Jy mag nie moord pleeg nie.

Jesus se uitleg

Hierdie is darem seker nie ’n gebod waaroor enige ordentlike mens hom oor hoef te bekommer nie. Ek meen, hoeveel ordentlike mense is daar nou eintlik wat moord pleeg? Dis in elk geval hoe die Fariseërs en skrifgeleerdes in Jesus se tyd geredeneer het. Interessant genoeg stem Jesus hoegenaamd nie met hulle interpretasie van dié gebod saam nie. Hy sê vir hulle dat jy op baie maniere moord kan pleeg sonder om ’n ander mens fisies te vermoor. Luister hoe lê Hy dié gebod uit (in Matteus 5:21 en verder): “Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’. Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ’n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ’n idioot, is strafbaar met die helse vuur.”

Karaktermoord

As ek die Here Jesus reg verstaan, sê Hy hier dat die gebod nie net gaan om ’n ander se lewe nie, maar om sy hele menswees. Hierdie gebod vra van ons dat ons ander mense se persoon, se karakter moet respekteer. Wanneer ek ’n ander te na kom of slegsê en in sy karakter inklim, het ek reeds oor die kantlyn getrap.

Ek het nie in ’n omgewing grootgeword waar daar vreeslik gevloek en geskel is nie. Die ergste was wat ek Saterdae op straat gehoor het as mense wat onder die invloed was, mekaar met die tong (en met drankbottels) getakel het. In die universiteitskoshuis was daar ’n paar manne wat redelik rof was, maar hulle was nooit regtig deel van my wêreld nie. Maar toe ek in die weermag kom, was die manier waarop die onderoffisiere en selfs ook die offisiere met die troepe gepraat het, vir my ’n groot skok. ’n Manskap wat drooggemaak het, is sleggesê dat die see hom nie kon afwas nie. Daar is uit die weer gepraat, en die stomme troep se ma is dikwels ook bygesleep en sommer óók sleggesê. Te vreeslik vir woorde.

As die kapelaan van die eenheid moes ek elke Maandagoggend die saalbyeenkoms open met Skriflesing en ’n kort boodskap. Daarna het die bevelvoerder die eenheid toegespreek oor wat hy ook al op die hart gehad het. Ek het die Bergrede (Jesus se groot preek in Matteus 5-7) stelselmatig by dié saalbyeenkomste behandel, en onder andere uitgekom by Jesus se uitleg van die sesde gebod (soos ek dit hierbo aangehaal het). Ek het toe gesê dat die gevloek en geskel op ander totaal onaanvaarbaar is as ons na Jesus se uitleg luister en ons onsself Christene noem. Ek was nogal ernstig dié oggend, en het gehoop dat my woorde die mense sou laat nadink. Toe ek klaar is, was dit natuurlik die bevelvoerder se beurt. Met sy skerp stem het hy gesê: “Ons sê dankie vir die dominee.” En ná ’n kort verposing vervolg hy: “Die dominee het vanoggend gesê ons moenie op mekaar skel en mekaar slegsê nie. Maar ék sê dis orraait, solank ons net nie vanaand kwaad vir mekaar by die hek uitgaan nie.” Daarmee het hy netjies ’n streep deur my hele boodskap – nee, nie myne nie, die Here Jesus s’n! – getrek. Vloek maar, skel maar, sê maar sleg. Dit beteken tog niks.

Die bevelvoerder het duidelik nie die Here Jesus se woorde ernstig opgeneem nie. Ons woorde máák seer; dieper seer soms as wat ons kan dink.

