar hy kon dit nie ’n derde keer uitkry nie, want hy het in trane uitgebars. Die aartsbiskop wat die verhaal vertel het, sê die rede hoekom hy weet dit is die waarheid is omdat hy daardie seun was.
Daar is iets aan die kruis. Iets oor Jesus wat daar vir ons gesterf het, wat bo-oor alle teoretiese besinnings of bespiegelings oor hoe dit werk heen reik, en ’n mens aangryp. Voor die kruis kan jy nie vol bravade en traak-my-nie-agtigheid staan nie. Dit gryp jou vas, en dan ontdek jy wat jou eintlik gegryp het, is God se liefde.
Ek wil jou nooi, nee, uitdaag, om opnuut weer voor die kruis van Jesus te gaan staan. Nee, jy hoef nie voor ’n werklike kruis te staan nie, hoewel dit natuurlik ’n goeie idee is. Maar jy kan in jou geestesoog voor die kruis van Jesus – voor Jesus Self! – gaan staan in al jou weerloosheid. Kniel dan voor Hom, en laat toe dat sy liefde jou oorweldig.
Jy sal anders van jou knieë af opstaan. Dít is die evangelie.