Israel sluit historiese verdrag met Gibeon

GILGAL. – Dit was ’n gebeurtenis van besondere historiese belang toe Josua ben Nun laat gistermiddag namens die Israeliete ’n nie-aanvalsverdrag met die leiers van Gibeon gesluit het.

In ’n perskonferensie net na die ondertekening het Josua gesê hy beskou hierdie verdrag as besonder betekenisvol, omdat dit die eerste tree op die pad van internasionale betrekkinge vir sy jong volk is. Hy het daarop gewys dat die Israeliete nog vir hulle ’n eie plek en identiteit in die internasionale gemeenskap sal moet vind, en sy dank uitgespreek teenoor die leiers van Gibeon vir die hand van vriendskap wat hulle na die Israeliete uitgesteek het.

Die Gibeoniete was merkbaar verlig nadat die verdrag onderteken is. Hulle leier het gesê hulle het van die roem van die Israeliete se God en hulle ongelooflike krygsvernuf gehoor en besluit om al die pad van hulle land af te kom om die verdrag te kom sluit. Hy het skertsend afgesluit en gesê al is hulle nie ’n nabygeleë buurland wat dalk in die Israeliete se pad kan beland nie, wou hulle nie kanse vat nie. “Liewer bang Jan as dooie Jan,” het hy onder luide toejuiging gesê.

Teen druktyd gisteraand kon Die Bybelkoerant nog nie vasstel presies waar Gibeon geleë is nie. Daar is wel ’n stad Gibeon ongeveer 20 km wes van Gilgal, maar klaarblyklik is dít nie die Gibeon met wie die verdrag gesluit is nie.

  • Lees van hierdie puik stukkie bedrog in Jos. 9.

STAATSGREEP IN ISRAEL

JERUSALEM. – Dawid seun van Isai en sy hele hofhouding het gister in aller yl uit die hoofstad gevlug. Daardeur het hy toegegee dat sy seun Absalom se staatsgreep hom van sy troon gestoot het.

Absalom het vier jaar lank aan die staatsgreep beplan deur op onbeskaamde wyse die volk teen sy vader op te sweep met leuens en valse beloftes. Vandeesweek het hy na Hebron vertrek onder die voorwendsel dat hy daar gaan offer. Daar het hy homself egter tot koning uitgeroep, en die hele volk agter hom verenig.

Dit was ’n hartseer prosessie wat gister die Dawidstad verlaat het. Getroue volgelinge van Dawid het soos klein kindertjies gehuil toe hulle saam met hulle geliefde koning die Olyfberg uitgeklim het. Of hulle weer die prag van Jerusalem sal sien, sal net die tyd leer.

Groot groep ballinge terug uit Babel

JERUSALEM. – ’n Groot groep ballinge onder leiding van die priester Esra het vandeesweek, na ’n reis van vier maande, uit Babel hier aangekom. Hulle het ook twee en twintig ton silwer, drie en ’n half ton goud, en verskeie ander artikels saamgebring, alles geskenk deur koning Artasasta en sy amptenare, vir gebruik in die tempel.

Esra het in Babel bekendheid verwerf vir sy deeglike kennis van die Skrif. Hy het volmag van koning Artasasta ontvang om al die nodige te doen om die godsdienstige lewe van die Jode weer op die regte pad te plaas. Hy het ook uitgebreide magte ontvang om die tempeldiens te reël en die gemeenskapslewe reg te ruk. Godsdienstige leiers hier is baie opgewonde oor sy koms, en het die hoop uitgespreek dat hy die stad sal regruk. Dit is bekend dat die tempeldiens en ook die godsdienstige lewe van die Jode veel te wense oorlaat.


Afhanklikheid van God

Met een enkele sin vee die Bybelskrywer Josua en die Israelitiese leiers se staatsmanskap van die tafel: “Die Israeliete het na die padkos gekyk, maar nie die Here geraadpleeg nie (Jos. 9:14). Geen wonder nie dat die Gibeoniete hulle so lekker uitvang. ’n Mens wil amper uitroep: Kan dit waar wees? En tog gebeur dit – vandag nog!

Die diepe afhanklikheid van God waarmee Esra sy terugreis na Jerusalem aanpak, vorm hiermee ’n skril kontras. Ook Dawid, wat met die grootste haas alles wat vir hom lief en dierbaar was, moes agterlaat en vlug, doen dit nie sonder gebed nie. So sien ons hom op sy knieë op die Olyfberg; máák hy tyd om God se leiding te soek. Esra en Dawid het verstaan wat die Spreukedigter (3:5,6) sê: “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.”

Kom ons pak hierdie dag met al sy uitdagings en sy sleur ook só aan, terwyl ons die woorde van Jak. 1:5 in gedagte hou: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.”

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings