Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.
Jy sal miskien jou wenkbroue optrek oor die feit dat “vrou” hier tussen huis en slaaf, slavin, bees en donkie genoem word. So asof ’n man se vrou ook maar net een van sy besittings is. Jou aanvoeling hieroor sal nie verkeerd wees nie, want in daardie dae wás dit so. ’n Vrou is nie eintlik gereken nie; in elk geval nie as ’n regspersoon nie. G’n wonder nie dat die Jode gebid het: “Dankie dat ek nie ’n heiden is nie, of ’n vrou, of ’n hond nie.” Regtig.
Ons het darem al ’n bietjie gevorder van daardie tyd af. Nie dat daar nie nóg ruimte vir verbetering is nie; maar darem.
Die tiende gebod vra: waaraan hang jy jou hart op? Aan God en sy wil vir jou lewe, of aan jouself en jou eie wil? Is jy tevrede om op God se speelveld en volgens sý reëls te leef, of wil jy jou eie kop volg en jou hart vir jouself hê? Is jy tevrede met die posisie wat jy in die span het, of wil jy graag eerder die kaptein wees wat die spel dikteer? Is jy gelukkig daarmee dat ander óók soms die bal kry, of wil jy die hele tyd sélf die bal in die hand hê?
Hierdie gebod sluit eintlik baie nou by die eerste gebod (Jy mag nie ander gode hê nie) aan. Met Adam en Eva se sonde in die Tuin van Eden sien ’n mens dit mooi. Eva het na die verbode vrugte gekyk en gesien dit is begeerlik omdat dit kennis kan gee (Genesis 3:6). Sy het die vrug begeer terwyl dit nie hare was om te neem nie; dit was God s’n. Maar terselfdertyd begeer sy dit omdat sy “soos God” wou wees, soos die Satan haar belieg het. Haar begeerte na die vrug loop daarop uit dat sy God uit die middelpunt van haar lewe uitskuif, want sy wou sélf daar staan. So oortree sy die eerste én die tiende gebod.
Dís die soort begeerte wat in hierdie gebod afgewys word: die selfsugtige drang om alles vir jouself in te palm ten koste van ander. Ander mag nie ’n beter motor, ’n kragtiger rekenaar, ’n duurder jas, ’n mooier kêrel, ’n luukser huis, ’n groter salaris, slimmer kinders – die lysie is eindeloos! – as jy hê nie, anders is jy jaloers. Want jý wil die beste, die grootste, die blinkste hê. Miskien nie in die hele wêreld nie, maar ten minste tussen jou portuurs. Wat vir my die tragiesste van hierdie soort begeerte is, is dat dit dikwels nie die mense met min is wat afgunstig is nie. Dikwels is dit talentvolle mense, vermoënde mense wat nie kan sien dat die son op ’n ander skyn nie. Hoe meer jy het, hoe meer wíl jy hê.
Só ’n houding maak dat daar nie plek vir ander in jou wêreld is nie, en ook nie plek vir God nie; net plek vir jouself. Daarom, as jy eers aan die tiende gebod skuldig is, volg die ander gebooie een vir een: ander se besittings, ander se huwelik, ander se karakter, ander se loopbaan, niks mag in die pad staan van die verwesenliking van jou eie begeertes nie. Dit maak jou ’n ongelukkige, onvergenoegde mens.
’n Gevaarlike lyn om oor te steek, dié.
Nie alle begeertes is sonde nie
Jy sal aanvoel dat hierdie gebod nie álle soort begeertes afwys nie. Daar is ook die regte soort begeerte – die droom om deur harde werk die boonste sport te bereik, die verliefdheid en liggaamlike aangetrokkenheid tot ’n toekomstige lewensmaat, die ideaal om ’n eie huis te besit … Sonder hierdie soort begeertes sou jy niks gehad het nie en nêrens gekom het in die lewe nie. Soos die lidmaat wat ek in ’n vorige gemeente gehad het. Hy het ’n baie nederige werk gehad: hy was ’n stuurjonge by die hof. In daardie dae was sy salaris dieselfde as wat die maatskaplike pensioen was (omtrent R270 per maand). Natuurlik kon hy en sy gesin nie met dié karige geldjie verbykom nie, en die gemeente moes gereeld help om die pot aan die kook te hou. Toe, op ’n dag, kry sy vrou ook werk – as wiegassistent by ’n crèche. Die wonderlikste van alles was dat sy meer as hy gekry het: R320 per maand. Ek was so bly saam met hulle toe ek dit hoor, en ek het al in my gedagtes dié gesin van ons kerk se koslys afgehaal. Maar toe ek ’n maand later by hulle kom, sit die man ewe langbeen op die stoep. Hy het sy werk bedank, want sy vrou verdien dan nou so baie.
