Waaraan dink jy as jy die woorde “moord” of “moordenaar” hoor?

Die sesde gebod sê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” Wie van julle het al ’n moord gepleeg?

Dan kan ons seker maar nou huis toe gaan, want die sesde gebod is nie vir ons bedoel nie. Dis vir moordenaars. En ons is tog nie moordenaars nie. Of dalk … Sien ek vir Jesus hier sy hand ophou? Sy kop skud en sê: “Wag, wag, nie so vinnig nie!”?

Want dit is presies wat Hy vir die Jode gesê het. Hy sê jy kan nie armpies gevou en selftevrede na die sesde gebod luister en ’n regmerkie daarlangsaan maak, net omdat jy nog nie iemand vermoor het nie. Want dit gaan in hierdie gebod om baie meer as net iemand anders se lewe neem. Die voorbeelde wat Hy opnoem van hoe ’n mens die sesde gebod kan oortree, laat my nogal ongemaklik voel: kwaad wees vir ’n medegelowige, iemand uitskel vir ’n niksnuts of ’n idioot.

Sê my, is jy kwaad vir ’n medegelowige? Ek vra nie hoekom dit so is of wat gebeur het nie, ek vra net: Is jy kwaad vir iemand? En het jy al iemand uitgeskel of sleggesê? Dalk bitsig opgetree teen iemand anders omdat jy heimlik jaloers is? Of agter sy of haar rug sleggemaak? Die HK vraag 105 verduidelik jy mag dit nie met jou “gedagtes, woorde of gebare doen nie en nog minder met die daad.”

Aag wat, ons doen dit maar almal die een of ander tyd. Dis darem nie of ons daarmee ’n moord gepleeg het nie! Dit is dalk hoe jy dink oor dié vrae.

Hoor dan wat sê die Here Jesus: Dit is inderdaad asof jy moord gepleeg het! Want as Hy verder praat, besef ’n mens dat dit hier nie om ’n kleinigheid gaan nie. As jy voor God staan om te offer en dit val jou by dat iemand iets teen jou het, los dan die offer, sê Hy. Hoekom? Omdat God nie in jou offer belangstel terwyl dinge tussen jou en jou broer nie reg is nie. God druk as ’t ware sy ore toe as jy met Hom praat terwyl dinge tussen jou en jou medegelowige verkeerd is.

Dis natuurlik nie iets nuuts wat Jesus hier sê nie. En ook nie die enigste keer wat Hy dit gesê het nie. In Matt 9:14 en 12:7 verwys Hy ook daarna as Hy Maleagi 6:6 aanhaal: “Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.” En as Hy die wet se heel belangrikste vereistes uitlig, sê Hy dit ook: Jy moet die Here jou God liefhê met alles wat jy is, en, sê Hy, die tweede wat ewe belangrik is, is dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself (Matt 22:37-40).

Dit is wat God van die begin af gesê het, oor en oor: Hom én ons naaste. Maar ons hoor dit moeilik. Ons maak verskonings vir onsself. Ons dink dis nie op ons van toepassing nie. Soos toe God by monde van die profeet Amos (5:7, 14-15, 21-24) gesê het dat Hy die geraas van hulle liedere en die rumoer van hulle offers haat omdat dit nie gepaardgaan met ’n lewe van liefde en respek teenoor ander nie. Of ’n woord soos Spr 21:3: “Die Here verkies dat ’n mens doen wat regverdig en reg is eerder as dat jy offers bring.” Kyk ook na Jes 1:10-20!

Kom ek sê dit weer ’n keer dat ons dit goed kan hoor: God stel nie in ons aanbidding belang terwyl dinge tussen ons en ons broers of susters nie reg is nie. Daarom leer Jesus ons in die Ons Vader om te bid (Matt 6:12): “Vergeef ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe.” En vertel Hy die gelykenis van die onbarmhartige skuldeiser (Matt 18:21-35), waar die amptenaar wie se reuseskuld afgeskryf is, nie die kollega wat hom min geskuld het, genadig wou wees nie. Uiteindelik gooi die koning hom in die tronk. “So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie” (vers 35)

Die apostel Johannes kom telkens hiernatoe terug in sy briewe. In 1 Joh 4:20,21 skryf hy: “As iemand sê: ‘Ek het God lief,’ en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar, want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.”

In my vorige gemeente het ’n ouderling skouer-ophalend gereageer toe ek oor die Tien Gebooie gepraat het, en gesê ons weet tog dat niemand dit kan nakom nie. Dis net riglyne. Maar as ek Jesus reg verstaan, kan ons nooit só oor die wet dink nie. Hoor weer wat sê Hy in Matt 5:17: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry.” En Hy vervolg in vers 20: “As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”

Dis die ding met Jesus. Hy verwag ons álles. Julle onthou mos wat Hy gesê het oor die gemeente in Laodisea (Openb 3:14-22). Hulle was lou Christene, en dit het Hom gewalg. Daarom mág ons nie die skouers optrek en sê Jesus se verklaring van die sesde gebod is darem ’n bietjie te dik vir ’n daalder nie. Die Here Jesus verwag, nee, vereis van ons om in versoening met ander te leef. Die Heidelbergse Kategismus voeg daarom nog ’n vraag (107) by oor die sesde gebod:

Vraag: Het ons die gebod gehoorsaam as ons maar net nie ons naaste doodmaak soos hierbo gesê is?
Antwoord: Nee, terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Ons moet teenoor hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees, alles wat hom kan benadeel sover moontlik probeer voorkom en selfs aan ons vyande goed doen.

Die apostel Paulus het dit goed verstaan. Hy skryf in Gal 5:13-26:

Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.
Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie. Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.
Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.
Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal. Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie,

image_pdfimage_print

Views: 145

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.