Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig. (Eksodus 20:8-11)

Die tweede Skrifgedeeltes waarin ons hierdie gebod kry, verskil so ietwat van die eerste een wat die rede vir die gebod betref (daaroor skryf ek ’n bietjie later). In Deuteronomium klink die gebod só:

Jy moet die sabbatdag so deurbring dat jy dit heilig hou, soos die Here jou God jou beveel het. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of jou bees of jou donkie of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie, sodat jou werksmense kan rus soos jy. Jy moet daaraan dink dat jy in Egipte ’n slaaf was en dat die Here jou God jou deur sy groot krag en met magtige dade daaruit bevry het. Daarom het die Here jou God jou beveel om die sabbatdag te onderhou. (Deuteronomium 5:12-15)

Hierdie is die één gebod is waaroor mense net nie kan saamstem nie. In die ou dae was dit baie maklik: op die Sondag mag jy feitlik niks gedoen het nie. Jy mag nie fiets gery het nie, of geswem het nie, of met ’n bal gespeel het nie. Speletjies wat met kaarte gespeel word of waarin ’n dobbelsteentjie gebruik word (soos Monopoly of Slangetjies en leertjies), was ook taboe. Ander, waar jy jou kop moes gebruik en nie net van geluk afhanklik was nie (soos skaak of dambord) is wel in ons huis toegelaat. En as jy wou lees, moes dit die Bybel wees, of ’n godsdienstige tydskrif soos die Voorligter of die Kerkbode. In daardie dae was daar ook nog nie iets soos ’n rekenaar of selfs ’n TV en video’s nie. Dit was ’n resep vir lang, vervelige dae, wat ’n jong kind op ’n keer laat sê het dat as die hemel soos Sondae is, wil hy asseblief nooit daar kom nie!

My ouers was gelukkig nie té streng oor al dié reëls nie, en het ons toegelaat om storieboeke ook te lees. Ons was boonop lief vir lees en skaak speel, sodat al die taboe’s ons nie te veel gepla het nie. Maar as ons vakansies see toe gaan, was dit ’n lollery, want my oupa was baie gesteld op die heiliging van die Sondag. Ons mag nie eens ’n entjie langs die see gaan stap het of in ons bootjie geroei het nie. En as Oupa ná ete ’n bietjie wou dut, moes ons so stil soos muise wees. Maar een Sondag het ons hom lekker gekry. Daar was ’n verskriklike storm die Saterdagnag, en ons roeiboot het van sy ankerplek losgekom. Ná kerk het ons gaan kyk wat geword het, en toe sien ons ons boot het tot diep in die strandmeer gedryf. Ons kon hom onmoontlik daar los, want as die gety uitgaan, kon die boot dalk die see inspoel. Die kalf was in die put. Ons móés eenvoudig die boot land toe bring en weer ordentlik anker. Dit was wonderlik om op die heilige Sondag met ons kanoe te roei om die boot te gaan haal. Halfpad soontoe het ons kanoe “per ongeluk” omgeslaan. Wat kon ons doen? Ons moes eenvoudig swem. En my oupa kon niks sê nie!

Onsinnige reëls

As ek aan dié dinge terugdink, besef ek hoe onsinnig party van ons gebruike rondom die Sondag was. Ek dink in dié opsig was ons nie ver van die Fariseërs en skrifgeleerdes vir wie Jesus so verwyt het dat hulle ’n ondraaglike las op mense plaas met al hulle mensgemaakte wette nie (vgl. Lukas 11:46). Dis nogal opmerklik dat die manier waarop Jesus die sabbat onderhou het (of dan volgens die Fariseërs en skrifgeleerdes nié onderhou het nie) een van die grootste geskilpunte tussen die Joodse leiers en Jesus was. Want Hy het mense op die sabbat gesond gemaak, en dit kon hulle nie vat nie. Vir hulle was dit werk, en daarom uit die bose. Maar of dit nie genoeg was nie, het Jesus die mense wat Hy gesond gemaak het, dan boonop beveel om ook te werk! Het Hy dan nie vir die kreupel man gesê het hy moet opstaan, sy bed optel en huis toe gaan nie (Johannes 5:8-10)? Dis mos werk, en dit op die heilige sabbat!

Jesus se bedoeling was nooit om die wet te minag soos die Fariseërs beweer het nie. Onthou, Jesus het nie gekom om die wet sy krag te laat verloor nie. Hy het nie die mense geleer dat, as hulle Hom volg, hulle klaar is met die wet nie. Sy probleem was dat die Fariseërs hulle blind gestaar het teen die uiterlike betekenis van die wet, en nie gevra het na die bedoeling agter die wet nie. Hulle het nie raakgesien dat die wet ’n gawe is waarmee God ons wil help om die lewe ten volle te geniet nie. Vir hulle was die wet ’n lat waarmee God ons geslaan het en op ons plek gehou het, en daarom wou hulle ánder mense ook met die wet bykom. Maar Jesus sê die wet is ’n gawe van God. Die sabbat is ’n geskenk aan ons, nie ’n doel op sigself nie. God het die sabbatdag vir die mens gemaak sodat die mens dit kan geniet, nie die mens vir die sabbatdag sodat ons op die sabbat swaar kan hê nie (Markus 2:27).

Sabbat vs Sondag

Miskien moet ek nou ’n ander saak ook gou verduidelik. Ons Sondag is nie dieselfde ding as die sabbat van die Ou Testament nie. Die sabbat was op die sewende dag van die week (ons Saterdag dus). In die vroeë kerk in Jerusalem het die eerste Christene van die begin af naas die sabbat ook op Sondae bymekaar gekom. Vir hulle was die Sondag ’n tweede godsdienstige feesdag met besondere betekenis, omdat dit op ’n Sondag was wat Jesus uit die dood opgestaan het. Dit was ook telkens op ’n Sondag wat Jesus aan sy dissipels verskyn het ná sy opstanding; en dit was op ’n Sondag dat die Heilige Gees uitgestort is. Daarom het die vroeë kerk die Sondag “die dag van die Here” genoem. Dit was ook die dag van die week waarop hulle bymekaar gekom het om hulle verlossing te vier en die Here te aanbid en Nagmaal te hou. Omdat hulle (aanvanklik) almal Jode was, het hulle as goeie wetsgetroue Jode die sabbat én die Sondag as godsdienstige dag gehou. Maar namate die kerk onder nie-Jode gevestig geraak het (wat nie die sabbat geken het nie), het die gebruik om die sabbat (op Saterdae) te hou, vervaag en het die Sondag, die dag waarop Jesus die dood oorwin het en opgestaan het, die belangrikste godsdienstige feesdag geword. Daarmee was die sabbat vir die kerk in die streng sin van die woord tot niet. Maar die betekenis van dié dag het behoue gebly en is oorgeskuif op die Sondag as die dag van die Here.

Oorspronklike bedoeling

Daarom is dit goed as ons gaan vra, na aanleiding van Jesus se opmerking dat die sabbat vir die mens gemaak is, wat God dan met die sabbat in die oog gehad het. Op watter manier wou Hy ons deur die sabbat seën?

Die eerste verklaring kry ons in Eksodus 20: dis ’n rusdag. Soos God ná die ses dae waarin Hy die hemel en aarde geskep het, gerus het, so gun Hy dit vir ons om ná ’n week van harde werk te rus en te ontspan. Dis ’n dag waarop ek nie hoef te werk nie. Ek kan die dag as gawe van God geniet, met oorgawe geniet. Dis dan ’n present van God aan my! Daarom, as ons die dag só inrig dat dit sleg is, dat dit ’n straf word vir kinders, dan vier ons júís nie die dag soos God dit bedoel het nie.

Maar dis nie net ek wat op die sabbat kan rus nie; ek moet ook die mense rondom my ’n ruskans gun. Hulle het immers, net soos ek, die rus nodig. Dis in dié opsig dat dit vir my erg jammer is dat die winkels deesdae op Sondae oop is. Nie soseer omdat dit verkeerd is om op die Sondag gou iets dringends te gaan koop nie (hoewel ek darem nie dink dis reg om jou weeklikse kruideniersware op die Sondag te gaan koop nie), maar omdat die mense wat in die winkels werk, nou nie meer ’n Sondag het om te rus nie. En dit terwyl Eksodus 20:10 spesifiek die mense rondom ons insluit by die opdrag dat ons moet rus. In Deuteronomium 5:14 is daar selfs die kwalifikasie by: “… sodat jou werksmense kan rus soos jy.”

