Ek het by my vorige huis ‘n groot avokado-boom in die agterplaas gehad. Hy het baie goed gedra; heerlike fuerti-pere. Ek het my altyd aan dié boom verwonder, want ek het niks gedoen om hom te versorg nie. Ek het nooit gif gespuit nie, of selfs bemesting of water gegee nie. Hy het maar net elke jaar ewe geduldig sy vrugte gedra. Te lekker.
Die pluk van die vrugte is nogal ’n ding. Die avo’s hang nie almal op gemaklike plukhoogte nie. Daarom moet jy óf ’n leer kry, óf in die boom klim, en die takke is soms bedrieglik bros. Menige avokado-plukker (en -dief!) het al daar in die Paarl hard met moeder aarde kennis gemaak. Ek weet van minstens een wat hom dood geval het.
Maar dis nie wat ek wou vertel nie. Ek wou skryf oor die avokado’s. Terwyl ek eenkeer ’n paar akrobatiese toertjies uithaal om van die moeiliker kalante in die hande te kry, tref dit my dat die boom reeds weer vol blomknoppe is vir die volgende jaar se oes. ’n Avokadopeer neem ’n volle jaar om van blom tot ryp vrug te vorder. ’n Volle jaar!
Ek wonder of Paulus aan avo’s gedink het toe hy in Gal 5:22-23 ons geestelike volwassenheid met vrug vergelyk het.
Ons begeer almal die vrug van die Gees in ons lewens; daardie geestelike rypheid wat nodig is om liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing te kan hê en te kan uitleef teenoor ander. Ons bid daarvoor, droom daaroor, en raak ongeduldig omdat ons helaas nie soveel daarvan in ons lewens sien soos ons gehoop het nie.
Maar – vrug vat tyd om te ontwikkel, het ek besef. ’n Volle jaar is nodig voordat ’n avokado wasdom bereik. Met die vrug van die Gees is dit nie anders nie. Dis nie ’n oornag-ding nie. Dis nie iets wat jy vandag vra, en môre het jy dit nie. Dis iets wat moet groei en ontwikkel in jou lewe; wat die sonskyn en die reën en die stormwinde en die koue wat die lewe na ons kant toe laat kom, nodig het om ryp te word.
Toe ek met ’n ryp, uitgeswelde avokadopeer in my hand staan en ek as ’t ware al die heerlike neutbotter-smaak in my mond kon proe, het ek geweet: die lang wag was nie verniet nie.
Ek wonder of die hemelse Landbouer ook met soveel genoegdoening die vrug in mý lewe geniet?
Views: 40