Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.

Ek het ’n vermoede dat hierdie gebod nie een van die gewildes is vir iemand wat op die punt staan om die lewe in te gaan nie. Jy wil graag jou eie baas wees, jou eie ding doen. En nou vra hierdie gebod van jou om hulle in gesagsposisies te eer. Want “jou vader en jou moeder” in hierdie gebod staan nie nét vir jou ouers nie – hoewel natúúrlik vir hulle ook, en dan vir hulle in die eerste plek. Maar die grenslyne wat hierdie gebod trek, lê veel wyer. Dit sluit almal in gesagsposisies in; ook die verkeerskonstabel, en jou onderwysers, en jou werkgewer as jy so gelukkig is om ’n werk te kry.

Ja-nee, gesag is nie ’n gewilde onderwerp nie, veral nie in ons dae nie. Want mense wil nie meer voorgesê word wat hulle moet en nie moet doen nie. Mense wil hulle eie kop volg, want hulle verbeel hulle hulle weet beter. Maar só kan geen samelewing werk nie. Dink maar aan die chaos wat daar op die pad sal heers as elke ou ry net soos en waar hy lus het! Of as mense eenvoudig weier om hulle munisipale belasting te betaal, of hulle TV-lisensie. Dan stort die samelewing en die dienste wat gelewer moet word, in duie. Vullisverwydering stop, die paaie en parke word nie meer onderhou nie, die straatligte brand nie meer nie, om net ’n paar implikasies te noem. Ons wêreld sal gou-gou in ’n rommelhoop verander. ’n Donker, koue, vuil rommelhoop sonder elektrisiteit, skoon lopende drinkwater, met rioolpype wat verstop is … En dit alles omdat mense nie meer die gesag van die munisipaliteit en die stadsraad erken nie.

Toe ek nog op skool was, het ons dominee ná die matriekafskeid vir my en ’n klasmaat van my na sy studeerkamer ontbied omdat ons gedans het. Ja, ek weet dit klink nou belaglik, maar in daardie dae het die kerk anders oor dans gedink as nou. Ons het ewe gedwee voor die dominee gestaan terwyl hy ons betig, want hy was die dominee, en ons maar net matriekseuns. Ek het nou die dag baie aan dié dag teruggedink. ’n Paar koshuiskinders in my gemeente het iets aangevang waaroor ek met hulle wou praat. Ek het hulle by die koshuis gaan spreek, nie eers na my huis ontbied soos die dominee met my gemaak het nie. Die een meisie het haar só vir my vererg dat sy haar vinger byna in my neus opgedruk het! Ek was verbysterd, want ek is geleer dat jy die dominee moet respekteer. Klaarblyklik het hulle dit nie geleer nie (of in elk geval nie so dat jy dit sal agterkom nie). Terwyl ek van die koshuis af teruggestap het huis toe, het ek gewonder of die meisie met haar eie ouers ook só sal praat, en ek dink nogal so. Want jy sien, die manier waarop jy met ander gesagsfigure praat, is maar net ’n verlengstuk van die manier waarop jy teenoor jou eie ouers optree.

Mense doen snaakse dinge aan hulle ouers. In my eerste gemeente het ’n dierbare oom en tannie besluit om hulle huis vir hulle seun te gee, sodat hy nie ná hulle dood met ’n klomp boedelbelasting opgesaal sou sit nie. Hulle het met hom gereël dat hulle solank die huis op sy naam registreer, maar dat hulle in die huis sal bly woon solank as wat hulle nog onafhanklik is. Dit is immers hulle huis. Die arme oom en tannie! Die ink van die registrasie was nog nie droog nie, toe verkoop die seun die huis onder hulle uit, en daar sit hulle op straat. Ongelooflik, nè?

