Jy mag nie steel nie.

Ken jy die uitdrukking “om met ’n ander man se kalwers te ploeg”? Dit beteken (maar jy weet dit seker) om iemand anders se idees te gebruik en te maak of dit joune is, sodat jý die lof kan inoes. Soos die man wat met ’n briljante idee vorendag kom wat sy werkgewer duisende rande sal spaar, en dan maak sy onmiddellike hoof aan wie hy die plan voorlê, of dit sý idee is as hy dit na die werkgewer neem.

’n Vriend van my, Jan (ook ’n dominee), het my eenkeer vertel hoe sy kollega hom gekry het. Hulle het elke Woensdag bymekaar gekom om saam te beplan en saam te bid, maar hulle verhouding was nie baie hartlik nie. Op ’n keer was hulle weer bymekaar in Jan se studeerkamer. Jan is uit om koffie te gaan maak, en toe hy terugkom na die studeerkamer, is sy kollega besig om die preek te lees waaraan Jan gewerk het vir die Sondagaand. Tot sy groot verbasing en ontsteltenis het sy kollega dit toe goedgedink om daardie Sondagoggend Jan se preek te gebruik. Die kollega het nie net sy idee gesteel nie; hy het hom ook in ’n groot moeilikheid gehad, want toe kon hy natuurlik nie meer dié preek vir die aanddiens gebruik nie, en moes hy behoorlik spook om ’n ander preek vir die aand gereed te hê.

Ja, ’n mens kan op meer as een manier steel. Vir party soorte steel kan jy in die tronk beland. Maar ander soorte steel, soos dit wat my vriend oorgekom het, is in die Here se oë minstens net so erg. Jy steel iemand anders se “intellektuele eiendom”, soos hulle dit deesdae noem. Nie iets tasbaars nie, maar tog behoort dit nie aan jou nie. Soos wanneer jy iemand anders se huiswerk afskryf, of in die eksamen afkyk. Ek is nou nog ongelukkig oor ’n klasmaat van my wat gereeld die aand voor die eksamen my aantekeninge kom leen het waaraan ek dae lank gewerk het terwyl hy leeggelê het. Dan swot hy dit gou op en gaan ploeg ewe tevrede met mý kalwers. Jy mag nie steel nie, sê die agste gebod.

Dankoffers

Dis erg as jy van iemand anders steel. Maar as jy van God begin steel, is dit baie erg.

Een jaar toe ek op huisbesoek oor die gee van dankoffers gepraat het, het ek ’n hele paar diewe in die gemeente ontdek; mense wat van God steel. Soos die man wat vir my gesê het hy trek die petrolgeld wat hy uitry om kerk toe te kom, van sy dankoffer af. ’n Ander man, weer, het aan my “bewys” dat hy heeltemal sy deel doen as hy vyf rand per maand vir die kerk gee. Dit is immers sy volle tiende, het hy gesê. Ek het so na sy pragtige huis op die kleinhoewe gekyk, en sy duur meubels, en ek het onthou dat daar ’n motor en ’n bakkie in die oprit staan. Hy was toe gou by met sy redenasie. Hy het gesê hy dink nou só oor die saak: hy gee ’n tiende van sy besteebare inkomste. Daarom trek hy eers sy huisverband af, en sy motorpaaiemente, en die lone wat hy aan die werkers op die kleinhoewe betaal, en sy assuransie, en ek weet nie wat nog alles nie. Op die ou end het hy net ’n besteebare inkomste van vyftig rand per maand gehad, en daarop gee hy sy volle tiende!

Dis mos maar altyd ’n kwessie of jy op jou bruto-inkomste of op jou netto-inkomste moet werk as jy jou tiende bereken. Iemand het hieroor gesê dit hang net af hoe jy wil hê die Here jou moet seën: bruto of netto. Dit laat ’n mens dink, nè. Maar om terug te keer na die man met die vyf rand dankoffer – só maak jy ’n bespotting van die beginsel dat ’n deel van jou inkomste die Here toekom, en steel jy elke maand van God. As jy verstaan dat alles wat jy het, van God af kom en dat dit eintlik Syne is wat Hy tot jou beskikking stel om met verantwoordelikheid te gebruik, moet die vraag nie wees: Hoeveel van my inkomste gee ek vir God? nie. Dit moet eerder wees: Hoeveel van alles wat die Here in sy groot genade aan my toevertrou, gaan ek vir myself uithou? Want dít is op die ou end wat ons is: bestuurders van God se wêreld, nie bouers aan ons eie koninkrykies nie. Soos Dawid in Psalm 24:1 sê: “Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here …” Jesus het ook in Matteus 22:21 gesê: “Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”

