SIGEM. – Die Israeliete, wat die land Kanaän onlangs uit die suide ingeval het, het gister hier by ’n groot volkskongres die huidige stand van sake in oënskou geneem. Die verskillende stamme het elkeen kom verslag doen oor die vordering wat daar gemaak is om die land in besit te neem.
Na afloop van die kongres was die volksleiers dit eens dat hulle rede het om tevrede te voel met die vordering wat tot dusver gemaak is. Almal het egter ook saamgestem dat daar nog harde werk voorlê. Al die stamme het berig dat hulle, ondanks talle welslae, onsuksesvol was om die Kanaäniete geheel en al te verdryf.
Die groot vraag wat die kongres moes beantwoord, is wat om in hierdie situasie te doen. Party afgevaardigdes het sterk standpunt ingeneem teen enige vorm van samewerking met die Kanaäniete wat nog nie verdryf is nie. Hulle het geargumenteer dat die ou inwoners van die land voortdurend ’n gevaar sal inhou en daarom uitgewis of verdryf moet word. Die mense wat so gevoel het, was egter in die minderheid. Die meerderheid kongreslede het besluit dat daar sover moontlik met die ou inwoners van die land verdrae gesluit moet word, sodat daar vrede kan kom en die Israeliete hulle aandag kan wy aan die belangrike vestigingsfase waarin die volk nou inbeweeg.
- Lees hiervan in Rig. 1. Kyk ook na die haglike situasie in Rig. 2:1-10.
SPANNING IN PALEIS BEREIK BREEKPUNT; DAWID VLUG IN NAG
GIBEA. – Kaptein Dawid ben Isai het verlede nag ternouernood aan die dood ontkom toe hy met behulp van sy vrou, prinses Mikal, daarin geslaag het om uit die paleis te ontsnap. Koning Saul het vroeër die dag ’n aanslag op sy lewe gemaak. ’n Lasbrief is vanoggend vir sy inhegtenisneming uitgereik.
Dawid het die afgelope tyd astronomiese opgang in die leër gemaak. Sy lang reeks suksesvolle veldtogte teen veral die Filistyne het begin met die heldhaftige oorwinning oor die reus Goliat. Sedertdien het hy van krag tot krag gegaan, en as erkenning hiervoor het koning Saul sy dogter Mikal aan hom as vrou gegee.
Dit blyk egter nou dat die koning vrees dat sy nuwe skoonseun se gewildheid ’n bedreiging vir sy eie posisie as eerste burger van die land inhou. Dit het verhoudinge tussen hom en sy skoonseun versuur.
Ondertussen het meer besonderhede oor Dawid se ontsnapping bekend geraak. Volgens ’n amptenaar van die paleis het Mikal opgemerk dat haar pa wagte voor hulle deur opgestel het om te keer dat Dawid ontsnap. Sy het haar man toe met ’n mandjie deur die venster laat afsak, sodat hy kon wegkom. Toe het sy haar afgodsbeeld in Dawid se bed gesit en met komberse toegemaak sodat dit lyk of hy slaap.
Toe die koning se mense Dawid kom soek, het sy gesê hy is siek, en só waardevolle tyd gewen. Teen die tyd dat koning Saul haar stukkie bedrog ontbloot het, was Dawid veilig. Die koning was glo woedend vir sy dogter, maar sy het haar verweer deur te sê Dawid het haar met die dood gedreig as sy hom nie help nie.
Dis nie bekend waar Dawid hom tans bevind nie.
- Lees van dié stormagtige tyd in Dawid se lewe in 1 Sam. 19.
Ook die klein besluite tel
’n Mens wonder dikwels: waar het dinge dan verkeerd geloop dat dit só geëindig het? Waar het lsrael dan verkeerd gegaan dat hulle uiteindelik in ballingskap weggevoer is en hulle onafhanklike bestaan as Godsvolk in Palestina verloor het? Waar het dit dan met Saul verkeerd geloop dat God hom later as koning verwerp het?
Die antwoord op hierdie vrae is meestal nie so dramaties soos die uiteinde nie. Israel het nie op ’n mooi oggend wakker geword en ontdek hulle is op die punt om as volk tot niet te gaan nie. Saul het nie een middag van sy etenstafel af opgestaan en besluit om sy rug op God te draai nie. Die waarheid is dat ’n rampspoedige einde dikwels die gevolg is van ’n lang geskiedenis van (klein) verkeerde besluite. Besluite wat aanvanklik nie so groot lyk nie. Later blyk dit egter die begin van die einde te wees.
In Rig. 1 en 2 sien ons die begin van lsrael se einde: hulle verdryf nie die Kanaäniete nie, maar sluit bondgenootskappe met hulle. Uiteindelik sou die Kanaänitiese afgode ’n spyker in lsrael se doodskis word. Maar amper erger is die opmerking in 2:10: “… die volgende geslag se mense het nie die Here geken nie. Hulle het ook nie geweet van sy groot dade wat Hy gedoen het om vir lsrael te help nie.” Binne een geslag sterf die geloof uit, omdat die Here nie ’n werklikheid in die gesinslewe was nie. Die kinders het niks van Hom geweet nie!
Dit was ook waar Saul se probleem begin het: hy het in sy huis God én afgode gedien. Waarom anders sou Mikal ’n afgodsbeeld byderhand hê?
Jou lewe en (klein) beslissings vandag is bepalend vir die toekoms. Leef dan vandag en besluit vandag in biddende afhanklikheid van God!