Van ons Ou Testament redaksie
SIGEM. – Josua seun van Nun het gister hier vir oulaas sy mense toegespreek. Hy het verlede maand honderd en tien jaar oud geword.
In sy hartroerende toespraak het hy die volk uitgedaag om te kies wie hulle wil dien: die Here, of die afgode van die Amoriete. Nadat die volk eenparig gekies het om die Here te dien, het hulle plegtig hulle verbond met die Here hernu. ’n Gedenksteen is ook op die plek opgerig.
Josua was as jong man sy voorganger, Moses, se regterhand en dus die natuurlike keuse om Moses op te volg toe hy op die vooraand van die intog in die beloofde land gesterf het.
Hy moes die Israeliete lei in die moeilike jare toe Kanaän ingeneem is en die volk gevestig moes raak in hulle nuwe tuiste. Dít het hy met groot onderskeiding gedoen.
Die Bybelkoerant wou by hom weet wat hy as die hoogtepunt van sy lang loopbaan beskou. “Om getuie te wees van al die wonders wat die Here gedoen het, was ’n heerlike ervaring,” het dié godsman geantwoord. “Maar die besliste hoogtepunt was vir my die genade dat die volk hier in die nuwe land te midde van baie versoekings aan die Here getrou gebly het.”
- Lees Josua se hartroerende afskeidsadres in Jos. 24.
SEUN VERMIS; NA DRIE DAE IN TEMPEL GEVIND
Van ons Nuwe Testament redaksie
JERUSALEM. – ’n Jong seun van twaalf, wat vanjaar vir die eerste keer die Paasfees saam met sy ouers kom bywoon het, het só verdiep geraak in sy gesprekke met die skrifgeleerdes dat hy skoon uit sy ouers geraak het.
Dié jong knaap is Jesus, seun van Josef en Maria van Nasaret. Na afloop van die Paasfees kon sy ouers hom nêrens kry nie. Hulle het aangeneem dat hy met die reisgeselskap saam teruggegaan het. Toe hulle die volgende dag die geselskap inhaal, was hy egter nie by hulle nie. Hulle moes noodgedwonge terugdraai om hom te gaan soek. Eers drie dae later, rasend van bekommernis, het hulle hom gekry waar hy ewe rustig tussen die geleerdes in die tempel sit en na hulle luister en hulle uitvra!
Die geleerdes was verstom oor die seun se kennis en insig in die geloofswaarhede van die Skrif. “Hy gaan dit nog ver bring,” het ’n rabbi voorspel.
- Lees hiervan in Luk. 2:41-52.
PERSOONLIK
Job se sewe seuns en drie dogters hou vanaand weer een van hulle groot partytjies in die oudste broer se huis.
Môreoggend vroeg sal hulle dan as gesin weer die gebruiklike brandoffer aan God gebring.
- Lees hiervan in Job 1:1-5.
Ek en my huis
’n Vrou het só gereageer toe ek haar konfronteer oor die feit dat haar kinders nie in die Sondagskool is nie: “Ek wil nie oor die geloof vir my kinders besluit nie. Wanneer hulle oud genoeg is, moet hulle self besluit of hulle wil glo of nie. Daarom gaan ek hulle nie na enige kant toe beïnvloed nie.”
Dit klink baie mooi, maar in werklikheid het sy klaar vir hulle besluit. Sy het vir hulle besluit dat godsdiens nie die moeite werd is nie. Daarom kan hulle dit gerus maar los as hulle so voel.
Josua het anders oor die saak gedink. Onomwonde sê hy vir die Israeliete in sy afskeidsrede (Jos. 24:15): “Kies dan vandag wie julle wil dien … Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.” Ook Job beoefen nie sy geloof sonder om sy kinders daarby te betrek nie. Want geloof is nie net ’n indiwiduele saak nie, dis ook iets wat gemeenskaplik beoefen moet word, en in besonder in die gesinslewe ’n plek moet kry.
Huisgodsdiens
Daarom dat die geloofsgemeenskap rondom huisgodsdiens so ’n belangrike vormende invloed in die geloofslewe van ons kinders het. Want daar waar die gesin rondom die Bybel vergader en saam oor die wil van God vir hulle lewe besin, waar hulle beleef hoedat Pa en Ma saam met hulle en vir hulle en vir die wêreld bid, daar begin hulle geloof prakties betekenis kry.
Dit het die vrome ouers van die kind Jesus besef. Daarom dat hulle Hom saamneem na die Paasfees, dat Hy deel mag hê aan die opwindende ervaring om elke dag voor God te lewe.
Maak tog jou kind deel van jou geloofslewe – vandag nog. Beleef saam met hom die fees om God te ontmoet in sy huis, stel belang in sy kategesewerk. Moenie tevrede wees dat ander jou kind se geestelike vorming alleen hanteer nie. Dit is jou dure plig, maar dit is ook jou ongelooflike voorreg om deel te mag hê aan jou kind se geloofsgroei. Hoe heerlik om só aan God se koninkryk te mag bou!