’n Stryd waarmee elke gelowige daagliks te kampe het, is die stryd tussen ons ou, sondige self, en die vernuwende werk van die Gees wat ons wil bring by ’n lewe wat aan God toegewy is, ’n lewe wat al hoe meer soos Jesus lyk. Dis ’n stryd waarby ons intens betrokke is, want ons ou onbekeerde self wil nie bes gee nie en wil nie die Gees toelaat om in ons lewe oor te neem nie. Dit het Paulus by geleentheid laat sug dat hy nie die goeie dinge wat hy wil doen, doen nie, maar eerder die slegte wat hy nie wil doen nie (Romeine 7:19).

Paulus skryf ’n bietjie uitvoeriger hieroor in Galasiërs 5:13-26. Ons almal ken die laaste deel van sy betoog, waar hy skryf hoe die vrug van die Gees in ’n mens se lewe lyk, en die beskrywing wat hy in vers 22-23 gee, lyk soos ’n beskrywing van die Here Jesus: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Dis hoe ons almal wil lyk! Dis die vrug waarmee God sy koninkryk bou. Waar ons só begin lyk en leef, begin daar iets van God se koninkryk in die wêreld deurbreek en word die kerk ’n venster van die hemel.

Maar daar is ook die ander kant: die kant van die sondige natuur. Ons lees dit nie so graag nie, want dit lyk nie mooi nie: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge (vers 19-21). Die meeste van ons sal dadelik saamstem dat onsedelikheid en onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens en towery darem regtig ver van die kol is, en ook dronkenskap, uitspattigheid en sulke soort goed. Maar daardie klomp eienskappe in die middel van die lys laat my hare rys. Ek noem dit weer: vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns … Dís hoe mense optree wat nie toelaat dat die Gees hulle lewens beheer nie. Dís wat die gevolg is as ons sondige natuur die oorhand in ons lewens kry. Dit jaag mense uitmekaar, en bring ongeluk en verdeeldheid.

Dis natuurlik groot pret vir Satan, want dit is sy oogmerk in die lewe: om mense teen mekaar op te steek en in vyandskap, twis en rusies vas te knoop, want dan fokus hulle só op die ander waarmee hulle in stryd is dat hulle die oog van die Here Jesus afhaal. En dan is die stryd verlore. G’n wonder nie dat Paulus ons in Efesiërs 4:27 vermaan dat ons nie aan die duiwel vatkans moet gee nie!

Daarom moet ons mooi let op wat Paulus in vers 21 skryf. Ná die lys praktyke van die sondige natuur sê hy reguit: “Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.” Hierdie saak is nie kinderspeletjies nie. Dit gaan om lewe en dood; die ewige lewe en die hel. Dís hoe ernstig dit is.

As ons begryp dat dit hier gaan om ons en ons eie wil wat moet buig voor God se Gees, kan ons dit begryp. In God se koninkryk is daar nie plek vir mense wat self koning van hulle lewe wil wees nie. Daarom waarsku Paulus ons in Romeine 8:8: “Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie.” In God se koninkryk is daar net plek vir mense wat hulle ou natuur kruisig en Jesus volg. Of soos Johannes die Doper in Johannes 3:30 gesê het, mense wat toelaat dat die Here Jesus meer word, terwyl jyself minder word.

Dis nie ’n gou-gou proses nie. Dis ’n lewenslange stryd. Maar as jy die Gees toelaat om die beheer oor te neem, ontdek jy dat God hierdie wonderlike werk in jou doen, en vir jou doen, soos 2 Korintiërs 3:18 sê: “Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”

Mag die Gees van God só in ons besig bly!

image_pdfimage_print

Views: 81

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.