’n Onderwyseres vertel my ‘n tyd gelede dat twee bekendes in teater-kringe hulle skool besoek het as deel van hulle Lewensoriënteringsprogram. Die twee het op ’n vermaaklike manier ’n baie ernstige saak hanteer: seks. Dis jammer dat hierdie sensitiewe saak op so ’n openbare (en soms banale) manier hanteer moet word. Die kosbaarheid van hierdie gawe kan beswaarlik sonder die innige liefdesband van ’n gelukkige gesin reg aan die volgende geslag oorgedra word. Maar dit is ongelukkig ’n realiteit dat baie kinders nie by hulle ouers oor hierdie sake breedvoeriger onderrig word nie (om nou maar die doopformulier aan te haal).

Onvermydelik moes hulle natuurlik uiteindelik ook uitkom by die realiteit van die VIGS-monster. ’n Wesenlike en dodelike gevaar, so het hulle dit by die kinders ingeskerp. Die man kom toe met die wonderlike gevolgtrekking dat die oplossing vir die probleem is dat jy nie seks moet hê voordat jy getroud is nie. Hoera! wil ek skree. Hier is ’n stukkie kosbare raad vir ons kinders. Maar sy woorde was nog nie koud nie, toe reageer die vrou: Get real, man. Tieners ís seksueel aktief, en jou “oplossing”, hoe reg ook al, sal nie werk nie. Vertel hulle eerder van kondome en veilige seks. Dán help jy hulle om iets aan die probleem te doen.

Die groot Leuen

Get real? Van watter realiteit praat sy? Weet sy dan nie van die realiteit dat talle jongmense in ons tyd doelbewus die keuse gemaak het dat hulle gaan wag tot hulle getroud is nie? Weet sy nie van die realiteit dat seks eers binne die geborgenheid van ’n huweliksband tot sy reg kom nie? Weet sy nie van die realiteit van God se aanspraak op ons hele lewe – ook ons sekslewe – nie? Van die sewende gebod wat ’n duidelike grens afbaken waarbinne seks beoefen en geniet mag word nie?

Ek kan die vrou seker nie verkwalik nie. Sy is nie die enigste een wat die leuen van almal-maak-so-daarom-kan-ek-nie-anders-nie glo nie. Party van die VCSV-kringleiers met wie ek dieselfde aand gesels het, het ook net hulle skouers opgetrek en gesê dit is maar hoe dit gaan en klaar. Dit wys jou net hoe doeltreffend die duiwel se breinspoeling is. Hy laat mense glo dat die verwronge wêreld wat deur die sondeval geskep is, die ware real wêreld is; dat die losbandige lewenstyl wat dag na dag in TV-sepies en flieks en in tydskrifte aan ons opgedis word, die norm is.

’n Ander werklikheid

Ek wil óók vandag uitroep: Get real! Die versoekings is in ons dag ’n yslike realiteit. Ons mag nie ons oë sluit vir die gevaar van VIGS nie. Ons mag nie ons oë sluit vir die realiteit dat baie mense se norme oor seks en baie ander dinge lank nie meer deur God se Woord bepaal word nie, ten spyte van wat in Psalm 119:9 staan. Satan en sonde is ook in die 21ste eeu ’n ontstellende werklikheid; ’n werklikheid waarteen ons onsself en ons kinders móét bewapen, anders gaan jy struikel en val.

Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose magte van hierdie sondige wêreld. Dít is die realiteit waarvan ons baie deeglik bewus moet wees. En, so skryf Paulus in Efesiërs 6:10-18, ons kán ons teen hierdie realiteit bewapen. Nie met kondome nie, maar met die wapens wat God voorsien. Dit beskerm jou nie net teen MIV nie. God se wapens beveilig jou teen ’n baie groter monster: die tirannie van Satan se leuen-werklikheid.

God het ’n beter oplossing vir die VIGS-pandemie, en jy hoef dit nie in ’n kafee te gaan koop nie. Dit vra egter gehoorsaamheid aan Hom, ‘n leefstyl geskoei op sy Woord en die voorbeeld van die Here Jesus, en die moed om vir die profete van Satan te sê: Get real!

image_pdfimage_print

Views: 3

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.