In ons huis was daar ’n hele klomp reëls vir ’n Sondag: ons mag nie fiets gery het nie, of speletjies waarin ’n dobbelsteentjie of kaarte gebruik is nie, nie sport beoefen nie, nie boot roei of swem nie … En mense het graag gepraat van Sondag as die heilige sabbat.
Dis interessant hoeveel mag nie’s deel van ons Sondagbeskouing was …
In Jesus se tyd het dit so gegaan oor die sabbat ook. Daar was talle wette wat moes keer dat die Jode die vierde gebod oortree; 390 om presies te wees! Dit was nie wette wat in die Bybel gestaan het nie, maar wette wat in die nadenke oor die sabbat uitgedink is om te sorg dat die sabbat nie ontheilig word nie. Een van dié wette was dat jy nie op die sabbat mag geoes het nie, en die koringare wat Jesus se dissipels gepluk het, was vir die Jode presies dit: hulle het geoes, dus gewerk, op die heilige sabbat.
Jesus was nie beïndruk met dié soort vertolking van die vierde gebod nie. Om die waarheid te sê, Jesus se interpretasie van die vierde gebod was een van die groot redes waarom die Jode Hom verwerp en gekruisig het. Want die Jode het van die Tien Gebooie ’n soort middelaar gemaak, ’n soort verlosser: kom die Tien Gebooie na, en jy is in God se goeie boekies!
Wat Jesus kom leer het, is dat die Tien Gebooie nie veronderstel is om so te werk nie. Die Tien Gebooie is nie daar om ons by God uit te bring nie. Dit is daar vir ons wat reeds by God uitgekom het, ons wat reeds verlos is, om vir ons te help verstaan hoe ons voor Hom kan leef as sy geheiligde kinders. Dis God se geskenk aan ons om ons te help om as heel mense te leef voor Hom en gelukkig te wees. Dáárom sê Jesus die sabbat is vir die mens gemaak; ’n geskenk aan ons, dus.
∙ God het die rusdag gemaak sodat ons kan breek met die dolle gejaag van die week, sodat die bose sirkel van werk-werk-werk kan stop en ons weer heel kan word na liggaam en gees; ons tyd kan hê vir ons aanbidding van Hom en diens aan Hom, tyd kan hê vir mekaar, tyd kan hê vir onsself. Op die rusdag kan ons rus in God en sy sorg (Eks 20:11).
∙ En op die rusdag kan ons ons verlossing vier, die fees van bevryding (Deut 5:15).
Die sabbat was vir die Ou Testamentiese gelowiges gegee as ’n teken dat hulle God se volk is. Deur die sabbat te hou, het hulle elke week hulle besondere band met God gevier. En noudat Jesus gekom het en ’n nuwe verbond met ons gesluit het, het ons steeds een dag in die week waarin ons ons verbondenheid aan Hom kan gedenk, ’n teken dat ons deel is van God se nuwe volk. En met die nuwe verbond het ’n nuwe teken gekom: nie meer die sabbat (Saterdag) nie, maar die Sondag, die dag waarop Jesus opgestaan het en waarop Hy sy Heilige Gees aan die kerk gegee het.
Miskien moet ek iets sê oor Jesus en die wet, en hoe die wet nou in ons lewe behoort te funksioneer. Jesus het kom doen wat geen mens kon nie: Hy het die wet volledig nagekom. Dis wat ons bedoel as ons sê Hy het die wet kom vervul. En omdat ons nie die wet kan nakom nie, het Hy die straf vir ons oortreding van die wet op Hom geneem en op Golgota daarvoor betaal, met sy eie lewe. Daarmee het Hy ’n nuwe era laat aanbreek, waarin die eise van die wet reeds vir ons vervul is. Dit beteken nie dat ons nou klaar is met die wet nie, maar ons kan nou nuut na die wet kyk, soos God dit van die begin af bedoel het: dat ons God en mekaar lief moet hê. Dis wat Hy bedoel as Hy sê Hy gee ons ’n nuwe gebod: Hy help ons verstaan wat God van die begin af met die wet in gedagte gehad het, nl ’n riglyn oor hoe om Hom en mekaar lief te hê. Jesus se vervulling van die wet beteken nie dat Hy die wet afgeskaf of opgehef het nie; Hy het dit vervul, vol gemaak, sy volledige betekenis laat kry. In Hom is élke dag nou sabbat, God se dag, aan Hom geheilig, en kan ons in sy sorg rus en vreugde vind.
As ons dus oor die vierde gebod praat, moet ons nie dink dat dit nou nie meer geld nie. Die beginsel dat ons ’n dag in die week opsy moet sit as die Here se dag, staan nog steeds. Die wet dat dié dag ’n dag van rus van ons gewone gang moet wees, staan nog steeds. Die wet dat ons op dié dag tyd moet maak om God te dien en in Hom te rus, en tyd moet maak vir mekaar en vir onsself, staan nog steeds. Die wet dat ons op dié dag ons verlossing moet vier, staan ook nog steeds, al verstaan ons dit anders as wat die Israeliete dit verstaan het: nie uit slawerny van Egipte is ons verlos nie, maar uit die slawerny van die sonde.
Hoe moet ons dan ’n Sondag deurbring?
Ek dink die fout wat ons ouers gemaak het (en ons dalk ook nog goedbedoelend doen), was om van die Sondag ’n soort Christelike sabbat te probeer maak; ’n heilige dag wat met ’n klomp wette en reëls beskerm moes word. Onvermydelik het dié reëls die karakter van die dag só geraak dat dit nie meer ’n feesdag was nie, maar ’n vervelige dag. Jy mag omtrent niks gedoen het wat lekker is nie, behalwe kerk toe gaan, en daarby ook nie te uitbundig of feestelik nie.
So, ek wil nie in dieselfde slaggat trap en ’n nuwe klomp reëls kom neerlê nie. Dalk moet ek eenvoudig sê, ons moet die Sondag só deurbring dat ons – en ander mense! – fees kan vier oor die verlossing deur Jesus Christus. Alles wat dié feeskarakter van die dag bevorder, is goed en reg, maar wat dit verhinder, moet jy los.
Natuurlik: daarmee mag ons nie weer by ’n punt kom waar ons net ’n klomp dinge lys wat ons op die Sondag moet los nie. Want deur te los, het jy nog nie gedoen nie. Die rus op ’n Sondag beteken nie dis ’n dag van niksdoen nie! Daarom, vra jouself af: Lyk my Sondag anders as die res van die week? Wat kan ek doen om saam met ander fees te vier en oor my verlossing in Christus bly te wees? En: Help die manier waarop ek die Sondag deurbring, ander om ook só te kan feesvier?
Liewe gemeente, die vierde gebod sê: God gee ons een dag in ’n week om te rus, om Hom te dien, om fees te vier. Dié dag is vir ons gemaak, sê die Here Jesus. ’n Geskenk van God. ’n Dag om te geniet en fees te vier. Kom ons doen dit!
Amen.