JERIGO. – Die spanning loop hoog in dié oeroue Kanaänitiese vestingstad. Dit word veroorsaak deur die Israeliete wat, vreemd genoeg, nog geen aanval op Jerigo geloods het nie, hoewel hulle klaarblyklik van plan is om die stad in te neem.
Die stadspoort is as ’n voorsorgmaatreël reeds twee weke lank gesluit. Vyf dae gelede het die Israeliete inderdaad ook na die stadspoort opgeruk. Hulle het egter nie aangeval, soos verwag is nie. Hulle het slegs een maal om die stad gemarsjeer, en toe weer na hulle laer teruggekeer. Dit het die afgelope vyf dae elke dag gebeur, sonder dat die stad aangeval is. In doodse stilte stap hulle elke dag een maal om die stad – eers die soldate, dan sewe priesters met ramshorings, dan volg manne met ’n goue kis op hulle skouers, en dan ’n agterhoede van priesters. Die enigste geluid is dié van die ramshorings wat onophoudelik geblaas word.
Dié vreemde gedrag slaan die stadsvaders en leëraanvoerders dronk. “Ons weet nie wat hulle plan is nie, en daarom weet ons ook nie hoe om ons voor te berei vir die aanval wat beslis nog gaan kom nie,” het een generaal gesê, en bygevoeg: “Toe hulle die eerste keer sonder slag of stoot weer vort is, het die soldate spottend gesê hulle dink seker die mure sal omval as hulle so op die ramshorings blaas, maar nou is dit nie meer snaaks nie. Die manne se moraal word by die dag slegter.”
- Lees hiervan in Jos. 6.
SIMSON DEUR FILISTYNE GEVANG
SORA. – Die stad is in rou gedompel sedert die skoknuus gister hier aangekom het dat die kragman Simson seun van Manoag deur die Filistyne in die Sorekvallei hier naby gevang is. Simson, ’n boorling van Sora, het die Israeliete die afgelope twee dekades gelei, en man-alleen die Filistyne die een nederlaag na die ander toegedien.
Simson was van sy geboorte af aan God gewy. As teken daarvan is sy hare nooit geskeer nie, en het hy dit in sewe lokke gedra. Reeds voor sy geboorte het ’n engel van God aan sy moeder gesê Simson sal ’n besondere man wees en die volk uit die mag van die Filistyne red. Hiervoor het God hom buitengewone krag gegee, wat hy by verskillende geleenthede gebruik het om die vyand te verslaan.
Volgens sy bedroefde moeder is dit onbegryplik dat die Filistyne haar seun kon vang. “Ek kan dit nie verstaan nie. Hulle was almal so bang vir hom. Hy het net na hulle kant toe gekyk, dan slaan hulle op die vlug. Al wat ek kan dink, is dat hulle op die een of ander manier die geheim van sy bonatuurlike krag uitgevind en hom só magteloos gemaak het,” het sy gesê.
Onbevestigde berigte lui dat Simson eergisteraand in die huis van sy vriendin, ene Delila, oorrompel is. Sy oë is blykbaar uitgesteek voordat hy geboei na Gasa gebring is.
- Lees hiervan in Rig. 16:4-22.
God se gawes
Jerigo, die eerste stad op Josua se veroweringslys, is uit ’n menslike oogpunt darem werklik op ’n eienaardige manier ingeneem. Sewe dae lank het die lsraeliete bloot om die stad geloop. Al wat hulle gedoen het, was om te loop terwyl die priesters onophoudelik op ramshorings blaas. Toe die mure van die stad op die sewende dag intuimel, was dit nie van die ramshorings se geblêr óf die manskappe se geskreeu nie. Dit was ’n wonderwerk van Bo.
Dit is die hele punt. Die land Kanaän was die Beloofde Land. Dat Israel daar kon woon, was ’n wonder, ’n gawe van God. Daarom neem hulle nie die eerste stad (en simbolies daarmee ook die hele land) met krygsmag of vernuf in nie, maar op só ’n manier dat daar geen twyfel daaroor kan wees dat God die stad vir hulle gegee het nie. Jerigo moes altyd die teken bly van die feit dat Kanaän ’n gawe Gods is, nie ’n land waarop die lsraeliete ’n reg gehad het nie.
God se gawes is nie iets wat ons kan besit in die sin dat ons daaroor volledig beskikkingsreg kry nie. Dit bly steeds gawes wat in afhanklikheid van God telkens weer ontvang moet word. Dit het Simson op ’n baie duur manier geleer: sy krag was nie ’n gawe waaroor hy na willekeur kon beskik nie. Toe hy wakker skrik, het hy gedink hy sal weer uitstap soos die vorige kere en hom losruk. Maar, sê die Bybelskrywer dan, “hy het nie besef dat die Here hom verlaat het nie” (Rig. 16:20).
Laat ons dan die gawes wat God in sy liefde en genade in oorvloed aan ons skenk, met dankbaarheid geniet, maar ook met verantwoordelikheid teenoor Hom van Wie ons dit ontvang het.
Views: 6