Sonder begeertes kom jy nêrens in die lewe nie, maar dit mag nie ten koste van ander wees nie. En jy mag nie jou hart só aan jou begeertes ophang dat dit jou lewe oorheers nie, soos daardie vrou wat so graag Amerika toe wou gaan. Want dan word dit onmoontlik om gelukkig en vervuld in God se wêreld te leef.
Daar is een begeerte waaroor ons nog nie gepraat het nie: die begeerte om God beter te ken, beter lief te hê, beter te dien. “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood,” skryf Paulus in Filippense 3:10,11. Of soos Johannes die Doper in Johannes 3:30 gesê het: “Hy moet meer word, en ek minder.”
Satan, versoekings en Jesus
Dit lyk my die duiwel weet – hoe dan ook anders vir só ’n uitgeslape teenstander? – dat ons begeertes die invalspoort tot al die ander sondes is. Daarom dat hy op dié snaar tokkel in die Tuin van Eden. Dat hy kon slaag in só ’n plek waar die mens omring was met al die seëninge en oorvloed wat God gee, wys jou hoe kwesbaar ons vir verkeerde begeertes is.
Baie later, met Jesus, doen die duiwel dit weer (Matteus 4:1-11). Net – hierdie keer nie waar Jesus omring is deur die oorvloed wat God gee nie, maar waar Hy in die woestyn is, ’n plek as ’t ware gestroop van die seëninge van God, uitgehonger ná veertig dae sonder kos. En Satan se lokaas is weer begeerte. Eers probeer hy, soos met Eva, met iets om te eet. Jesus wás tog baie honger. Maak die klippe brood, sê hy. Stel bietjie daardie Messiaanse mag wat Jy van God gekry het, op die proef. Wys vir almal én vir Jouself wie Jy is. Toe Jesus nie toegee nie, is sy volgende plan dat Jesus van die tempel moet afspring. Só sal Hy God dwing om in te gryp en Hom te bewaar. Dan is God in Jesus se diens. Weer weier Jesus. Die derde versoeking lê weer baie sterk op die terrein van begeerte: koningskap oor al die nasies van die aarde. Praat van ambisie!
Jesus weier konsekwent om die speelveld van God te verlaat. Hy hou vas aan God se Woord, die Bybel, en só oorwin Hy Satan en sy versoekings, en wys Hy vir jou en my hoe ons óók die duiwel en sy lis kan oorwin. En uiteindelik kry Hy al die goed wat die duiwel vir Hom belowe het, en baie meer. Hy kry nie net brood om te eet nie; Hy wórd die Brood van die Lewe (Johannes 6:35) wat baie ander voed. Hy word nie net in tydelike gevaar bewaar nie; Hy word uit die smarte van die dood verlos (Handelinge 2:24). En nie net die nasies wat Satan Hom aanbied, aanbid Hom nie; daar kom ’n dag wanneer elke knie voor Hom sal buig en elke tong sal bely: Jesus Christus is Here! (Filippense 2:11).
Speel met oorgawe
Die seëninge wat God gee, is baie meer as dit wat die duiwel ooit kan belowe. Kom draf dan met entoesiasme op en speel die spel van die lewe met oorgawe, en volgens God se reëls. Natuurlik sal dit gebeur dat jy iewers sal uittrap, of selfs ’n geel kaart kan kry. Natuurlik sal dít wat langs die veld gebeur, soms vir jou so aanloklik lyk dat jy lus het om die spel te verlaat. Maar as jy die Kaptein, Jesus Christus, liefhet en Hom gehoorsaam, sal Hy jou elke keer weer help om op die spel te konsentreer en met nuwe ywer te speel, tot die eindfluitjie blaas en die hemelse Skeidsregter ook vir jóú sal sê (Matteus 25:21): “Mooi so! Jy is ’n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal Ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!”
Moenie só op jouself ingestel wees dat jy nie ruimte in jou hart het vir ander nie. Gun ander mense hulle vreugdes en suksesse en wees saam met hulle daaroor bly, want dit is Ek wat dit vir hulle gegee het.
Tekste om aan vas te hou:
1 Tessalonisense 4:5
… julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie.Psalm 40:9
Om u wil te doen, my God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe.Psalm 73:25 (OAV)
Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie.Jeremia 32:40,41
Ek sal ’n blywende verbond met hulle sluit. Ek sal nooit ophou om aan hulle goed te doen nie en Ek sal in hulle die begeerte lê om My te dien en nie van My af weg te draai nie. Ek sal dit geniet om goed te doen aan hulle in my trou; met alles wat Ek is, sal Ek hulle weer in dié land vestig.Matteus 6:33
Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.