Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
My dogter sê op ’n dag vir my sy is so bang haar huwelik (dis nou ás sy eendag trou) sal nie ’n sukses wees nie. So baie van haar maats se ouers is geskei of aan die skei. Hoekom sal dit met haar anders wees? Of met jou?
Die sewende gebod is deur God ontwerp om die huwelik te beskerm. Dit trek die kantlyne van die veld waarop jy met vreugde jou seksualiteit kan uitleef. As jy dié gebod ernstig opneem, is daar geen rede hoekom jy nie ’n gelukkige huwelik sal hê nie.
Ek kan verstaan hoekom my kind oor die huwelik bekommerd is. As ’n mens deesdae ’n aand lank TV kyk, is die kans redelik goed dat jy iewers in een van die programme ’n bedtoneel sal sien, en heel waarskynlik sal dié toneel nie van ’n getroude paartjie wees nie. Daar sal ook ’n paar verwysings in die komedies na seks wees. (Met programme soos “Sex in the city” op die kassie kan dit sekerlik nie anders nie.) Jy sal nie snaaks daarvan dink nie, want jy is gewoond daaraan. Seks is al lankal nie meer ’n onderwerp vir die slaapkamer van getroudes nie, en seks word ook nie meer beskou as iets wat in die huwelik tuishoort nie. En dis nie net die TV nie. Gaan kyk gerus op die tydskrifrakke – daar is feitlik nie ’n tydskrifvoorblad waarop die woord SEKS nie iewers taamlik prominent voorkom nie. Die massa-media het die samelewing só aan hierdie totaal Bybels-vreemde kultuur blootgestel dat baie mense dink dis maar soos dit behoort te wees. Soos een klasmaat vir my dogter gesê het (hulle was toe in graad 11): sy is nog ’n maagd, maar dis nie vir haar ’n “issue” nie. Sy weet nie of sy sal wag tot sy getroud is nie, want as die regte ou opdaag, sal sy nie omgee om by hom te slaap nie. Ek kan jou ’n brief gee: sy sal nie meer ’n maagd wees as sy die dag voor die kansel staan nie (dis natuurlik nou ás sy hoegenaamd sal trou, wat nog te sê in ’n kerk).
Toe ek nog op skool was, was daar nie iets soos die TV nie (die toetsuitsendings op George het begin terwyl ek met my Matriek-eindeksamens besig was). Wat ek van die huwelik en man-vrouverhoudings geweet het, het ek in my eie ouers se lewens, en in dié van my maats se ouers gesien. Die beeld wat ek gekry het, was dié van gelukkige, gesonde verhoudings. Ek het nie vriende gehad wie se ouers geskei was nie (om die waarheid te sê, egskeidings was destyds baie skaars). Een van my pa se neefs het geskei toe ek nog in die laerskool was, en dit was ’n verskriklike ding in die familie, waaroor nie te veel gepraat is nie, en beslis ook nie voor die kinders nie. Dit was ’n totaal ander wêreld as dié waaraan jy waarskynlik gewoond is. In daardie wêreld het die Bybelse norm dat seks vir die huwelik bedoel is, nog gegeld. Ons het dit nie bevraagteken nie, en dit het ’n baie besliste invloed gehad in die hele manier waarop seuns en meisies teenoor mekaar opgetree het.
Om terug te keer na die beeld van die wet as kantlyne: die sekskantlyne was in my jongdae baie duidelik getrek. Jy durf nie oor daardie streep (tou!) getrap het nie. Jy het geweet dis sonde, en jy het geweet daar wag oneindig baie moeilikheid as jy nie binne die speelveld bly nie. En die wonderlike is – dit het vir my en talle ander mense soos ek gelukkige huwelike besorg. Ek en my vrou was albei nog maagde toe ons getrou het. Daar was geen vrae of geheime oor ’n duister verlede iewers nie; daar was nie kommer oor seksueel-oordraagbare siektes nie (om van die vigs-monster nie eers te praat nie!). Ons kon onsself onbevange vir mekaar gee, want ons het met God se hulp onsself opgepas vir mekaar en vir ons huwelik.
Dié kantlyne werk vandag nog vir my. Ek kom uit die aard van my werk baie met vroue in aanraking. Dikwels in ’n pastorale gesprek is ek alleen in ’n vrou se geselskap. Party van hulle gooi onbeskaamd hulle flikkers vir die dominee. Maar omdat die kantlyne oor seks baie helder en duidelik in my lewe getrek is, kan ek vir jou eerlik sê dat ek nog nooit in die versoeking gekom het om my vrou te verkul nie. Die sewende gebod van die wet bewaar my van dié versoeking en help my om normale vriendskappe met ander vroue te hê. As jy só daaraan dink, sal jy verstaan wat Jakobus bedoel het toe hy geskryf het dat die wet ons vry maak. In 1:25 sê hy: “Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ’n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.”
Dié kantlyne wil jou ook help om veilig tussen die talle slaggate van die verhoudingslewe deur te stuur, sodat jy ook eendag ongeskonde, en met opgewonde afwagting, langs jou toekomstige eggenoot voor die kansel kan staan. Speel binne die kantlyne van God se wet, dan sal jou troudag – soos myne – een van die mooiste dae van jou lewe wees, en boonop die begin van die mooiste tyd in jou lewe.
Hoe God daaroor dink
Die sewende gebod gaan oor die huwelik en man-vrou verhoudings. In God se oë is die huwelik onaantasbaar. Niks, niks mag die egverbintenis tussen man en vrou in die huwelik verbreek nie. Egskeiding is uit. In Jesus se tyd het nie almal so gedink nie. Daar was veral twee groot gedagterigtings na aanleiding van Deuteronomium 24:1-4. Daar staan dat as ’n man sy vrou nie meer liefhet nie omdat hy “iets onbetaamliks” aan haar gevind het, hy van haar kan skei deur ’n skeibrief aan haar te gee. Só ’n huwelik is dan ontbind. Die groot debat onder die rabbi’s het gegaan oor die vraag wat hierdie onbetaamlike ding is wat ’n grond vir egskeiding kan wees. Die meer konserwatiewe uitspraak, wat veral deur rabbi Shammai voorgestaan is, was dat dit skandelike gedrag beteken. ’n Ander standpunt is deur rabbi Hillel ingeneem. Hy het gesê “iets onbetaamliks” kan enige iets wees wat die man nie aanstaan nie. As die vrou die kos verbrand, is dit onbetaamlik, en het die man goeie grond om van haar te skei! (Die arme vrou het blykbaar nie enige sê in die hele saak gehad nie. Gelukkig het tye darem verander, nè.)
In Matteus 19 probeer die Fariseërs vir Jesus by dié debat betrek. Jesus se antwoord laat ’n mens heeltemal nuut na die saak kyk. Hy sê egskeiding is nie deel van God se plan met die wêreld nie. In die begin, met die skepping, het Hy die mens man en vrou gemaak. Die huwelik is deel van die goeie skepping van God, deel van die manier waarop God die wêreld aanmekaar gesit het. Daarom, sê Hy, mag ’n mens nie skei nie, want God self is betrokke by elke huwelik. “Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie,” sê Hy in Matteus 19:6.
As jy soos God na die huwelik kyk, is egskeiding nooit ’n opsie nie, al dink mense deesdae nie meer dat dit iets vreesliks is nie. Jou oorweging mag tog nie wees wat mense dink nie, of hoe?
Maar as jy so na die huwelik kyk, kan jy ook weet: God stel belang, intens belang in jou (toekomstige) huwelik. Hy wíl vir jou ’n gelukkige huwelik, en die regte huweliksmaat. Daarom kan jy met vrymoedigheid tot Hom bid om jou na die regte huweliksmaat te lei, net soos Hy destyds in die Tuin van Eden vir Eva na Adam gebring het. En as jy getroud is, kan jy op Hom staat maak om jou en jou eggenoot te help om ’n gelukkige huwelik te hê. Dís mos sekuriteit in ’n mark waar geen instansie bereid sal wees om jou huwelik te verseker nie!
Basiese bousteen van die skepping
Die huwelik is deel van die manier waarop God die skepping gemaak het (of, soos die teoloë dit stel: deel van die skeppingsorde). Dis nie ’n mensgemaakte, uitgedinkte instelling nie. En ’n mens peuter nie aan God se skeppingsorde sonder ernstige gevolge nie.
Dit het die Russe op die harde manier moes leer. Toe die Rooi Rewolusie in 1917 deur Rusland geswiep het, was die kommuniste vas van plan om alles wat na kapitalisme lyk, met wortel en tak uit te roei. En, so het hulle verkeerdelik geglo, die huwelik is ’n tipiese kapitalistiese instelling. Daarom moet die huwelik weg. Hulle het die mense ontmoedig om te trou. Mense het saamgewoon en mekaar gevat en gelos soos hulle wou. Nouja, soos jy weet, is daar altyd die moontlikheid dat kinders in so ’n situasie gebore kan word. Talle kinders het in die wêreld gekom buite die veilige ruimte wat die huwelik bied. ’n Pa het hom dikwels nie gesteur aan sy kinders nie, want hy was lank nie meer deel van die ma se lewe nie. Kinders het min of meer op straat grootgeword, sonder ouers wat omgee of hulle opvoed. Jy kan jou dié situasie seker effens voorstel. In elk geval, die uiteinde is ook voorspelbaar. Binne ’n paar jaar is die samelewing só ontwrig dat die regering moes ingryp. Hulle het hulle beleid radikaal omgekeer, en vandag het Rusland ’n baie konserwatiewe huwelikswetgewing. Dit wys jou net. Peuter jy met God se orde, kry jy waarvoor jy soek: chaos.
