Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

“Hope springs eternally in the human breast,” lui die Engelse spreekwoord. En as daar nou een saak is waarvoor ’n student nooit ophou hoop nie, is dit dat die dosent vir hulle ’n koffieklas sal gee. Die idee is natuurlik dat die dosent en studente dan saam iewers gaan koffie drink, sodat hulle mekaar op ’n informele vlak beter kan leer ken. Maar eintlik hoop jy heimlik dat die koffieklas net ’n ander woord moet wees vir klas afgee. Enige verskoning denkbaar is as rede voorgehou waarom die koffieklas dan nou so belangrik is. Ek was gewoonlik een van die voorbokke as dit gekom het by die vra vir ’n koffieklas. Tot een Woensdag in my sesde jaar. Ek het een of ander verspotte rede uitgedink waarom ons ’n koffieklas moes kry. Daar het ’n toffie op die dosent se kateder gelê, en toe sê ek ‘toffie’ rym vir my met ‘koffie’, en daarom dink ek hy moet vir ons ’n koffieklas gee. Die dosent se antwoord bly my vandag nog by. Hy het gesê: “En ‘Thom’ rym vir my met ‘dom’. Ons gaan nie koffie drink nie.” Die man het seker gedink hy maak ’n grap, en die klas het lekker gelag ook. Maar vir my was dit nie snaaks nie, want behalwe dat hy my in die gesig gevat het, het hy my van te na gekom. Ek is nogal trots op my van, maar hy het dit belaglik gemaak. Iemand moet ook nie vir my sê “julle Thoms” doen dit of dat nie, dan sien ek rooi. Want in die van Thom lê baie meer opgesluit as maar net dat dit die agtervoegsel van my naam is. My hele familie en herkoms lê in dié kort woordjie opgesluit.

Ek is seker jy voel ook so oor jou van, of dan jou familienaam. Dit sê wie jy is, wie jou mense is, waar jy vandaan kom.

God se Naam

God is ook gesteld op sy Naam. Sy Naam is deel van Wie Hy is. Sy Naam is sy eer. Daarom dring Hy in die derde gebod daarop aan dat sy Naam nie ligtelik op ons lippe geneem mag word nie. Ek wens die mense wat die TV-programme vervaardig, wil dit hoor, want om aand vir aand te hoor hoe mense uitroep “Oh my God!” is, om die minste daarvan te sê, afstootlik. En as jy “wragtag” of “magtag” swets as jy kwaad is, is jy self ook daaraan skuldig, want dit is niks anders nie as om name waarmee ons God noem, te misbruik: “die Waaragtige” en “die (Al)magtige”. Om van ’n uitroep soos “my liewe Here!” nie eers te praat nie.

Maar kom ons praat nie oor vloek nie. Ek dink nie dis nodig om meer daaroor te sê nie; ons weet almal dis verkeerd. Net jammer almal weerhou hulle nie daarvan om dit te doen nie! Net so erg as wat dit is om God se Naam verkeerd te gebruik deur te vloek, is dit om God se Naam glad nie te gebruik nie; om Hom nie in die gebed of in lof aan te roep nie, of om nie oor Hom te praat en van sy grootheid te getuig nie.

(Terloops, wanneer ’n mens ’n eed neem soos byvoorbeeld in die hof, of om die waarheid van ’n verklaring te bevestig, word dit in die Naam van die Here gesweer. Jy roep God dus in om vir die waarheid van wat jy sê, in te staan. Daarom dink ek behoort ’n mens twee keer te dink voordat jy oor ’n onbenulligheid ’n eed aflê. Sal ons God nou regtig met nonsens pla? En hoeveel leuens is daar nie al in die hof onder eed – en daarom in die Naam van die Here – vertel nie? Ek verkies veel eerder om in die gewone gang van sake te volstaan met ’n plegtige verklaring. Toe ek getrou het, en my kinders laat doop het, het ek nie omgegee om in die Here se Naam beloftes te maak nie. Maar vir ’n hof? Ek dink nie so nie.)

Christen

Een van die aspekte van die derde gebod waaraan ons nie genoeg aandag gee nie, is die feit dat ons onsself Christene noem. Ons dra dus as gelowiges die Naam van die Here Jesus Christus met ons saam. Wat jy doen en sê, raak dus nie net vir jou nie, maar ook dié Een wie se Naam jy dra: Christus. Die bekendste voorbeeld hiervan is seker die uitspraak van die groot Indiese leier Mahatma Gandhi. Hy het by geleentheid vir ’n Engelse sendeling gesê dat hy baie beïndruk is met dit wat hy hoor van Jesus Christus. Om die waarheid te sê, het hy gesê, as hy in die Bybel lees wat Jesus gesê en gedoen het, beweeg dit hom byna om self ook ’n Christen te word. Maar, het hy bygevoeg, as hy na die Christene in Indië kyk, stel hy nie meer belang nie.

Die teendeel is natuurlik óók waar. As jou lewe mooi is, spreek dit boekdele. Ek lees dat die ontslape president van Mosambiek, Samora Machel, by geleentheid sy Frelimo-amptenare baie skerp aangepraat het. Hy het hulle verwyt omdat hulle lui en onbetroubaar is. Toe vra hy hoekom hulle dan nie soos die Christene is nie, want die Christene is vriendelik en op hulle pos en hardwerkend en eerlik. Dís mos om die Here se Naam te eer! Soos Petrus ons in 1 Petrus 2:12 vermaan: “Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.”

Die WWJD-armbandjies wat party mense deesdae dra, kan jou nogal help om gedurig te onthou dat Jesus se Naam oor jou uitgeroep is. Maar dan moet jy nie maak soos ’n diaken in een van my buurgemeentes gedoen het nie. Hy dra so ’n armbandjie aan sy regterarm. Sy dominee vertel dat hy by ’n bruilof was waar dié diaken ook ’n gas was. Die broer het hom voor die kroeg sit gemaak en die een bier na die ander weggeslaan. Maar wat die dominee opgeval het, is dat die man nie sy regterhand (met die armbandjie om) gebruik het om sy bierglas op te tel nie. Dié aand was die man skielik links!

Ek het drie dogters. Destyds, toe die mense by die skool na hulle verwys het as “die Thom-dogters”, het my hart van trots en dankbaarheid geswel. Hulle is oulike, goed-gemanierde kinders. Hulle is Thoms. En as jy met hulle praat, sal jy baie gou ontdek dat hulle óók trots is op die feit dat hulle Thoms is.

En as God na jóú kyk? Dra jy die naam Christen met eer? Maak jy Hom trots? Want onthou: dis ’n voorreg om die Naam van ons Here te dra.

Moenie ligtelik my Naam op jou lippe neem om krag aan jou woorde te gee of as jy skrik nie. My Naam is heilig, en jy moet dit net gebruik as jy My aanroep in gebed, of as jy oor My getuig. Onthou ook dat jy as Christen die Naam van my Seun Jesus Christus dra. Leef só dat sy Naam in jou lewe geëer word.

Teksverse om aan vas te hou:

Psalm 50:15
Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.

Openbaring 15:4
Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? U alleen is heilig! Al die nasies sal kom en U aanbid, want hulle sal sien dat u handelwyse regverdig is.

Efesiërs 4:31
Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie.

Jakobus 3:9-10
Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie.

image_pdfimage_print

Views: 211

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.