SITTIM. – Moses seun van Amram, die leier van die jong volk Israel vir die afgelope veertig jaar, is dood. Hy het eergister vir oulaas sy geliefde volk gegroet en toe, op bevel van God, uit die Moabvlakte opgeklim na Neboberg toe.

Moses het in die verlede dikwels ’n berg uitgeklim om alleen in God se teenwoordigheid te vertoef, maar hierdie keer, het hy gesê, sal hy nie weer terugkeer nie. Hy gaan net kyk hoe die beloofde land lyk, en dan sal hy sterf. Sy opvolger, Josua seun van Nun, het gister ’n soekgeselskap die berg uit gestuur om sy liggaam te gaan haal vir die begrafnis, maar hulle het vanoggend onverrigter sake teruggekeer. Hulle kon sy spoor volg tot op die top van Pisgaberg regoor Jerigo, maar daar het die spoor eenvoudig doodgeloop. Josua het daarop verklaar dat hy aanvaar dat Moses dood is en dat God self hom begrawe het.

Afskeid

Voor sy dood het Moses op dramatiese wyse van sy volk afskeid geneem. Eers het hy die volk van God se teenwoordigheid in die nuwe land verseker, en toe sy opvolger, Josua seun van Nun, aangewys en hom die hande opgelê. Daarna het hy ’n boek aan die Leviete oorhandig waarin al die wette wat hy van God ontvang het, opgeteken is. Hy het die Leviete beveel om die boek langs die verbondsark van die Here te plaas as ’n blywende herinnering dat die Israeliete onder God se bevel staan. Daarna het hy ’n aangrypende lied vir die Israeliete geleer oor die liefde en trou van God ten spyte van die mens se ontrou. Hy het die hoop uitgespreek dat hierdie lied die volk gedurig sal terugtrek na God toe, elke keer as hulle dit sing. Toe het hy vir oulaas sy volk geseën, en daarna alleen die berg uitgeklim.

Van die begin af vir groot dinge bestem

Moses se lewe was van die begin af al bestem vir groot dinge. Hy het by geboorte dramaties die dood vrygespring toe sy moeder hom in die Nyl tussen die riete versteek het sodat farao se moordbendes hom nie kon kry nie. Daar het farao se dogter het hom gekry en as haar eie kind aangeneem. Op veertig het Moses egter na sy mense teruggekeer. Kort voor lank het hy met die Egiptiese slawedrywers gebots en moes hy vlug na Midian. Daar het hy veertig jaar lank gewoon en sy vrou, Sippora dogter van Jetro, ontmoet. Dit was ook hier wat hy die roeping ontvang het om die Israeliete uit die mag van Farao te bevry en na die land Kanaän te lei, ’n taak wat hy met groot onderskeiding verrig het.

 

“MOSES WAS ’N REUS ONDER DIE GROTES”

SITT1M. – Josua seun van Nun, die nuwe leier van die jong volk Israel, het vanoggend hier op ’n huldigingsdiens in ’n rede sy ontslape voorganger beskryf as “die grootste leier wat hierdie volk ooit kon droom om te hê”.

Hy het gesê Moses het die grondslag gelê vir ’n regeringstelsel en ’n gemeenskapslewe. Toe die Israeliete uit Egipte weggetrek het, was hulle net ’n ongeorganiseerde klomp slawe. Moses het hulle saamgesnoer tot ’n hegte volk. Dit was nie aldag maklik nie, en hy het dikwels met kwaai teenkanting te make gekry. “Ek het hom soms moedeloos gesien. Ek het hom soms sien huil van frustrasie. Ek het hom woedend gesien. Maar ek het nooit ooit gesien dat hy sy volk afskryf nie. Want Moses het sy mense met sy hele hart liefgehad,” het Josua gesê.

Daar was net een liefde in Moses se lewe groter as dié vir sy volk, en dit was sy liefde vir die Here. “Ek dink nie ek is verkeerd as ek vandag sê daar sal nie weer ’n profeet in Israel optree wat soos Moses is nie. Hy het die Here persoonlik geken. Ek het by hom geleer wat dit beteken om naby God te lewe. Mag dit ook tog elke dag van my waar wees,” het Josua bewoë sy rede afgesluit.

Josua het ’n routyd van dertig dae vir hulle ontslape leier aangekondig. Eers daarna sal hulle met die groot taak begin om die beloofde land in te trek.

 


Om die Here persoonlik te ken

Moses was ’n begenadigde mens; ’n unieke leier en bowenal ’n man wat in ’n baie besondere verhouding met God gestaan het. Tereg is dít die getuigskrif waarmee die Moses-geskiedenis afgesluit word (Deut. 34:10): “Daar het nie weer ’n profeet in Israel opgetree wat soos Moses was nie. Hy het die Here persoonlik geken.” Dit was die geheim van sy sukses: sy innige verhouding met God.

Ons het nie almal die unieke geleenthede wat Moses gehad het om ’n onuitwisbare merk in die geskiedenis van hierdie wêreld te maak nie. Van min van ons sal gesê kan word dat daar nie weer so iemand in die land sal wees nie. Maar die getuigskrif dat Moses die Here persoonlik geken het, kan ook, nee, móét ook van elke gelowige gesê word. Want wanneer die kind van God die Here daagliks in sy binnekamer ontmoet, leer hy Hom ken en groei hy gaandeweg al vaster aan Hom.

O, dat ons Hom só mag ken!

image_pdfimage_print

Views: 229

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.