Dit laat my nogal wonder oor die karaktermoord wat deesdae so maklik in die openbaar gepleeg word op die politieke verhoog en in die pers …

Lewens is kosbaar

Hierdie gebod vra méér as net dat ek nie ’n ander se gevoelens moet seermaak nie, hoewel dít op sigself al ’n mondvol is! Dit vra ook dat ek nie só mag optree dat ek my eie of ander se lewens in gevaar stel nie. En dít is ’n storie op sy eie. Want as jy te vinnig ry – en watter jongman hou nie daarvan om die petrol diep in te trap nie? – stel jy jou eie én ander padgebruikers se lewens in gevaar. As jy rook of oormatig en verkeerd eet en drink, dwelms gebruik, of selfs lewensgevaarlike sportsoorte beoefen (soos professionele boks, of Everest probeer uitklim!) stel jy jou lewe in gevaar en wil hierdie gebod vir jou sê: Hokaai! Jy is nou besig om buite die speelveld van God se genade te speel.

In ons dae waarin MIV en vigs ’n realiteit is, is seks voor of buite die huwelik nie net ’n oortreding van die sewende gebod nie (daaroor later), maar ook ’n oortreding van die sesde. Jy speel met jou lewe as jy rondslaap, want jy kan vigs kry. Daarom is hierdie gebod ’n groot stuk genade waarmee God jou wil beskerm teen ander én teen jouself en jou eie sotheid.

Terwyl ons nou by seks is: voorbehoedmiddels wat nie bevrugting keer nie, maar net ’n suksesvolle swangerskap verhinder, kom eintlik ook op moord neer. Want wat is ’n bevrugte eier anders as die begin van ’n nuwe mensie? As jy nou byvoorbeeld met ’n “morning after pill” keer dat jy swanger word, veroorsaak jy eintlik ’n aborsie op ’n baie vroeë stadium. Dieselfde gebeur as jy ’n intra-uteriene aparaat vir voorbehoeding gebruik wat nie konsepsie voorkom nie, maar net voorkom dat die bevrugte eiertjie suksesvol in die baarmoederwand kan inplant.

Aborsies is deesdae wettig in ons land. In God se wet bly dit moord. Die oplossing vir tienerswangerskappe is nie die massamoord op fetusse nie; dis ’n lewe waarin jy rein bly en wag tot jy getroud is voordat jy jouself volledig vir jou lewensmaat gee.

Van landswette en God se wet gepraat: Die landswet verbied deesdae die doodstraf, omdat dit teen ’n mens se konstitusionele reg op lewe ingaan. Maar in God se wet is doodstraf nie uitgesluit nie. In Romeine 13:4 skryf Paulus dat die owerheid die reg (en plig) het om te straf. Die ou vertaling het nog gesê: “Die owerheid dra die swaard nie verniet nie.” Hier gaan dit nie om moord nie, maar om straf, sodat die kwaad uit die gemeenskap geweer kan word.

Die ander kant van die munt

Ek praat nou die hele tyd oor wat die sesde gebod verbied. Maar wat vra dit van ons in ’n positiewe sin? In ’n kort antwoord: Léwe! Lewe voluit, met oorgawe, en saam met ander. Pas jouself op, sorg dat jy reg eet en genoeg oefening kry, en rig jou lewe só in dat jy ook genoeg rus kry sodat jou liggaam gesond kan bly. “All work and no play makes Jack a dull boy” is ’n heel Bybelse begrip!

Hiermee saam vra hierdie gebod dat ek ook vir ánder mense die lewe in sy volheid moet gun en help moontlik maak. Daarom vra hierdie gebod dat ek met ander geduld moet hê; dat daar ruimte in my gemoed en in my oordele vir ander se standpunte en optrede sal wees.

Dis ’n hele mondvol, sou ek sê. Dalk het Paulus hierdie gebod in gedagte gehad toe hy die vrug van die Gees in Galasiërs 5:22,23 beskryf het: “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”

Mense is vir My kosbaar, en hulle moet vir jou ook kosbaar wees. Moenie iets doen wat ander se lewens in gevaar stel nie, en moenie hulle te na kom deur jou woorde of jou dade of gedagtes nie.

Tekste om aan vas te hou:

1 Johannes 3:14,15
Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broer haat, is ’n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie.

Prediker 9:7
Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met ’n bly gemoed; God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.