Om met hoop te leef

Ek vermoed ons ken almal daardie gevoel van onsekerheid, ’n onbehaaglike gewonder oor God se besigwees in die wêreld, en veral met jouself en jou omstandighede. Meestal wonder jy nie soveel daaroor nie (veral nie as dit met jou goed gaan nie), maar wanneer jy in die noute is, knaag dié gedagte aan jou: wat dóén God dan? Jy bid, jy pleit, jy soebat, jy klou vas aan Jesus se beloftes dat Hy sal gee as jy vra en antwoord as jy roep, en dat jy jou bekommernis op Hom kan werp, want Hy sorg vir jou. Maar niks gebeur nie! Niks verander nie! Dinge word eerder nóg slegter. Jy sien nie hoe God ingryp nie, en dit voel vir jou die duiwel lag in sy mou omdat jy so swaar kry.

Dis in sulke tye dat die Psalms nuwe betekenis kry, want daar ontdek jy dat daar talle ander gelowiges is wat, soos jy, ook oor dié goed wonder en oor dié soort vrae met God worstel. Daar lees jy hoe die bidder by God pleit en soebat, hoe hy sug en kerm en kla, en selfs sonder skroom God se wraak en vergelding op sy teenstanders afbid.

Ek is nie so seker dat ek my vervolgers wil haat en hulle ondergang begeer, soos die psalmdigters gedoen het nie. Dís nie deel van my geloofsverstaan nie. Jesus het immers geleer dat ons moet vergewe soos ons vergewe is (o.a. in Matteus 18:21-35). Wat ek egter wel by die psalmdigters kry en wat ek met groot vasberadenheid volg, is hulle hardnekkige vertroue in die Here, ten spyte van alles wat met hulle gebeur en al die teenslae wat hulle tref. Ek dink hier byvoorbeeld aan Psalm 143. Aangrypend waar die digter sê: “Antwoord my tog gou, Here, ek is heeltemal gedaan […] Laat my elke môre u liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue” (verse 7 en 8). En lees gerus ook die hartroerende gebed in Psalm 10.

Maar nie net bly hulle hardnekkig vasklou nie; hulle bly ook hoop, ondanks hulle nood, soos Psalm 10:17-18 dit verwoord: “U het die gesmeek van die hulpeloses gehoor, Here. U gee hulle nuwe moed. U verhoor hulle gebed. U behartig die regsaak van die weeskind en van die mens in nood, sodat niemand op aarde langer in vrees hoef te lewe nie.”

Dít is wat hoop is: die sekerheid dat die Here se trou (die Here sélf!) nie van jou gewyk het nie, selfs (juis!) wanneer jy niks daarvan kan sien nie. Geloof is immers nie ’n saak van sien nie, maar van vashou aan die Onsienlike, soos die Hebreërskrywer ons in 11:1 leer. Ek sê: hoop is sekerheid. Hoop is nie hopelik, of miskien, of dalk as jy gelukkig is nie. Hoop is onwrikbaar vashou aan God, omdat jy Hom vertrou met jou lewe, en seker weet Hy sal jou nie in die steek laat nie, al gebeur ook wat.

Onverbeterlik verwoord die digter wat hoop is in Klaagliedere 3:18-26. Veral vers 24 vat die kern daarvan saam: “Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.”

Een van die Ou Testamentiese profete wat alle rede gehad het om te wanhoop, was Jeremia. En tog noem Hy God “die Hoop van Israel”! In Jeremia 17:13-14 skryf hy: “Here, Hoop van Israel, wie van U af weggaan, kom bedroë daarvan af; wie van U af wegdraai, is vir die dood opgeskryf, want hulle verlaat die Here, die bron van die lewe. Maak Ú my gesond, Here, dan sal ek gesond wees! Bevry Ú my, dan sal ek vry wees! Dit is vir U wat ek wil loof.”

Die Hoop van Israel hét in Christus na ons toe gekom, sodat jy en ek elke dag met hoop kan leef. Die Onsienlike het óns gesien en tot by ons gekom, al sukkel ons dikwels om Hóm te sien. Daarom is my gebed vir elkeen wat wonder wat maak God dan, dié van Romeine 15:13: “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees.”

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings