Ons ken hierdie gelykenis as die gelykenis van die verlore seun, en dan praat ons oor hoe die seun ondankbaar was en sy pa se goed uitgemors het totdat hyself in die gemors beland het, en daar tussen die varke tot inkeer gekom het. Ons gebruik hierdie gelykenis om oor bekering te praat.

Maar eintlik val die klem van hierdie gelykenis nie op die verlore seun nie, maar op die pa. ’n Mens sien dit mooi as jy dit saam met die ander twee gelykenisse lees – die gelykenisse van die verlore skaap en die verlore muntstuk. Daar val die klem tog nie op die skaap of die muntstuk nie, maar op die een wat die skaap of die muntstuk verloor het, en soek tot dit gevind is, en dan baie bly is.

Al drie hierdie gelykenisse wil vir ons ’n kykie in die hart van God gee, sodat ons kan sien hoe Hy voel oor mense, sodat ons met sý oë na ander kan begin kyk, met sý hart kan begin voel; sodat ons kan verstaan wat God bly maak. Jesus vertel hierdie gelykenisse, sê vers 1 en 2, omdat daar mense was wat ontevrede was oor Jesus aandag gegee het aan tollenaars en sondaars. Want vir hulle gevoel was dié mense nie ’n ordentlike mens se aandag werd nie. Jy steur jou nie aan dié soort robbies-mense nie.

Maar dit is nie hoe Jesus – hoe Gód – dink nie. Daarom vertel Jesus hierdie drie gelykenisse, sodat ons kan hoor hoe God dink. En al drie gelykenisse gaan oor een en dieselfde saak: Oor die blydskap van God. Jesus vertel vir die beswaardes wat dit is wat God bly maak. Kom ons lees dit:

Lukas 15:5-7
En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers. As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.’ Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.”

Lukas 15:9-10
En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: ‘Wees saam met my bly, want ek het my geld wat weggeraak het, weer gekry.’ Ek sê vir julle: Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”

Lukas 15:22-24
Maar sy pa roep sy werksmense: ‘Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom ’n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan! En bring die vetgemaakte kalf, slag hom, en laat ons eet en feesvier! Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry.’ Toe het hulle begin feesvier.

Lukas 15:31-32
“Toe sê die pa vir hom: Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune. Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry.”

Julle sien – in hierdie gelykenisse gaan dit om die vreugde in die hemel, die vreugde van God. Die gelykenis van die verlore seun gaan nie om die seun nie, maar om die vader, om die Vader met ’n hoofletter, om die hart van die Vader, om die vreugde in die hart van God oor verlorenes en verworpenes wat weer gevind is as kinders en broers en susters!

Hoekom vertel Jesus hierdie gelykenis? Omdat daar mense is, en veral ook mense in die kerk, wie se hart nie soos God s’n klop nie; wat nie hou van die manier waarop God dink oor mense nie.

Kom ons kyk hoe word die vader in die gelykenis geteken:

  • Hy sien die seun al van ver af (vs 20), want hy verlang na sy kind, hy hou gedurig die pad dop, wagtend, verlangend, soekend. Waar is my seun nou? Wat maak hy? Het hy ’n warm bed? Het hy genoeg kos? Is hy veilig?
  • Hy kry sy seun innig jammer (vs 20). Hy verwyt nie of skel nie of beskuldig nie of verstoot nie. Hy sê nie ja, jy wou mos nie hoor nie.
  • Hy hardloop hom tegemoet (vs 20). Dís nie iets wat ’n waardige ryk man in daardie dae gedoen het nie! Dis benede sy waardigheid. Maar hy dink nie wat die mense sal sê nie, want hy is te bly oor sy kind.
  • Hy omhels en soen hom (vs 20)
  • Hy gee vergifnis en aanvaarding, sonder enige straf. Die seun kry nie eens kans om aan te bied dat hy soos ’n dagloner vir hom sal werk nie. Hy trek sy seun aan soos dit ’n seun van die boer betaam, met ’n ring as bewys van sy posisie in die huis (vs 22)
  • Hy reël ’n groot feesmaal (vs 23)

Só is God. Nêrens in die Bybel hoor ons dit duideliker nie. So is God teenoor ons. Hy is begaan oor ons. Ons maak vir Hom saak. Ons hartseer is sý hartseer. Ons verlorenheid en ellende bring Hom in beweging. En Hy verwyt ons nie. Hy aanvaar ons, omhels ons, soen ons. Hy is bly as ons stukkende lewens weer heel word, as ons gelukkig is, as ons by Hom tuis kom. Daar is plek in sy hart vir ons, vir mense in nood en mense wat verstoot is. Daarom stuur Hy sy Seun, en daarom soek sy Seun die tollenaars en sondaars en verstotenes op om hulle te wys hoe God se hart vir hulle klop. Sy genade maak ons, verlore in ons sonde, God se kinders.

God staan jou ook so en inwag soos hierdie pa. Want niks maak sy hart blyer as dat iemand na Hom toe kom nie. Hoe het Jesus nou weer gesê? Die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore is, sodat Hy die verlore mens in sy arms kan toevou, kan intrek in die veilige ruimte van God se sorg.

Daarom kan ons vanoggend in God se teenwoordigheid feesvier. Want niemand is te sleg dat daar nie vir hom of haar plek in God se hart is nie.

Amen.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.