Dit laat my nogal bekommerd oor die rigting waarin ons samelewing beweeg, want in die Westerse wêreld is die huwelik, so lyk dit my, op pad uit. Ek het iewers gelees dat geen wêreldbeskawing nog die ineenstorting van die sedes oorleef het nie. Hoekom sal die Westerse beskawing ’n uitsondering wees?
Uitbuit van vroulike liggaam
Jesus het op ’n ander plek ook een en ander oor hierdie gebod te sê. In Matteus 5:27 en 28 sê Hy: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.” Hiermee sny Hy die hele pornografiese industrie aan. Maar Hy praat hiermee ook oor die manier waarop jy aantrek, juffrou. Vroulik en sexy aantrek is een ding, maar as ek na die klereontwerpers se modeparades kyk, wonder ek. Party ontwerpe is lankal verby die punt van vroulik en sexie; dis openlik uitlokkend en ontblotend. Jy kan sê dis net avand garde ontwerpe wat nie op straat gedra word nie. Maar ek weet nie so mooi nie. Wat vandag avand garde is, hang môre in die boetiek. En oormôre hang jy by jou klere uit om in die mode te wees. Sexy, sê jy? Ag nee wat. Wil jy dit dan op jou gewete hê dat die manne struikel?
Terloops,’n vriend van my merk nou die dag op dat ons moderne mense nie meer subtiliteit kan waardeer nie. Jy sien dit oral. Musiek word oorverdowend (letterlik!) hard gedraai, en die ritme móét met tromme uitgebasuin word; so anders as klassieke en volksmusiek waar die ritme onteenseglik daar is, maar nie oorbeklemtoon nie. In films en TV-programme laat bedtonele al minder aan die verbeelding oor; in my jongdae was die suggestie genoeg, en het die kameraskoot vervaag as die kamerdeur agter die twee toemaak of as die eerste knoop losgemaak word. In tydskrifte raak die foto’s al meer gewaagd. In boeke word sekstonele tot in die fynste detail beskryf. En die klere het al minder om die lyf.
Die eis van die sewende gebod
Op ’n positiewer noot: wat vra hierdie gebod van ons? En meer spesifiek van jou wat nog nie getroud is nie? Dit vra dat jy die huwelik as ’n instelling van God sal respekteer. Prakties beteken dit dat jy jou daarop sal toelê om jou nóú al vir jou eie toekomstige huwelik voor te berei; dat jy sal bid dat die Here die regte huweliksmaat oor jou pad sal bring; dat jy in verhoudings waarin jy kom, só sal optree dat jy én jou maat met ’n rein gemoed voor God leef. Dit beteken onder andere dat seks vir die huwelik gebêre word. As die verhouding dan op niks uitloop nie, kan julle uitmekaar gaan sonder dat jy met ’n klomp hartseer bagasie opgesaal agterbly wat jou volgende verhouding kan benadeel. En as die verhouding wel op ’n huwelik uitloop, het julle geleer om mekaar te respekteer en te vertrou, en is daar soveel opwindende dinge waarna julle kan uitsien.
As jy eers getroud is, vra dié gebod dat jy alles in die werk sal stel om gelukkig getroud te wees en te bly. En wees gewaarsku: die woordjie “werk” in die sin hierbo is nie onvanpas nie. Geen huwelik kan sonder moeite van die man én vrou gelukkig bly nie. Jy trou met iemand omdat jy hom of haar liefhet, maar as jy eers getroud is, móét jy hom of haar bly liefhê, en dit vra werk. Nie slegte werk nie, maar tog. Jy sal tyd en energie in die verhouding moet insit. En in jou prioriteite en keuses sal jy jou huweliksmaat in ag moet neem.
Die sewende gebod sê: God is besorg oor die huwelik, en Hy waak jaloers daaroor. Is dit nie ’n wonderlike troos nie?
Die huwelik is heilig, en jy moet alles in jou vermoë doen om jou eie huwelik en ander s’n in stand te hou.
Tekste om aan vas te hou:
Maleagi 2:13-15
Julle huil en kerm en sug by die altaar van die Here omdat Hy nie meer julle offers wil aanneem nie, en julle vra: “Waarom dan nie?” Dit is omdat die Here weet wat gebeur het tussen jou en die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is: jy was ontrou aan haar, ontrou aan jou eie vrou, die vrou aan wie jy plegtig trou belowe het. Die Here het man en vrou een gemaak, een in liggaam en gees. En waarom een? Omdat Hy wil hê dat daar ’n nageslag moet wees, wat Hom eer. Beheers julle, moenie ontrou wees aan die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is nie.Spreuke 6:28,29
Kan jy op brandende kole loop sonder dat jy jou voete verbrand? Net so min kan jy by ’n ander man se vrou slaap sonder om gestraf te word, jy sal nie vry kom as jy met haar lol nie.Prediker 9:9
Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, dié lewe wat tot niks kom nie, maar wat God jou in hierdie wêreld gegee het, die hele lewe wat tot niks kom nie. Dit is wat jou toekom in die lewe, wat jou toekom vir al jou geswoeg in hierdie wêreld.