Dieselfde probleem het ek met georganiseerde Sondagsport. Dat sport ’n vorm van ontspanning is en dus ’n wonderlike manier om te rus, hoef ek nie vir jou te vertel nie. Daarom het ek nie ’n probleem daarmee as jy op die Sondag ’n entjie gaan draf nie, of ’n stel tennis gaan speel, of gaan swem of ’n paar putjies gholf speel nie. Solank jy nie ander mense laat werk om dit te kan doen nie, kan dit ’n heerlike Sondagmiddag-aktiwiteit alleen of saam met ander wees. Hulle vertel dat die groot hervormer Johannes Calvyn nogal graag op Sondagmiddae ’n potjie rolbal met ’n vriend van hom gespeel het. Maar met georganiseerde Sondagsport verander die karakter van die spel radikaal. Vir die mense wat meeding, is dit nie meer ’n sport nie; dis ’n werk waarvoor hulle betaal word. En dan praat ons nie eers van die hele bedryf rondom die spel nie: die amptenare, die kaartjie-verkope, die pawiljoene, die sekuriteitsmense, die snoepie, die TV-spanne, en so aan. Talle en talle mense word deur die sportbyeenkoms gedwing om op die Sondag te werk. En as jy die wedstryd kyk, het jy ook ’n aandeel aan dié dwang.

Dis nie net dat die mense wat gedwing word om te werk, nie kan rus nie. Hulle kan boonop ook nie die dag gebruik om die Here te aanbid nie. En dis die ander groot rede vir die instelling van die sabbat: dis die een dag in die week waarop ek en jy die Here saam met ander kan aanbid en kan juig oor ons verlossing. In die verklaring vir die instelling van die sabbat in Deuteronomium herinner God die volk aan hulle verlossing uit Egipte. Die sabbat was die dag waarop hulle dié verlossing moes gedenk en vier. En so is die Sondag ook: die dag waarop ons dankbaar en bly voor die Here is vir óns verlossing. Daarom is dit baie gepas dat ons die dag van die Here op die Sondag vier, want dis op dié dag dat die Here opgestaan het, die dood oorwin het, en ons verlossing as ’t ware van krag geword het.

As jy jou Sondag só inrig dat daar nie tyd is om saam met ander gelowiges jou verlossing te vier nie, het jy ’n probleem. Dis heeltemal in orde om op ’n Sondag te gaan swem, maar as jy die hele dag op die strand baljaar en die erediens blaai, wonder ek darem. Watter heerliker manier is daar om ’n dag te rus as om met jou seiljag die see in te vaar? Maar as dit beteken dat jy die kerk en katkisasieklas daardeur gaan misloop (soos met my een katkisant gebeur het) het ek daarmee ’n probleem.

Nee, ons moet die dag van die Here heilig hou, dit wil sê: anders maak, afsonder en toewy vir ons diens aan die Here. Ons prop ons week só vol met baie dinge, dat ek beswaarlik sonder die rus van die Sondag kan klaarkom. Ek onthou hoe wonderlik dit vir my as student was om Sondagoggend wakker te word en te weet: ek gaan nie vandag swot nie. Ek hóéf my nie vandag moeg te maak met al die werk nie, want vandag is ’n present wat God vir my gegee het. Ek kan rus! En ek kan kerk toe gaan om vir God te gaan aanbid, om ’n woord van Hom te hoor wat my kan help om reg te leef, om sy ander kinders te ontmoet en deur die saamwees met hulle in my geloof versterk te word. Ek hoef nie te werk nie en daarom het ek tyd om te kuier en met my gesin te ontspan …

Dit is mos onnosel om dié wonderlike geskenk van God op te mors!

Sondag is die dag waarop Jesus opgestaan het uit die dood. Op dié dag wil Ek hê jy moet die opstanding vier. Rus van alles wat jou so besig hou in die week, sodat jy tyd het vir My en vir jouself en jou mense.

Tekste om aan vas te hou:

Jesaja 56:2
Dit gaan goed met die mens wat die sabbat onderhou en dit nie ontheilig nie, wat sorg dat hy niks verkeerds doen nie. Dit gaan goed met die mens wat hom hieraan hou.

Eksodus 23:12
In ses dae moet jy jou werk doen, maar op die sewende dag moet jy nie werk nie sodat jou beeste en donkies kan uitrus en jou werksmense en die vreemdelinge by jou ’n bietjie kan asem skep.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.