Die agste gebod is: Jy mag nie steel nie.
’n Vriend van my, ook ’n predikant, vertel van ’n keer toe hy en sy kollega in sy studeerkamer hulle weeklikse beplanning gedoen het. Hy was op daardie stadium besig om te werk aan sy preek vir daardie Sondagaand, en sy notas het op die lessenaar gelê. Daardie Sondagoggend preek die kollega toe mooitjies die preek wat hý aan die maak was vir daardie aand! Die kollega het, terwyl hy uit die studeerkamer was om vir hulle te gaan koffie maak, sy notas gelees en dit vir sy eie preek gebruik.
’n Mens kan op meer as een manier steel.
HK 110: Wat verbied God in die agtste gebod ?
Antwoord: God verbied nie slegs die diefstal en roof wat die owerheid straf nie, maar Hy beskou ook as diefstal al die skelmstreke en liste waardeur ons probeer om ons naaste se besittings in die hande te kry. Dit kan gebeur met geweld of met ’n skyn van reg soos deur die vervalsing van gewigte, lengtemaat, inhoudsmaat, goedere, geld, deur woeker of enige middel wat God verbied. Hy verbied ook alle gierigheid en alle misbruik en verkwisting van sy gawes.
Dis darem ’n slegte verhaal hierdie. Dis ’n verhaal wat met soveel hoop begin: Isak bid tot die Here, en Hy verhoor die gebed en Rebekka word swanger; Rebekka raadpleeg die Here en Hy antwoord haar. En dan word die tweeling gebore: Esau en Jakob, met al die potensiaal wat in hulle opgesluit lê. Dis waar die hoop in die verhaal ophou. Want Isak trek vir Esau voor, Rebekka kies vir Jakob, en so word die gesin in twee geskeur.
Esau het nie enige erg aan sy verantwoordelikheid en posisie as oudste seun in die gesin nie, en Jakob buit sy broer se traak-my-nie-agtige houding uit om homself te bevoordeel. ’n Mens sou kon sê Esau het gekry wat hy verdien het. Hy moes nie so onverantwoordelik gewees het om sy erfporsie vir ’n pot sop te verkwansel nie. ’n Mens sou seker ook kon sê Jakob was maar net ’n vernuftige sakeman wat ’n oog vir ’n geleentheid gehad het.
Dis op dié punt dat die HK ons weer laat dink. Die Kategismus sê God verbied in hierdie gebod ook skelmstreke en liste waardeur ons probeer om ons naaste se besittings in die hande te kry. En hierdie was ’n skelmstreek uit die boonste rakke.
Maar die Kategismus sê nog iets, en wys ons daardeur wat lê ágter die steel-daad. Die 8ste gebod, sê HK 110, verbied ook gierigheid, want agter die diefstal of die skelmstreek lê dit gewoonlik: gierigheid, die begeerte om meer en meer te hê, om in te palm ten alle koste, sonder om ’n bloue duit om te gee wat van die een word wat uitgebuit is. En as ’n mens Efes 5:5 hiermee saam lees, raak dit ernstig: Dit moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of ’n gierigaard is – want gierigheid is afgodery – het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie.
Jakob het niks vir Esau gevoel nie. Ek dink nie eers hy het daaraan gedink dat Esau in die proses ondergaan nie. Solank hy maar net kry wat hy wil hê, maak dit nie saak dat hy ander benadeel nie.
Sien, dis wat gierigheid doen: dit laat jou wegkyk van mense en hulle behoeftes omdat jy net op jou eie voordeel fokus.
’n Mens kan op baie maniere steel. Julle sal almal ’n manier kan opnoem waardeur ’n mens steel. ’n Ding wat ook in die Kategismus aangeraak word, is: misbruik en verkwisting van God se gawes. Dis nou gawes wat jy persoonlik van God ontvang het, maar ook die gawe van die lewe hier op aarde. Ons moderne mense met ons onversadigbare sug na meer is besig om die aarde leeg te tap en uit te suig, sodat daar vir ons nageslag min gaan oorbly. Ek het iewers gelees as die besoedeling en gepaardgaande aardverwarming nie binne die volgende 20 jaar omgekeer word nie, gaan daar nie meer ’n omkeer kan wees nie omdat die natuur te veel skade gely het. Binne die volgende 20 jaar. Maar ons steel lustig voort en vermors God se gawes aan ons.
Hoekom? Omdat ons, soos Jakob, nie juis omgee wat agterbly nie, solank ons net gegryp het soveel as wat ons kan?
Hoe het Jesus ons geleer? Dat ons nie vir onsself moet leef nie. Soek eers die koninkryk van God en die wil van God, dan sal Hý al hierdie dinge vir ons gee (Matt 6:33). Trouens, Hy gee Homself aan ons! Ons het dit net verlede week nog gevier. ’n Ete waarin die Here Jesus Homself aan ons uitdeel.
Dit staan nogal in skrille kontras met Jakob se ete. Pleks hy Esau nooi om saam met hom te eet aan die heerlike sop. Só kon hulle nader aan mekaar gekom het, want dit is wat gebeur wanneer mense saam eet.
Die agste gebod sê: moenie net aan jouself dink, ten koste van ander nie. Gun ander mense hulle goed en hulle prestasies en suksesse. Deel in hulle vreugde, en deel jou eie gawes met ander. Soos Jesus gedoen het. Hy het nie aan Homself gedink nie, maar Homself gegee vir sy dissipels, en vir ons.
Mag ek en jy al meer soos die Here Jesus word!
Amen.
Views: 182