Is Israel se god werklik so sterk?
Al. – Die aansien van die invallende Hebreeuse magte het gister ’n gevoelige knou gekry toe die klein stadjie Ai hulle elite-aanvalsmag van die stadspoort af verdryf het. In die daaropvolgende hakkejag het talle Israeliete gesneuwel, en het die res die klipskeure ingevlug om die dood te ontkom.
Die nuus van Ai se oorwinning het teen laat gistermiddag reeds die omliggende stede bereik. Die Kanaäniete slaak ’n sug van verligting, omdat die ergste na die slag van Jerigo gevrees is. Stories van ’n onoorwinlike god wat vir hulle veg, is uit alle oorde gehoor. Gelukkig lyk dit nou of dié stories net ’n propagandaset van die Israeliete was.
Die gevaar is waarskynlik nog lank nie verby nie, maar na die slag van Ai het die konings van suidelike Kanaän nuwe moed om die invallers te keer. Berigte uit die Hebreeuse kamp dui juis daarop dat die Israeliete se moed gebreek is. Indien die konings nou saamstaan en vinnig toeslaan, kan hulle dalk vir goed van die invallers ontslae raak. ’n Spitsberaad om hieraan gestalte te gee, is vir môremiddag in Jerusalem belê tussen die Amoritiese konings Adoni-Sedek van Jerusalem, Hoham van Hebron, Piram van Jarmut, Jafia van Lakis en Debir van Eglon.
- Lees alles hiervan in Jos. 7.
ISRAEL VIER DIE EERSTE KEER DIE GROOT VERSOENDAG
SINAIBERG. – Die Israeliete het gister met gewyde erns, maar ook met groot dankbaarheid, die eerste keer die Groot Versoendag gevier. Tydens die fees is die volk met behulp van verskeie offerhandelinge van hulle sondes gereinig, sodat hulle sonder die skuldlas van hulle sonde voor hulle God kan lewe.
By navraag het Moses, hulle leier, gesê die fees sal voortaan ’n jaarlikse instelling wees en elke jaar op die 10de van die maand Tisri gevier word. Dit is die enigste dag van die jaar waarop die hoëpriester die allerheiligste deel van die tabernakel mag ingaan om in die direkte teenwoordigheid van God te verskyn.
Die fees het vroegdag begin toe hoëpriester Aäron ’n jong bul geoffer het om sy eie sonde en dié van al die priesters te versoen. Met die bloed van die bul het hy toe alleen agter die voorhangsel ingegaan na die Allerheiligste. Daar het hy die bloed op die versoendeksel wat bo-oor die verbondsark is, gesprinkel.
Nadat Aäron só van sy eie sondes gereinig is, het hy uitgekom om ook vir die volk se sonde versoening te doen. Daarvoor is twee bokramme na hom gebring: een bok vir die Here, en een vir Asasel. Die bokram vir die Here het hy eerste geoffer, en ook dié bloed die Allerheiligste ingeneem om namens die volk vir hulle sonde by God in te tree. Daarna het hy van die bloed ook op die altaar gesprinkel. Toe is die lewende bok, die een vir Asasel, na hom gebring. Hy het sy twee hande op die bok se kop gelê en al die oortredinge en opstandigheid en sondes van die Israeliete daar bo-oor die bok bely. So het hy die volk se sondes na die bok oorgedra. Daarna is die bok die woestyn ingejaag, sodat die sondes van die Israeliete uit die laer verdryf kon word.
Een van die ou Israeliete het namens almal gepraat toe hy teenoor Die Bybelkoerant opgemerk het: “Na vandag sal ek nooit weer dieselfde oor sonde dink nie. Ek besef nou eers watter gruwel my sonde vir God moet wees. Hoe wonderlik om daarvan ontslae te kan wees!”
- Lees van die reëlings rondom die Groot Versoendag in Lev. 16.
Wie’s die sondebok?
Toe die Israeliete deur Ai verslaan is, soek Josua iemand om vir die neerlaag te blameer. En, soos helaas so dikwels gebeur, is God die een wat die skuld kry: “Ag, Here, waarom het U eintlik hierdie volk oor die Jordaan gebring? Om ons in die mag van die Amoriete oor te gee dat hulle ons kan uitroei?” (Jos. 7:7). Sedert die heel eerste sonde in Eden is dit immers die mens se taktiek – soek die sondaar elders, sodat jy sonder blaam kan wees. Adam beskuldig Eva, en kom in die proses sommer vir God ook by: “Dis die vrou wat U my gegee het, se skuld” (vgl. Gen. 3:12).
In die handelinge rondom die Groot Versoendag wys God sy volk ’n ander manier om van die sondeskuld ontslae te raak: juis deur die erkenning van hulle eie sonde. Ons gebruik vandag sondebokke om daarmee te sê: daardie een is die oorsaak van die probleem; ek is onskuldig. Met die sondebok van Lev. 16 sê die volk egter: “Ons is skuldig.” Daarom moes Aäron sy twee hande op die kop van die bok lê en “ál die oortredinge en opstandigheid, al die sondes van die Israeliete daar bo-oor die bok bely” (Lev. 16:21).
Om vir ander – en selfs vir God! – die blaam te gee, neem nie jou eie skuld weg nie. Dis eers wanneer jy in gebrokenheid staan voor die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh. 1:29), dat jy waarlik vry word.