Toe ek nog ’n student was, was daar eenkeer ’n vraag in ’n wyksbyeenkoms wat ons ouderling redelik laat kopkrap het. Hoekom die vraag in Ou Nederlands was, weet ek nie, maar dit het daaroor gegaan of “de houding waarin men bad” belangrik is. Dit het natuurlik niks met water en seep te make soos die ouderling gedink het nie. Dit gaan oor die posisie wat jy inneem wanneer jy bid. Behoort dit enigsins ’n rol te speel wanneer jy bid? Is dit belangrik? Dit was die vraag.

Ek kan nie meer onthou wat ons daaroor gesê het nie. Maar die vraag is vandag meer as ooit relevant. Hoe bid jy? Watter houding neem jy in wanneer jy bid? Staan jy op jou knieë soos die geslagte van weleer? Sit jy in ’n gemakstoel? By die kombuistafel? Op jou bed? Of lê jy dalk op jou rug?

In die ou dae het die mans nog tydens die gebed in die erediens opgestaan. Ons doen dit nie meer nie; genadiglik, voel ek soms, want in my hoërskooldae was daar ’n dominee wat maklik tien minute lank gebid het. Later moes ek net gekonsentreer om nie om te val nie, want as ’n mens so lank met toe oë staan, lol jou balans nogal.

Een van die redes hoekom ek tydens huisbesoek opgehou het om op my knieë te gaan as ek bid, is omdat ’n seuntjie op ’n keer terwyl ek gekniel het, op my rug gespring het en gedink het hy gaan nou perd ry. Nou sit ek liewer, hoewel ek dit nog soms beleef dat mense op hulle knieë wil gaan as ek sê ek wil ’n gebed doen.

Om terug te kom na die vraag oor jou houding as jy bid: Is dit belangrik?

Dalk is ’n ander vraag belangrik vóór jy hierdie een kan beantwoord: Wat bid jy? Want ek kom in my eie gebede agter dat dit ’n groot rol speel in hoe ek God beleef wanneer ek bid. As my gebed net is om dankie te sê en verder bestaan uit ’n lysie met versoeke, pla dit my nie dat ek in ’n stoel te sit en bid nie. Maar wanneer ek fokus op God, op sy grootheid en majesteit en almag en heiligheid en teenwoordigheid, is dit asof die Gees my uit my stoel dwing tot op my knieë. ’n Mens kan nie ewe gemaklik bly sit wanneer jy God aanbid nie. Dis wat Moses ook ontdek het toe hy by die brandende doringbos uitgekom het: die plek waarop hy gestaan het, was heilige grond (Eksodus 3:5). Daarom moes hy sy skoene uittrek as teken van respek.

Jesus het gekniel toe Hy met sy Vader geworstel het in Getsemane (Markus 14:35); ek vermoed dit was sy standaard gebedshouding. Dit is ook die houding wanneer die vier en twintig ouderlinge God aanbid in Openbaring (vgl 4:10 en 11:16). Behoort ons nie ook nie?

Daar is natuurlik geleenthede waar dit nie prakties is om te kniel nie. As jy op ’n siekbed lê, of sommer met die Here praat agter jou stuurwiel, of as jy die seën vra voordat julle eet. Maar wanneer jy in jou binnekamer is en voor die hoë God verskyn om Hom te aanbid en te loof, lyk dit my, pas ’n gemakstoel-houding nie. Dan pas ’n houding van nederigheid en ootmoed. God is immers die Gans Andere, om Karl Barth se woorde te gebruik.

Ek wonder of die gemakliker houding waarin ons deesdae met die Here praat, nie ook iets sê van minder respek en ’n oormaat van familiariteit in ons omgang met God nie? Of is dit dalk omdat nederige aanbidding nie meer deel uitmaak van ons gebede nie?

Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word!

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.