Hierdie gebod, saam met die eerste gebod (dat jy God alleen moet aanbid), vorm die hart van die Tien Gebooie. Want as jou verhouding met jou ouers gesond is, sal jou verhouding met ander mense ook gesond wees. En gesonde verhoudings met ander vorm die kern van al die ander gebooie. As jy ’n ander mens respekteer, sal jy nie sy lewe neem nie (die sesde gebod); sal jy sy vrou of man uitlos (sewende gebod); sal jy nie sy besittings steel nie (agste gebod); sal jy hom nie met vals stories benadeel nie (negende gebod); en sal jy hom dit gun om sukses te hê (tiende gebod).

As dit in die huis in die ouer-kindverhouding skeefloop, loop baie dinge daarmee saam skeef. Ons eie land is ’n sprekende voorbeeld hiervan. Gedurende die Apartheidsjare het die stelsel van trekarbeid ontstaan. Mans het uit die tuislande na die goudvelde gegaan om daar te gaan werk, maar hulle gesinne is nie saam nie; wetgewing het dit verbied. Hulle moes in die tuislande agterbly. Die gevolg was dat duisende jong kinders vir alle praktiese doeleindes vaderloos grootgeword het. En, soos die spreekwoord sê, as die kat weg is, is die muis baas. Hierdie kinders het dikwels nie die dissipline geleer wat van hulle goeie wetsgehoorsame landsburgers sou maak nie omdat hulle geen verhouding met hulle pa’s gehad het nie. Kort voor lank het hulle alle vorme van gesag begin uitdaag. Skole en universiteite is afgebrand, die polisie onder klippe gesteek, en die ouers het magteloos gestaan. Die kinders het nie meer na hulle geluister nie.

Ek besef dat hierdie prentjie ietwat eensydig is; dat die onluste-probleem wat ons land in die tagtigerjare van die vorige eeu getref het, baie meer kompleks was. Maar die feit dat die pa’s uit die gesinslewe van die swartmense gehaal is, het beslis ’n baie groot bydrae tot die onrus in ons land gelewer. Want ’n kind het ’n pa en ’n ma nodig; nie net om vir hom of haar kos en klere en ’n dak oor die kop te gee nie, maar ook geborgenheid, opvoeding, en veral ook om ’n rolmodel te wees. As daar liefde en respek in die huis vir die ouers is, wil die kinders hulle ouers se voorbeeld volg.

Miskien het jy nie ’n probleem met hierdie gebod nie. Jy is jonk en jy moet leer om op jou eie bene te staan. Daarom gaan jy jou gang, en jou ouers gaan hulle s’n. Daarmee het ek vrede. Maar eer jy jou ouers? Dra hulle gewig in jou lewe, maak hulle vir jou saak?

Dalk is dít gladnie jou probleem nie. Jy is lief vir jou ouers. Jy respekteer hulle, en hulle help jou baie. Onthou net: daar kom ’n tyd dat hulle jou nie meer so baie sal kan help nie; ’n tyd wanneer hulle te oud sal wees om te help; ’n tyd wanneer die rolle omkeer en jy húlle moet begin help en ondersteun. Daarom moet jy werk aan jou verhouding met jou ouers, sodat die band met hulle sterk en innig bly, en jou ouers jou vriende is. Dan sal dit later, as hulle oud is en jou nodig het, vir jou lekker wees om hulle te kan help.

Eer jou ouers, en sien na hulle om as hulle oud geword het.

Tekste om aan vas te hou:

Levitikus 19:32
Uit eerbied vir jou God moet jy eerbied bewys aan oumense en hulle met respek behandel. Ek is die Here.

Spreuke 1:8,9
My seun, jy moet luister na die onderrig wat jou vader jou gee; moenie wat jou moeder jou leer, verontagsaam nie: dit sal jou lewe versier soos ’n krans jou kop en ’n kettinkie jou hals.

Romeine 13:7
Gee dus aan almal wat hulle toekom: belasting as dit belasting is, aksyns as dit aksyns is, ontsag as dit ontsag is, eer as dit eer is.

1 Petrus 5:5
En julle wat jonger is, moet aan die ouer mense onderdanig wees. Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help, want “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.