Luk 12:32-40 Wees gereed, want Jesus kom weer

Toe ek nog op skool was – dit was seker min of meer ’n leeftyd gelede! – was my pa ’n burgermagkapelaan. Dit was aan die begin van die grensoorlog daar in die noorde van die destydse Suidwes-Afrika. En toe, op ’n dag, kry hy oproepinstruksies, en is hy weg grens toe. Weke lank. Ons het die dae afgetel, en kon nie wag dat hy moet terugkom nie. En toe hy uiteindelik weer by die huis kom, was dit wonderlik.

Ek is seker baie van u het ook sulke stories om te vertel, van ’n geliefde wat weg moes gaan, van julle verlange, van die blydskap met die tuiskoms.

Ek wonder nogal wat my pa sou gedink het as ons nie by die huis was toe hy teruggekom het nie. As ons besluit het om te gaan vakansie hou, of so. En daar kom hy aan, met sy arms vol presente wat hy vir ons gekoop het, en hy staan voor dooiemansdeur! Hoe sal jý voel as dit met jou moet gebeur?

Jesus sê Hy kom weer, en ons moet op Hom wag. Kan ek vra: wag jy op die Here se terugkoms? Maak dit jou opgewonde? Is dit ’n gebeurtenis waarna jy uitsien? Of maak dit jou bang en onseker? Of dink jy liewer glad nie daaroor nie?

As ek Jesus reg verstaan, is dit nogal ’n belangrike vraag. Want die wederkoms is ’n realiteit. Jesus kom weer. En Hy kan enige oomblik weer kom. Daaroor is die Bybel óók baie duidelik.

Die vraag is nou: wat moet ons met dié feit maak?

Die Nederlandse teoloog Okke Jager het ’n gediggie hieroor geskryf wat ek vry vertaal het:

“Kom haastig Jesus,” bid die predikant.
“Ja amen,” sê die een boer, “kom tog gou! Maar eers ná oestyd, want ek het nog nie ’n oes op my nuwe stuk land beleef nie.”
“Ja amen,” sê ’n vrou, “maar mag ek eers vir die rok spaar wat ek gister gesien het? Ek wil dit aantrek wanneer die koor weer sing.”
“Ja amen,” sê die kind, “maar nie nou al nie, want ons gaan see toe vir die vakansie. Maar ek sal U laat weet, sodat U ons onder skooltyd kom verlos.”
“Kom haastig, Jesus!” bid die predikant, “Maar mag ek eers my nuwe lesing gee wat ek vir die jeug gemaak het oor: ‘Jy sal alles goed verstaan ná die wederkoms.’”
Die gebede kom in die hemel aan. Die engele swyg as hulle die gebede bring, en Jesus vra: “Kan Ek al vandag gaan?”
Sy Vader sug: “Jy sal maar moet nog wag.”

Jesus sê in die gelykenis wat ons gelees het ons moet gereed wees, want Hy kan enige oomblik weer kom. Hy waarsku ons dat Hy onverwags gaan kom, en as ons dan nie gereed is nie, het ons probleme. Die vraag is: Hoe? Hoe moet ons gereed wees? Wat moet ons doen om gereed te wees? Waarin lê die wakkerbly waarvan Jesus praat?

Om te wag en gereed te wees vir Christus se wederkoms beteken nie om ons oë heeldag op die wolke te hou sodat ons Hom kan sien wanneer Hy kom nie. Dis in elk geval onnodig. Jesus het gesê sy wederkoms sal so sigbaar en onmiskenbaar wees soos weerlig wat die hele hemelruim verlig. Ons sal dit weet sonder dat ons op daardie oomblik gekyk het (Luk 17:24).

Die antwoord kry ons in die woorde wat die Here Jesus gesê het net voordat Hy oor die wederkoms praat. Daar het Hy gepraat oor die sorge van die lewe, en ’n lewe waarin jy leef uit God se sorg. Die lewe is belangriker as kos en klere, sê Hy in vers 23. Daarom moet ons nie ons lewe daaraan wy om goed bymekaar te maak nie.

Ons moet ons lewe daaraan wy om besig te wees in sy koninkryk, sê Jesus. In vers 31 sê Hy: Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee. Hy gaan so ver as om ons aan te raai om ons besittings te verkoop en bydraes vir die armes te gee, want ons besittings kan ’n struikelblok word in ons lewe voor Hom en ons wag op sy koms.

Dit vra dat ons ons oë van ons goed sal wegtrek en die mense om ons sal raaksien. ’n Mens wat ontdek het dat God die koninkryk aan hom geskenk het (vers 32!) is iemand wat weet dat hy alles van God gekry het. Daarom hoef hy nie so krampagtig besig te wees om op te gaar vir ’n reëndag nie – God sal op die reëndae vir hom sorg – hy hoef nie net aan homself te dink nie; hy kan aan ander dink en ander in hulle nood help.

’n Mens kan baie maklik erg intellektueel oor geloof praat, maar geloof is ’n baie praktiese saak. Dis ’n lewenswyse. Geloof beteken nie net dat jy verstaan dat die Here Jesus vir jou op Golgota kom sterf het nie. Geloof beteken óók dat jy verstaan dat die Here Jesus jou stuur na die wêreld in nood, na die mense om ons, die armes, die eensames, die treurendes, die siekes, sodat sy sorg deur ons ook by hulle kan uitkom.

Dán sal ons gereed wees as Hy weer kom. Dán sal ons ook hoor: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, gaan in in die vreugde van jou Heer. Want Ek was honger, en jy het vir My iets gegee om te eet; Ek was dors, en jy het vir My iets gegee om te drink; sonder klere, en jy het vir my iets gegee om aan te trek, siek, en julle het My besoek … (vgl Matt 25:31 ev).

Die vraag is nie net of ons glo dat die Here eendag weer gaan kom nie. Die vraag is ook of ons op sy koms wag, en veral wat ons doen terwyl ons wag. Ons is waaksaam as ons besig is om in die Here se koninkryk te werk. Gelukkig is hulle vir wie Hy wakker sal aantref as Hy kom.

Amen

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar