Ons ken almal die stryd tussen goed en kwaad, lig en duisternis. Dis oral sigbaar: in die wêreld-politiek, in ons eie dierbare land, in die gemeenskap, in verhoudings, by die werk, in die kerk … Die groot moeilikheid is, dit is ook in onsself, al is ons nie altyd ewe gewillig (en gemaklik daarmee!) om dit aan onsself te erken nie. Binne-in ons elkeen woed hierdie stryd onverpoos voort. Hoe skryf Paulus nou weer in Romeine 7:19? “Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.”
Hoe nou gemaak met hierdie innerlike stryd tussen goed en kwaad? Kan ons daarvan ontslae raak? Kan ons die bose in ons tot niet maak? Die fluisterstem van die duiwel uitdoof? En die begeertes wat hier binne-in ons woel en ons drywe om die verkeerde te doen, tot niet maak?
Te swak
Die slegte nuus is, ons kan nie. Dis eenvoudig deel van menswees; deel van ons DNA sedert die sondeval. Daar het met die sondeval iets in ons gebreek wat die sondigheid in ons lewens ingelaat het, en nou sit ons teen wil en dank daarmee. Jy kan baklei daarteen tot jy blou is, maar wen gaan jy nie. Jy kan wel op die korttermyn en met ysere wilskrag ’n paar oorwinnings oor die boosheid in jou behaal, maar hou gaan dit nie.
In 2 Korintiërs 5 praat Paulus ook van hierdie werklikheid. Hy vergelyk ons aardse bestaan met ’n tentwoning wat broos en kwesbaar is, en dan skryf hy dat hy verlang daarna om sy intrek te neem in die vaste gebou wat God in die hemel vir ons opgerig het. So sal hy immers ontslae wees van alles wat stukkend en onvolledig is.
In vers 4 skryf hy dan: “Ons wat nog in die tentwoning is, sug en voel bedruk omdat ons nie van die aardse liggaam afstand wil doen nie; ons wil die hemelse bo-oor die aardse aantrek, sodat wat sterflik is, verteer kan word deur die lewe.” Die laaste deel van die sin het my oog gevang, en ek loop nou al vir ’n geruime tyd met hierdie woorde in my kop: sodat wat sterflik is, verteer kan word deur die lewe. Dit wat stukkend is, dit wat boos is, dit wat die innerlike stryd in my veroorsaak en lewendig hou, sal eendag vernietig word deur die lewe. Maar nie net eendag nie! Al sugtende en swoegend begin dit nou reeds gebeur in ons. Ons hét immers klaar die lewe ontvang, soos vers 17 met dik hale onderstreep: ons wat in Christus is, is nuwe mense!
Die geheim
En dis natuurlik die geheim. Ons kan ons nie uitwurm uit die magsgreep van die sondige natuur nie. Ons kan nie met wilskrag onsself losruk nie. Maar Christus kan! Daarom noem ons Hom Verlosser: Hy verlos ons van die dodelike houvas van die sonde, en vers 4 bevat die sleutel: sy lewe verteer die sterflike in ons. Gaandeweg, stukkie vir stukkie, maak Jesus se lewe die ou mens in ons dood. Dit gebeur nie deur ons pogings nie, want dit is God se werk in ons.
Maar dit gebeur ook nie sónder ons pogings nie. Dit gebeur na die mate wat ons Christus toelaat om oor te neem, ons denke te oorheers, ons wil te beheer, en selfs ons gevoelens. Paulus stel dit so: Nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe (Galasiërs 2:20). Of in die woorde van Johannes die Doper: Hy moet meer word en ek minder (Johannes 3:30). In Romeine 12:1 staan dit ook: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.
Dit gebeur ongelukkig nie eensklaps nie. Dis ’n geleidelike proses van sterf aan jouself sodat Christus se lewe in jou kan oorneem. Vers 5 sê dis God se werk deur sy Gees. En in 2 Korintiërs 3:18 beskryf hy dit só: “Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”
Ja, ons kan dood word vir die sonde! Ons kán ontslae raak van die innerlike stryd in ons! Maar dan moet ons onsself in Christus verloor; sterf aan onsself, sodat Hy kan oorneem.
Views: 23