In die tyd van die profeet Maleagi was die mense ook maar traag om hulle offers te gee soos dit hoort. Hulle vyf rand offers het net ’n bietjie anders gelyk. Hulle het minderwaardige offers aan die Here gebring: blind of siek of lam diere – diere waarmee hulle sélf niks kon maak nie. Hoor ’n bietjie wat dink die Here daarvan: “… julle doen my Naam oneer aan. Julle dink die altaar van die Here kan maar ontwy word en die offers daarop met minagting behandel word. En dan sê julle nog dis ’n klomp moeite en julle trek die neus daarvoor op. Dit is wat die Here die Almagtige sê. Julle bring gesteelde, lam, siek diere, julle bring dit as offers! Moet Ek ingenome wees daarmee dat julle vir My sulke goed bring? vra die Here” (Maleagi 1:12,13).

’n Diaken vertel dat hy by geleentheid by ’n man gekom het om die dankoffer te gaan haal. Die man het by sy tafel gesit, en toe die diaken inkom, het hy sy beursie uitgehaal, ’n tweerandstuk uitgehaal en dit na die diaken aan die anderkant van die tafel geskiet. “Dè. Vat die geld en loop!” was sy enigste woorde. Die diaken het die muntstuk na die man toe teruggeskiet en gesê: “Nee. As dít jou dankbaarheid teenoor die Here is, wil ek dit nie hê nie,” en omgedraai en geloop. Die diaken se woorde het by die man gespook, en toe die diaken later die aand by sy huis terugkom, staan die man hom en inwag, gebroke. Hy het nooit daaraan gedink dat die geld wat hy vir die kerk gee, ’n teken van sy dankbaarheid teenoor God is nie, het hy gesê, en ’n handvol note na die diaken uitgehou.

Toe hand leef

Jy sien nou: steel is nie net om te vat wat nie aan jou behoort nie. Steel kan ook wees om nie te gee wat jy moet nie. Dit is steel as jy nie jou dankoffer vir God gee nie. Dis ook steel as jy met ’n toe hand teenoor jou naaste te leef. Soos die ryk sakeman op die dorp. Die plaaslike kankervereniging was met ’n groot insameling besig, en hulle het, behalwe die gewone deur-tot-deur insameling, ook die sakemanne van die dorp genader. Toe die kollektant by die een besonder ryk sakeman kom en ’n bydrae vra, was die sakeman redelik ontevrede met hom. “Ek het ’n bejaarde ma wat lankal nie meer met haar ou karige pensioentjie kan uitkom nie,” het hy gesê, en bygevoeg: “En my swaer het sy werk verloor en sit met ’n vrou en drie kinders op straat. My een seun was in ’n motorongeluk en sit in ’n rolstoel.” Die kollektant het verskoning gevra dat hy by die man kom kollekteer het. Hy wou nog sê dat hy nie geweet het van die man se verpligtinge nie en dat hy natuurlik nie van hom ’n bydrae kan verwag as die man al klaar op soveel plekke moet help nie, maar die man het hom nie kans gegee om te praat nie. Hy het om in die rede geval en gesê: “Kyk, as ek vir nie een van my eie familie ’n sent gee nie, hoekom sal ek nou vir jóú ’n bydrae gee?”

’n Mens kry snaakse mense. ’n Mens durf nie soos hierdie sakeman lewe as jy die Here liefhet nie. Een van die uitdruklike vereistes in die Bybel wat soos ’n goue draad deur die Ou én Nuwe Testament loop, is dat ons ’n hart moet hê vir hulle wat swaarkry. Dis jou plig om hulle te help wat in nood is. Daarom, om jou in staat te stel om iets oor te hê vir mense in nood, moet jy hard werk en spaarsamig leef, anders oortree jy die agste gebod.

’n Ander manier waarop jy kan steel deur nie te géé nie, is as jy iemand nie behoorlik vergoed vir die werk wat hy doen nie. Daar was die laaste tyd groot ongelukkigheid in sommige kringe oor wetgewing waardeur die regering ’n minimum loon wil voorskryf. Ek wil nou nie daaroor te veel sê nie, maar ek dink bloot die feit dat só ’n wet oorweeg word, is ’n aanklag teenoor werkgewers wat nie hulle mense genoeg betaal nie. Dit raak die hele spektrum van die samelewing, van huiswerkers en plaaswerkers tot fabriekswerkers en munisipale werkers. ’n Dagloon moet darem seker genoeg wees dat die werker daarmee vir homself en sy afhanklikes kan sorg?

Van fabriekswerkers gepraat: ek lees dat ’n groot Amerikaanse vervaardiger van sporttoerusting meer aan borgskappe vir een spesifieke basketbalspeler betaal as wat al die fabriekswerkers in Singapoer wat die sportskoene maak, saam verdien. Dink jy dis reg? Ek dink hulle steel van die stomme fabriekswerkers! Maar jy sien, die fabriekswerkers is verleë. Hulle het die werk nodig, en daarom durf hulle nie te veel sê nie. Op die ou end is dit maklik om die armes uit te buit, want hulle is weerloos. Hulle het nie die mag om vir hulle eie regte op te staan nie. Hulle is van my en jou goedgesindheid en integriteit afhanklik.

Die armes word maklik uitgebuit. Seker een van die skreiendste maniere waarop dit vandag oop en bloot gebeur, is met die mikroleningsbedryf, waarheen die armes hulle wend om geld te kry. Die astronomiese rentekoerse wat hulle aan geldskieters in dié bedryf moet betaal, is niks anders nie as diefstal. Dis net ’n maand of drie, vier, dan is die stomme mens só in ingesuig dat hy sy hele loon net so aan rente moet betaal.

God se gawes

Ek dink een van die dinge wat hierdie gebod by jou en my wil laat gebeur, is dat ons opnuut waardering sal hê vir dit wat ons het. En daar is baie dinge wat ek en jy as vanselfsprekend aanvaar, wat miljoene mense nie het nie, soos dié boodskap wat ek nou die dag in my e-pos gekry het, illustreer:

  • as jy kos in die yskas het, klere in jou kas, ’n dak oor jou kop en plek om te slaap, is jy ryker as 75% van die wêreld se mense;
  • as jy geld in die bank en in jou beursie het, en iewers in ’n fles ’n paar stukkies kleingeld, is jy onder die top 8% van die wêreld se rykes;
  • as jy vanoggend opgestaan het met meer gesondheid as siekte, is jy bevoorreg bo die miljoen mense wat nie hierdie week gaan oorleef nie;
  • as jy nog nooit die gevaar van oorlog beleef het nie, of die eensaamheid van gevangenskap, of die pyn van marteling, of die uitmergeling van verhongering, is jy beter daaraan toe as 500 miljoen mense wêreldwyd;
  • as jy ’n kerklike byeenkoms kan bywoon sonder die vrees vir teistering, arrestasie, marteling of dood, is jy meer geseënd as drie miljard mense in die wêreld;
  • as jou ouers nog leef en steeds getroud is, is jy ’n hoë uitsondering, selfs in Suid-Afrika;
  • as jy ’n glimlag op jou gesig het en werklik dankbaar is, is jy geseënd, want die meerderheid mense kan, maar die meeste doen dit nie;
  • en as jy hierdie woorde kan lees, is jy meer geseënd as die twee miljard mense wêreldwyd wat gladnie kan lees nie.

Reg om te besit

Waarop kom die agste gebod dan neer? Dat enige mens die reg het om dinge te mag besit – of dit nou ’n huis, ’n rekenaar of motor is, en of dit ’n klomp kennis is. Dis sýne, en jy mag dit nie vir jou vat nie, net soos jy weer ’n klomp dinge mag besit wat joune alleen is. God wil elke mens en sy of haar goed beskerm. Dink net hoe wonderlik die wêreld sou wees as almal die agste gebod gehoorsaam het – geen diefwering, geen slotte, geen sekuriteitsmaatskappye. Dink net hoe vry sou ons wees, en hoeveel geld sou ons spaar. Dit klink soos hemel op aarde! Maar dis presies wat sal gebeur as almal volgens die reëls van die lewe soos God dit bepaal het, begin leef.

Elke mens het die reg om dinge te besit, en jy moet dié reg respekteer.

Tekste om aan vas te hou:

Spreuke 30:7-9
Net twee dinge vra ek van U; moet my dit tog nie weier nie; daarna kan ek sterf: moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie; moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: “Wie is die Here?” nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie.

Psalm 37:21
Die goddelose leen en betaal nie terug nie, die regverdige kry jammer en help.

Jeremia 22:13
Ellende wag vir hom wat sy huis met onreg bou, sy bokamers met minagting van die reg, vir hom wat sy mense sonder betaling laat werk, wat hulle nie hulle geld gee nie.

Maleagi 3:10
Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.

Efesiërs 4:48
As iemand ’n dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op ’n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.