Ek lees anderdag ‘n aangrypende woord Jeremia 4:22: My volk tree dwaas op, hulle erken My nie, hulle is moedswillige kinders, sonder enige begrip van wat Ek doen. Hulle is net slim as dit kom by verkeerd-doen, van goed-doen wil hulle niks weet nie.
Dié uitspraak van God het my laat wonder. Hoe sou die Here vandag oor ons oordeel? Weet ons genoeg van goed-doen?
Op een of ander manier het ons dit in die NG Kerk iewers gemis. Vir baie jare het ons ’n steriele evangelie verkondig. Al wat jy moet doen om gered te word – so het ons gedink – is om te bely dat Jesus jou persoonlike Verlosser is. Dan is jou saak reg. Natuurlik het ons ook gepraat van goeie dade en liefde vir die naaste en al daardie mooi-klinkende goed, maar ons hart was nie daarin nie. Die kerk het dit nooit van lidmate verwag nie (en verwag dit selfs nou nog nie); dit was as ’t ware opsioneel vir ’n paar yweriges. En as ander kerke baie klem gelê het op die nood van armes en maatskaplike euwels en so aan, het ons half neerhalend gesê hulle is met ’n “social gospel” besig, so asof húlle die kat aan die stert beet gehad het.
Vandag kan ek maar net my kop in verbystering skud. Hoe kon ons só verkeerd gedink het oor die eis van die evangelie? Hoe het ons byvoorbeeld die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (Lukas 10:25-37) verstaan? Jesus het daar immers die vraag geantwoord oor wat ons moet doen om die ewige lewe te verkry (Lukas 10:25). As iemand in die NG Kerk dié vraag sou gevra het, sou die antwoord sonder huiwering gekom het: jy moet glo dat Jesus vir jou sondes op Golgota betaal het. Dis natuurlik nie verkeerd nie, maar Jesus sou byvoeg: En dan moet jy Hom navolg in goed-doen aan ander, soos die Samaritaan. Want as Jesus se verbintenis aan ’n verlore-gaande wêreld net by ’n belydenis gebly het …
Goed-doen, uitreik na ander – dit is die hart van die evangelie en ’n onlosmaaklike deel van ons geloofslewe. Daarsonder, sê Jakobus in sy brief (2:26), is ons geloof morsdood. Dít is immers die dinge waarna Jesus eendag by die Groot Oordeelsdag sal kyk (lees gerus weer Matteus 25:31 en verder).
Gelukkig dink en lyk die kerk nie meer soos 30, 40 jaar gelede nie. Baie het verander; ook ons verstaan van geloof. Maar ek vermoed dat ons nog ’n hele entjie het om te vorder voordat goed-doen ’n integrale deel van die NG Kerk se DNS sal wees.
Views: 14